R90 000 te wen in Radiodrama-kompetisie


RSG en Sanlam Radiodrama-skryfkompetisie vier vanjaar sy mondigwording met R30 000 in bykomende prysgeld. Die wendrama sal vanjaar R35 000 ontvang, terwyl die tweede en derde plek met prysgeld van onderskeidelik R25 000 en R15 000 bekroon sal word. En die Jong Skrywer (jonger as 30 jaar) sal ook R15 000 ontvang.

Die totale prysgeld was verlede jaar R60 000, maar is nou tot R90 000 verhoog om die top Afrikaanse dramatekste vir radio te bekroon. Buiten die prysgeld word die wendramas ook op RSG uitgesaai.

Die sluitingsdatum is Vrydag 30 Junie. So opskud en sleep sommer nou die sleutelbord nader!

Laai die RSG-RADIODRAMA-HANDLEIDING-2017 hier af.

Luister na ‘n virtuele radiodrama-slypskool, aangebied deur RSG se uitvoerende regisseur: drama, Kobus Burger: www.rsg.co.za/images/upload/sound/klanke/20130509_RADIODRAMASLYPSKOOL.mp3

Lees artikel in radiodramaformaat oor RSG se radiodramaslypskool by die Suidoosterfees:
www.litnet.co.za/Article/suidoosterfees-2014-radiodrama-slypskool-in-samewerking-met-rsg

SKRYFWENK 1
Hoe werk ‘n storie?
(verwerk uit: Eendag was daar ‘n storie deur Martie Preller, Tafelberg-uitgewers, 2003)

Mens kan sê enige storie bestaan uit: ‘n idee, karakters, milieu en die storielyn.

Maar hierdie vier “aspekte” is natuurlik totaal en al verweef in die storie. Die een beïnvloed die ander. Dis dus amper soos roereiers (net met meer bestanddele as geel en wit), en jy, as die skrywer, is die “onsigbare” medium waardeur hulle een word.

Ons begin by die Idee, wat oorloop in die Karakter(s), wat weer lei tot die Storielyn. Maar: soms begin ‘n storie by ‘n karakter (met ander woorde: karakter – idée – storielyn) of by ‘n storielyn (met ander woorde: storielyn – idée – karakter).

Wat is ‘n idee?
Dis net so ‘n vae plannetjie wat in jou kop ronddryf, soos ‘n wolkie wat aanmekaar van vorm verander, maar daar is iets. Om byvoorbeeld te skryf oor ‘n skrywer wat nie kan skryf nie – dis ‘n idée. Wonderlik! Kry vir jou ‘n bykomende ideeboekie, as jy wil, en skryf hom neer.

Hoe meer idees, hoe beter!

SKRYFWENK 2
Waar kry ek ‘n idee of storie vir ‘n radiodrama?

Dit is ‘n algemene struikelblok vir talle skrywers: waaroor skryf ek? Of: waar kry ek ‘n idee? Die waarheid is egter dat daar orals stories is. Rondom ons. En binne-in ons. Einstein was verkeerd! Om die digter Muriel Rukeyser aan te haal: “The world is made up of stories, not atoms.”

Maar niemand wil na ‘n skoon bladsy of flikkerende rekenaarskerm staar nie. ‘n Skrywer wil tog bladsye vul. En in die geval van ‘n radiodrama-skrywer, moet daar sowat 40 of 50 bladsye met storie wees.

Natalie Goldberg skryf in Writing Down the Bones: “The blank page can be intimidating, and it does get boring to write over and over again for ten minutes of practice, ‘I can’t think of what to say. I can’t think of what to say.’ It is a good idea to have a (…) notebook where you jot down, as they come to you, ideas of topics to write about. It could be a line you heard. (…) It could be a flash of memory: your grandfather’s false teeth; how the lilacs smelled last June when you weren’t there; who you were in your saddle shoes at eight years old. It could be anything. Add to the list anytime you think of something.”

William Oosthuizen, die 2012-wenner van die RSG Sanlam Radiodrama-skryfkompetisie, sê hy het die idee vir sy wendrama, Ons gaan huis toe, gekry toe hy ‘n nuusberig op RSG gehoor het. ‘n Kort nuusberig het aan hom sy storie-idee en karakter(s) gebied.

SKRYFWENK 3
Ken jou onderwerp
deur Bettie Kemp

Maak baie seker dat jy die tema wat jy in jou radiodrama gaan gebruik, soos die palm van jou hand ken. Dat jy dit sélf beleef het of eerstehandse kennis daarvan het. Dat jy een honderd present vertroud is met die woordeskat, uitdrukkings, (sub)kultuur en veral die karakters wat deel is van daardie wệreld.

Dit is ‘n heerlike versoeking om ’n tema te gebruik wat nog altyd geromantsieer of geïdealiseer is. Met ‘n paar vinnige Google-draaie voel jy gereed om daardie nuwe wệreld “oop te skryf.” Dit werk eenvoudig nie so nie. Iewers daarbuite is ‘n luisteraar wat daagliks in daardie wệreld beweeg en binne die eerste toneel word jy uitgevang op (dikwels) klein ongeloofwaardighede. Dit word soms nie in die keuringsproses opgetel nie maar ‘n enkele SMS (in die pers) van ‘n luisteraar kan die storie in jou (en die stasie) se gesig laat ontplof.

En dit gebeur ook op televisie. Jare gelede was daar ‘n gewilde dramareeks, Dokter, Dokter. Een aand sit en kyk ek en ‘n mediese dokter daarna, toe hy uitbars van die lag, opstaan en wegloop. Toe ek vra wat gaan aan, verduidelik hy dat die dokter wat opereer dan tydens die operasie sommer met sy hand die lig bokant die operasietafel verstel sodat hy beter kon sien! Einde van die storie – letterlik – vir die kyker want die reeks het alle geloofwaardigheid vir hom verloor.

SKRYFWENK 4
Wat is ‘n storielyn?
deur Mari Snyman

‘n Goeie wenk is dat ‘n skrywer voordat hy/sy ‘n storie begin vertel, weet wat die einde is. Dit is die ontknoping van die storie en dus die hoogtepunt. Om net te begin skryf en te dink jy sal nog besluit wat die einde is, kortwiek jou vertelling.

Die begin is net so belangrik, want dit is waar jy die luisteraar se aandag trek – soos die Handleiding dan ook tereg aandui.

Verder het ‘n goeie storie altyd ‘n kinkel (“twist”) – iets wat asof uit die bloute gebeur, maar as die luisteraar terugdink aan die gebeure vooraf moet dit duidelik sin maak, m.a.w. dit moet nie ‘n vals kinkel (“red herring”) wees nie, want dit laat die luisteraar met die gevoel dat hy/sy verneuk is aangesien die kinkel by die hare ingesleep is en slegs vals drama skep.

Die beplanning van ‘n storielyn moet liefs vooraf in punte gedoen word. Wanneer ‘n mens die gebeure en hoe hulle op mekaar volg op skrif/rekenaar voor jou sien, kan jy maklik goed rondskuif en besluit dis of nie belangrik en/of maak nie sin nie en moet uitgehaal word, of jy kan daarop verbeter. ‘n Mens kry dikwels ook sekere ingewings op hierdie manier.

Daar kan meer as een storielyn wees wat gelyktydig afspeel, maar dan moet die verskillende storielyne oorvleuel, anders skep dit verwarring.

SKRYFWENK 5
Hoekom wil jy jou storie vertel?
deur Leon van Nierop

Onthou, jy moet altyd ʼn STORIE hê, iets wat jy wil vertel, wat jy met ander mense wil deel. Vra HOEKOM jy die storie wil vertel en hoekom jy ander mense daarvan wil bewus maak?

En dinge moet GEBEUR. Soms uiterlik, soms innerlik, dus wanneer jy die innerlike landskap van jou karakters ondersoek en uitbeeld en kyk hoe die gebeure hulle verander. Maar dinge moet GEBEUR. Daar is niks so sieldodend vervelig op radio as mense wat vir ure lank spekuleer of bespreek of dieselfde inligting tot vervelens toe herhaal nie.

Vind ook uit wat die TEMA van jou storie is. TEMA of PLOT is hoe die GEBEURE in jou storie mekaar opvolg en ʼn impak het op die hoofkarakter(s), dus die verhaalverloop. Dramatiese aksie verander jou karakter(s) en dit is hierdie verandering of progressie wat betekenis aan jou storie gee.

Onthou ook dat PLOT die volgende elemente moet bevat: ʼn Karakter se emosionele ontwikkeling, dramatiese aksie (natuurlik ook innerlik) en tematiese betekenis.

SKRYFWENK 6
Hoe behou jy die luisteraar se aandag?
deur Evert Snyman

In enige storievertelling moet die luisteraar die hele tyd wonder wat gaan gebeur: wat is volgende? Om dit reg te kry, moet die skrywer presies weet waarheen sy storie gaan. Dit skakel in by goeie beplanning.

As ‘n skrywer weet wat hy later in die storie wil onthul, kan hy/sy subtiel goed “plant”. Die oplettende luisteraar sal begin raai wat gaan gebeur. En wanneer hy/sy dan reg raai, voel die persoon amper op ‘n manier asof hy/sy deel was van die vertelling. Maar dit moet nooit te ooglopend wees nie. As die luisteraar eers presies weet wat gaan gebeur, verloor hy belangstelling.

In ‘n spanningsdrama hou die tegniek ‘n luisteraar geboei en meegevoer. In ‘n drama voel hy/sy meelewing en in ‘n komiese vertelling kan hy nie wag om te hoor wat die karakters volgende aanvang nie – almal hou na alles daarvan om te lag. In kort, boei jou luisteraar met goeie storievertelling wat slegs moontlik is met goeie beplanning.

SKRYFWENK 7
Karakterskeppping
deur Mari Snyman

In ‘n radiodrama is dit besonder belangrik om ‘n karakter duidelik te skep aangesien die luisteraar slegs dialoog het om die karakter se persoonlikheid af te lei. Ooglopende aanmerkings soos byvoorbeeld – “Sjoe maar jy is darem maar opvlieënd” – klink geforseerd. Dit moet eerder duidelik uit die karakter se dialoog kom, byvoorbeeld ander in die rede val, onredelike aanmerkings maak soos byvoorbeeld ”Ek praat nooit weer met jou nie”, of uit aksies soos ‘n snippermandjie omskop, ensovoorts.

‘n Praktiese wenk vir ‘n skrywer is om ‘n lys te maak van karaktertrekke, gewoontes, voorliefdes, dinge wat die karakter nie kan verduur nie en selfs die karakter se uiterlike. Dit help die skrywer om ‘n beeld te kry van wie en wat die karakter is. En as die skrywer weet kan hy/sy dit beter en makliker oordra aan luisteraars.

Skrywers moet daarteen waak om vir karakters soortgelyke dialoog te gee. As alle karakters byvoorbeeld Engelse woorde tussen-in gebruik, of almal formele dialoog gebruik, of almal komiese dialoog gebruik, praat almal op dieselfde manier en is daar geen duidelike karakterskepping nie.

SKRYFWENK 8
Laat jou karakters soos gewone mense praat
deur Leon van Nierop

Radio gaan veral ook om DIALOOG. Onthou dat jy nie die mense kan SIEN nie. Dus, iemand wat vir ʼn bladsy lank praat, kan vervelig raak, want jy het nie ʼn akteur, soos op ʼn verhoog wat die gehoor betrek (engage) met spel en beweging ensovoorts nie.

Daarom is dit ook van die uiterste belang dat jou karakters SOOS GEWONE MENSE MOET PRAAT. Basta taalkundige korrektheid of puntenerigheid. Jy kan nie vir jou karakters voorskryf om taalkundig korrek te praat nie.

Daar is natuurlik uitsonderings. Sekere karakters sal keurige taal gebruik en let op wat hulle HOE sê. (Dink aan Chris Barnard se dialoog vir die rolprent Die Wonderwerker). Maar indien jy oor moderne stadsmense, veral jongmense skryf, moet daardie woorde natuurlik en gemaklik in hul monde lê.

ʼn Romanredigeerder het eendag ʼn speurder, wat oor die foon gesê het: “Hallo. Is ek nou op die regte plek?” Verander na: “Hallo me. Vermaak. Mag ek asseblief met u kommunikeer oor wat ek op die hart het?” Dit is twee totaal verskillende mense wat hier praat.

Elke karakter het ook sy eie en unieke manier van praat. Dikwels kyk ʼn mens net na die dialoog en sonder om na die naam te kyk, weet jy reeds wie dit sê. Waak ook teen lang, ingewikkelde paragraafskryf of dialoog wat bloot inligting oordra – afhangende natuurlik van die situasie, daar is uitsonderings.

Die kuns is om inligting, feite en temas op so ʼn ekonomiese en natuurlike manier oor te dra dat die luisteraar daardie inligting toevallig en natuurlik bekom sonder dat hy/sy bewus is dat hy/sy met inligting gevoer word.

Die ontwikkeling van ‘n karakter is ook belangrik. Dit skakel in by die storielyn. Die persoon moet byvoorbeeld of groei en vrede vind, of ‘n ou wrok oplos, of deur ‘n skokkende ervaring tot ander insigte kom, ensovoorts. Anders is daar nie ‘n storie nie.

SKRYFWENK 9
Absolute eenvoud
deur Kobus Burger

“Art is the elimination of the unnecessary.” – Pablo Picasso (skilder en beeldhouer)

‘n Radiodrama, soos enige ander storie, is nie ‘n chronologiese weergawe van gebeure nie. Meesal nie. Die skrywer kan sy verbeelding gebruik en sekere aspekte van ‘n verhaal in meer detail borduur en inkleur. En van alledaagse en onbenullige detail ontslae raak.

Alles in ‘n drama moet funksioneel wees. Selfs die getik van ‘n horlosie, dien ‘n doel. Dit dra by tot die verhaal en die luisteraar se ervaring daarvan. Andersins word dit net agtergrondgeraas of lei dit die aandag weg van die essensiële.

Soos Picasso se aanhaling aandui, is dit wys om vanaf die begin te fokus. Of om dan, so gou moontlik, van die onnodige ontslae te raak.

Is dit regtig nodig om ‘n karakter in jou drama in te sluit wat slegs een sinnetjie dialoog lewer? Kan van die kleiner en minder belangrike karakters se dialoog nie deur ander karakters oorgeneem word nie? Is elke toneel nodig en dra dit by tot die verhaalverloop?

Dit gaan soms voel asof kosbare skryfwerk of idees verlore gaan, maar met sterk karakters en sprankelende én ekonomiese dialoog binne ‘n eenvoudige verhaal, sal talle beginner-skrywers hul storie met groot sukses kan vertel.

SKRYFWENK 10
Wat is goeie dialoog?
deur Evert Snyman

Die goue reël hier is, praat mense so? Goeie dialoog is eerlike dialoog. Die luisteraar moet glo in die persoon, of identifiseer met die persoon, of iemand soos die persoon ken, want dit is wanneer die karakter hom/haar oortuig. Luister ook na verskillende mense rondom jou en hoor hoe hulle praat.

Lang spreukbeurte is gewoon vervelig. Daar is natuurlik uitsonderings, maar dit werk in die meeste gevalle slegs met gesoute skrywers. En spelers moet daardie dialoog kan hanteer sodat dit natuurlik oorkom.

Herhalende dialoog is een van die grootste euwels. Wanneer twee karakters byvoorbeeld ‘n gesprek het en dieselfde argumente duik telkens op, dui dit op swak beplanning.

Dialoog wat aanstoot gee, moet vermy word. Dit is slegs in uiterste gevalle funksioneel en wanneer dit slegs gebruik word om te skok, is dit oneerlik.

Sny alle onnodige woorde uit en maak die dialoog direk, byvoorbeeld pleks van “Ek het gekom om jou te sê dat ek nie weet hoekom jy my nie laat weet het wat het gebeur nie”, liewer “Vir wat het jy my nie laat weet wat aangaan nie?”

‘n Goeie wenk is om die dialoog hardop vir jouself voor te lees, as ’t ware die karakter in jou kop te laat “praat”. (Skrywers soos PG du Plessis doen dit byvoorbeeld.)

Wees laastens baie versigtig om ‘n verteller te gebruik tensy dit absoluut funksioneel is en die verteller een van die karakters in die drama is.

SKRYFWENK 11
Taalregisters – die gevaar van karakters wat eenders klink
deur Margot Luyt

Een van die slaggate in baie dramatekste is dat skrywers nie altyd aan verskillende karakters spesifieke taalregisters gee nie. Dit bring mee dat al die karakers eenders klink. Dikwels gebruik al die karakters die taal wat die skrywer gewoonlik gebruik. Natuurlik is dit wel soms so dat die karakters dieselfde woordeskat of taalregister sal hê, maar dit gebeur nie altyd nie.

Elke mens het ’n spesifieke taalregister. Dit is sy of haar woordeskat, woordkeuses, maniërismes en taalvoorkeure. Dit is gewoonlik geskep deur die invloede waaraan die karakter blootgestel is en was. Waar het die persoon grootgeword? In ’n pastorie in Pretoria, in ’n omgewing waar drankmisbruik, dwelms en geweld ’n algemene verskynsel was, op ’n Bolandse plaas, in ’n plakkerskamp?

Hier speel ouderdom, intellek, beroep, akademiese kwalifikasie, sosiale stand, persoonlikheid, agtergrond en geografiese gegewe onder meer’n baie belangrike rol.

Iemand uit Gauteng gaan nie maklik praat van ’n badskamer nie. Ook nie van die sedoos of korrelkonfyt nie. Die oomblik wat daardie woorde gebruik word, insinueer dit ’n Kaapse agtergrond. Iemand uit Welgemoed in Kaapstad sou ’n ander taalgebruik hê as iemand wat in Lavender Hill grootgeword het.

Karakters se ouderdom behoort een van die bepalende faktore te wees wanneer die karakter se dialoog bedink word. Die woord “voortaan” sal vreemd klink as ’n tiener dit gebruik. Dit sou egter gemaklik in ’n ouer persoon se dialoog sit. Dit impliseer nie dat die karakters se taalregister nooit groei of ontwikkel nie. Ons gebruik immers almal verskillende woorde in verskillende fases van ons lewe.

Gepaste taalgebruik, woordkeuses en register skep geloofwaardige karakters en help die spelers om oortuigende vertolkings te lewer.

Dit sou vreemd opval as ’n predikantsvrou sê: “Ons vat by geleentheid ’n dop.” Afgesien van die feit dat min predikantsvroue die woord “dop” sou gebruik om na ’n drankie te verwys, is hier ook ’n vermenging van twee taalregisters. Dit sal nie geloofwaardige karakters skep as die woord “dop” in dieselfde sin as “ by geleentheid” gebruik word nie.

’n Popsanger sou heel moontlik sy of haar taal meng al het sy of hy in ’n pastorie grootgeword. Hierdie gewoonte sou deur ander invloede veroorsaak word. Die predikant en sy vrou sou dalk heel ontspanne, maar suiwer taal gebruik.

Ons het ook verskillende registers vir verskillende situasies. ’n Karakter sou vermoedelik ’n baie deftige taal gebruik wanneer hy of sy vir ’n werksonderhoud gaan en onmiddellik daarna by sy vriende terugval in sy gewone register wat dalk vol kragwoorde of slordighede kan wees.

‘n Straatsmous sou vermoedelik nie sê: Wil u nie ’n sakkie lemoene aanskaf nie? As ’n boef iemand aanrand, sal hy beslis nie ABA (algemeen beskaafde Afrikaans) gebruik nie.

Skrywers moet daarop konsentreer dat hulle dialoog skep wat karakters geloofwaardig en interessant maak. En onthou dat een van die noodsaaklike elemente in drama WISSELING is. As jou karakters verskil, bring dit heerlike tekstuur tot die werk.

SKRYFWENK 12
Hoor jy al jou karakter?
deur Kobus Burger

Beginner-skrywers sukkel dikwels om hul karakters te sien en te hoor praat. Dit is dan wanneer die skryf van dialoog ‘n struikelblok word. Veral as elke karakter boonop anders moet klink en praat.

Skrywers soos Pat Stamatélos het ‘n prentjie of skets van hul karakter waarna hulle kyk en wat die verbeelding prikkel. As jy nie kunstig is en kan skets nie, kan jy ‘n prent uit ‘n tydskrif knip. Enigiemand wat soos jou karakter lyk. Of maak ‘n collage.

Spandeer tyd om jou karakter te leer ken. Waarvan hou hy/sy? Waarvan nie? Maak hom/haar interessant, met ‘n paar unieke karaktertrekke, selfs al figureer dit nie alles in jou radiodrama nie.

William Faulkner het gesê: “My writing… begins with a character, usually, and once he stands up on his feet and begins to move, all I do is trot along behind him with a paper and pencil trying to keep up long enough to put down what he says and does.”

Maak dan seker dat jou hoofkarakter ‘n drang of doel het. Waarheen is hy/sy op pad? Wat wil hy of sy bereik? Kurt Vonnegut het dit as volg beskryf: “Every character should want something, even if it is only a glass of water.”

SKRYFWENK 13
Vra jouself: HOEKOM?
deur Kobus Burger

‘n Maklike manier om jou radiodrama op koers te hou en te help dat jy fokus wanneer jy skryf, is om jouself die volgende vraag te vra: Hoekom skryf ek hierdie storie/radiodrama?

* DUS: Wat wil ek met hierdie radiodrama sê? Hou die antwoord kort en bondig. Verkieslik nie meer as een of twee sinne nie.
* Waaroor gaan die storie?
* Wat wil ek hê moet die radio-luisteraar voel wanneer hy of sy na my radiodrama luister? Wat is die basiese boodskap wat ek probeer oordra?

Die skrywer kan dit verder deurvoer na elke toneel of situasie in die radiodrama. Byvoorbeeld: wat is die doel van hierdie toneel? Of: wat is die doel van hierdie interaksie tussen die karakters? As ‘n toneel (of ‘n karakter) geen doel dien nie, is dit oorbodig. Sny! Of verdiep die situasie en dialoog sodat dit wel ‘n doel dien en jy iets daarmee sê.

Aksie/beweging en konflik is vername elemente van drama, maar terselfdertyd moet daar ook transformasie of verandering plaasvind. As daar niks verander nie, is dit nie drama nie. Hier is ‘n paar vrae om die transformasie in jou storie te vind:

* Wat is die groot insig (iets wat die hoofkarakter besef of leer)? (Die AHA!-oomblik?)
* Hoe word die konflik en die aksie “opgelos”?
* Wat gebeur met die karakter(s)?
* Hoe verander die hoofkarakter? Hoekom?

Gebruik die antwoord op jou hoekom-vraag om jou radiodrama te fokus. Waak terselfdertyd teen té veel temas of verskillende boodskappe.

SKRYFWENK 14
Die ‘sewe gebooie’ van goeie dialoog
deur Elizabeth Bowen

‘n Goeie radiodrama kry sy lewe deur sprankelende dialoog. Die storie word sonder stelontwerp, kostuums, beligting en ander visuele aanduidings vertel. Daarom is die storie in die dialoog vervat.

Die Ierse skrywer Elizabeth Bowen verskaf hier sewe tydlose wenke om jou dialoog te laat slaag:
♦ Dialogue should be brief.
♦ It should add to the reader’s present knowledge.
♦ It should eliminate the routine exchanges of ordinary conversation.
♦ It should convey a sense of spontaneity but eliminate the repetitiveness of real talk.
♦ It should keep the story moving forward.
♦ It should be revelatory of the speaker’s character, both directly and indirectly.
♦ It should show the relationships among people.

As jy reeds jou radiodrama voltooi het, kan jy jou dialoog “toets” deur die bostaande sewe wenke as vrae aan jouself te stel.

SKRYFWENK 15
Sny tot op die been!
deur Kobus Burger

Alle skrywers kan hul eie skryfwerk hersien en natuurlik daarop verbeter. Sodra die radiodrama voltooi is, kan ‘n mens verder daaraan skaaf. Hier is ‘n paar wenke:

♦ Dit is ‘n radiodrama, dus moet die luisteraar jou karakters kan visualiseer op grond van hoe hulle klink of wat hulle sê. Raak ontslae van karakterbeskrywings soos dat hy ‘n dikraam-bril dra of dat sy donker gelaatstrekke het en ‘n bietjie oorgewig is. Beeld dit eerder in goeie dialoog uit.
♦ Pas op vir die onnodige gebruik van leestekens. Veral die uitroepteken word dikwels oormatig gebruik of daar is talle sinne wat met drie punte (…) eindig. Gebruik leestekens eerder spaarsamig en slegs vir die nodig effek.
♦ Pas op vir stopwoorde of frases wat oormatig gebruik word. Iets soos “jy verstaan” wat oor en oor deur dieselfde karakter gebruik word, kan later die luisteraar irriteer. Gebruik dit slegs ‘n paar keer om die karakter uit te beeld. Nie oormatig nie.
♦ Sorg dat jou byklanke kort, eenvoudig en korrek aangedui word. Fokus op die noodsaaklike. Voëlgeluide is voldoende, in pleks daarvan om aan te dui dat Rooibekneushoringvoëls saam met Groenvlekduifies gehoor kan word. (Daar is natuurlik uitsonderings waar die byklanke en klankbaan geloofwaardig moet wees, maar waak eerder teen té veel detail wat amper ‘n halwe bladsy vul.)
♦ Daar is ‘n ou formule wat lui dat die tweede weergawe 10% korter moet wees as die eerste een. Sny dus onnodige dialoog.
♦ Moenie preek nie. As dit klink asof ‘n karakter besig is om vir die luisteraar ‘n les (of twee) te leer, gaan dit waarskynlik luisteraars ongemaklik maak.
♦ Alles in die radiodrama moet geloofwaardig en feitelik akkuraat wees. Doen die nodige navorsing of praat met kenners, veral as jy skryf oor ‘n onderwerp of wêreld wat jy nie persoonlik ken nie. (Lees weer Skryfwenk 3 – Ken jou onderwerp.)

Gun jouself genoeg tyd om die voltooide radiodrama ‘n paar keer te herlees. ‘n Eerste weergawe van enige stuk skryfwerk is nooit die beste weergawe nie! William Butler Yeats het gesê: “Months of rewriting. What happiness!”

SKRYFWENK 16
Skaaf aan en herskryf jou radiodrama
deur Kobus Burger

“Everything stinks till it’s finished.” – Dr Seuss.

1) As jy tevrede is met jou heel laaste en finale weergawe van jou radiodrama, druk dit uit en lees dit stadig en tydsaam met ‘n pen in die hand deur. Verbeel jou jy dra nou die hoed van ‘n teksredigeerder. Lees woord vir woord en regtig krities. Let op spel- en tikfoute, maar maak ook seker dat elke woord en elke leesteken in die teks waarlik nodig is.

2) Lees die teks hardop voor of vra iemand anders om dit hardop vir jou voor te lees. Luister aandagtig. Klink elke karakter anders? Klink die dialoog natuurlik? Is daar sinne wat net té lank is? Voel dit asof jy uitasem raak as jy seker sinne lees? Verkort! Lees byvoorbeeld hierdie stuk dialoog: “Na dit stilte van die plaas, waaroor ek natuurlik nie kla nie, is dit vir my baie lekker om so tussen mense te wees en sommer al te begin kuier as jy jou eerste beker koffie drink, maar die toustanery om by die badkamer uit te kom, is vir my iets allerverskrikliks.” Breek liefs die sinne op. Dikwels kan daar ‘n punt staan waar ‘n ‘en’ of ‘maar’ gebruik word.

3) Laat die finale teks vir ‘n dag of drie lê voordat jy weer met vars oë daarna kyk. Lees intussen sommer weer die Handleiding en sorg dat jy die riglyne daarin vervat, nakom.

4) Is elke spreekbeurt genommer? En begin die spreekbeurt op elke nuwe bladsy by nommer 1? Is die teks in dubbelspasiëring? Is die karaktername in een kolom – links – en die dialoog in ‘n nuwe kolom? Is die teks in Arial 12pt? Is daar ‘n titelblad met die titel van die radiodrama, ‘n lys van die karakters en kort karakterbeskrywings? Het jy ‘n inskryfvorm voltooi wat die radiodrama vergesel? Is al jou kontakbesonderhede op die inskryfvorm?

5) Is die teks minstens 40 bladsye lank? Tekste wat veel korter is, sal nie aanvaar word nie. Nes kortverhale, gedigte, lirieke en ander vorme van prosa ook nie beoordeel sal word nie.

6) Span vir oulaas weer die speltoetser in en vra gerus ‘n vriend, familielid of kollega om ook deur jou teks te lees en veral spel- en tikfoute uit te wys.