Sea Point Mansions se sonde met die bure


RSG se tweede radiodramaseisoen beweeg na sy einde.

Donderdag 21 Desember: Sea Point Mansions deur Annemarie Roodbol

Sea Point Mansions deur Annemarie Roodbol handel oor die wel en wee van die woonstel- en winkeleienaars in ‘n gebou in Kaapstad. Sea Point Mansions is ‘n woonstelgebou in Kaapstad waar beide die inwoners asook die bestuurders van die ondernemings op die grondvloer mekaar van tyd tot tyd die hare invlieg. Elkeen het heelwat om te verloor, totdat hulle eendag besluit om die saak op die spits te dryf.

Nog dramas waarna jy kan uitsien

Donderdag 25 Desember (Kersdag): Die nag van die wyses deur Zenobia Kock (Argiefmateriaal)

Zenobia Kock (foto regs) se bekroonde Kersdrama, Die nag van die wyses, volg op Kersdag.

Hierdie pragtige, poëtiese verhaal handel oor ‘n wanaangepaste oujongnooi wat die wêreld van ‘n afstand beloer en boonop simptome van Asperger-sindroom toon. Maar dan gebeur iets wat haar buitengewoon laat optree en almal rondom haar verstom.

Donderdag 28 Desember: Sjarrap en eet jou kos! deur Ilné Fourie (Argiefmateriaal)

Die Bloemfonteinse verhoogaktrise en skrywer Ilné Fourie sluit die jaar af met die lekkerlag-drama, Sjarrap en eet jou kos! Die bekkige komedie handel oor al die komiese belewenisse van ‘n kelnerin. Kelners en kelnerinne is daagliks tot u diens. Tog moet hulle dikwels – indien nie uurliks nie – op hul tande byt vir die mees absurde versoeke en vereistes waaraan hulle moet voldoen. In hierdie bekkige komedie besluit die kelnerin om van tyd tot tyd wel ‘n bietjie wraak te neem…

Radioteater word van Oktober tot einde Desember elke Donderdag om 20:00 op RSG (100 tot 104 FM) uitgesaai. Die radiodramas word Maandagoggend tussen 01:00 en 02:00 in Deurnag herhaal.

Radiodramas wat reeds in die Oktober – Desember 2017 seisoen uitgesaai is.