Luister weer: Speur-drama ‘Soek’


Die verdwyning van ‘n meisie uit ‘n plattelandse gastehuis, is die vertrekpunt van die speur-drama Soek, wat op 25 Oktober uitgesaai word.

Soek is geskryf deur Madeleine Volschenk, finalis in die RSG/Sanlam Radiodrama Skryfkompetisie van 2017.

Die storie

Letsie verdwyn spoorloos uit ‘n gastehuis op die Kaapse platteland. Wat het met haar gebeur? Die gastehuis huisves vier gaste, waarvan een plotseling verdwyn. Wat het van die stil, verskrikte meisie geword? Het ’n klaarblyklike vroeëre aanranding op haar iets met haar verdwyning te doen?

Weet die buffelagtige gifhandelaar (en een van die gaste) dalk meer van haar verdwyning as wat hy voorgee?

Hester Ruiters is een van die ander gaste: sy kom by die plattelandse gastehuis aan haar eerste boek te skryf, en die verdwyning gee haar baie idees vir haar nuwe boek se tema.

Is Letsie in gevaar? Het sy dalk iemand spesiaals ontmoet? Of is dit net nog ‘n misdaadstatistiek vir Suid Afrika?

Die gaste leer mekaar en die eienaar beter ken terwyl hulle bespiegel oor haar verdwyning en die land se veiligheid.

Dean Balie (Foto: Jesse Kramer)

Die akteurs

Martelize Kolver (HESTER),
Dean Balie (MANIE),
Cintainne Schutte (CARLA),
Charl van Heyningen (KRUGER),
André Weideman (JOUBERT), en
Amor Tredoux (MEVROU KRUGER).

Die Soek-span: vlnr: Dean Balie (Manie), Anrich herbst (regisseur), Andre Weideman (Joubert), Cintainne Schutte (Carla), Martelize Kolver (Hester), Charl van Heyningen (Kruger), Amor Tredoux (Mev Kruger). Cassi Lowers was verantwoordelik vir die Tegniese versorging.

Anrich Herbst

Nota deur die regisseur, Anrich Herbst

Die jaarlikse RSG/Sanlam Radiodrama Skryfkompetisie is ‘n wonderlike platvorm om nuwe skryftalent te ontgin, en met ‘n bietjie slyp lewer dit tekste wat dramas van uitsaaigehalte word. Vir ‘n regisseur is dit ‘n voorreg om ‘n werk op te voer wat deur die luisteraar positief beleef kan word.

‘n Wonderlike ervaring van die radiodrama genre is om met ‘n teks te werk wat met die eerste lees reeds baie potensiaal toon. Dit was inderdaad ook die geval met Madeleine Volschenk se drama Soek.

Die uitdaging vir my as regisseur was om die drama se spanningslyn te probeer handhaaf rakende die verdwyning van die karakter Letsie. Terseldertyd word daar oor sensitiewe onderwerpe gedagtes gewissel, en my taak hierin was om seker te maak daar word nie te veel klem gelê op een karakter se standpunt nie.