Twee radiodrama-skrywers in 1e plek in RSG Sanlam dramakompetisie


Albert Short, Kobus Burger en Lee Doubell

Twee radiodrama-skrywers het vanjaar koning gekraai in RSG en Sanlam se radiodrama-skryfkompetisie vir 2017 en ontvang albei die eerste prys. Beide Lee Doubell met sy drama, Rommel rommel, en Albert Short met sy storie, ‘n Voorlopige begrafnis, het met die meeste punte én louere weggestap.

RSG en Sanlam het besluit om aan albei die wenners die volle prysgeld toe te ken, pleks daarvan dat hulle dit deel. Doubell en Short ontvang dus elk R35 000.

Die totale prysgeld was verlede jaar R60 000, maar is vanjaar tot R90 000 verhoog om die top Afrikaanse dramatekste vir radio te bekroon. Omdat daar dus twee eerste plekke is, is die prysgeld verder tot R125 000 verhoog.

Luister na die gesprek op Oggend op RSG met die twee eersteprys-wenners.

Buiten die prysgeld word die wendramas ook op RSG uitgesaai. Die vyf wendramas sal dus van April 2018 in RSG se eerste Radioteater-seisoen vir 2018 gehoor word.

Beide Doubell en Short het vanjaar RSG en Sanlam se gratis radiodrama-slypskool bygewoon.

Daar was vanjaar twee rondes met twee panele beoordelaars. Na die eerste ronde van beoordeling is vyftien tekste gekies wat dan met die hulp van ‘n mentor vir die eindronde geslyp is. Die finale tekste is toe aan ‘n nuwe paneel beoordelaars gestuur. In elke ronde is die tekste anoniem beoordeel.

Die RSG Sanlam radiodrama-skryfkompetisie het vanjaar sowat 120 inskrywings ontvang, waarvan bykans 30 tekste potensieel geslyp kon word vir uitsending.

Volgens Kobus Burger, RSG se uitvoerende regisseur: drama, is dit die toename in jonger skrywers verblydend. “Dat ‘n derde van die top15-finaliste vir die Jong Skrywer-prys gekwalifiseer het, dui daarop dat al hoe meer jonger skrywers inskryf. Dit is die meeste aantal Jong Skrywers-inskrywings wat ons tot nog toe ontvang het.”

Burger sê ook daar was ‘n verruiming in die temas en kwessies wat skrywers aanroer en die waagmoed wat hulle aan die dag lê. Hy reken ook dat die belegging deur Sanlam in radioskrywers deur die slypskole én kompetisie werp al hoe meer vrugte af, soos vanjaar se groep wenners bewys.

 

RSG SANLAM WENDRAMAS 2017

 1ste Plek (elke wenner ontvang R35 000)

‘n Voorlopige begrafnis deur Albert Short

In Short se ‘n Voorlopige begrafnis spreek ‘n brief van ‘n afgestorwene aan sy familie en vriende die hoop uit dat sy begrafnis stigtelik en ordelik sal verloop. In die brief verduidelik hy waarom hy sy buitengewone wens op hierdie manier, amper soos ‘n testament, uitspreek.

Die beoordelaars sê: Die ongewone, makabere gegewe word omskep in baie treffende galgehumor. Al is dit ‘n komedie is daar wonderlike wyshede, filosofieë en lewenswaarhede in die dialoog wat die luisteraar sal laat nadink. Die soeke na die “goudpot in Johannesburg” is ‘n pragbeeld vir die soeke na geluk en ‘n beter lewe. Hier is ‘n skrywer wat radio as medium ten volle benut en ‘n aardse, tragikomiese en spookagtige storie geskryf het met uitstekende radio-dialoog.

Albert Short is ‘n stelselingenieur van Johannesburg het al voorheen spookstories geskryf en het al as liriekskrywer saam met die sangeres Steffie le Roux gewerk. Hy het al voorheen vir die RSG Sanlam-radiodrama-skryfkompetisie ingeskryf en ‘n Voorlopige begrafnis is sy tweede radiodrama.

Rommel Rommel deur Lee Doubell

Doubell se Rommel, rommel handel oor ‘n drietal gesoute misdadigers wat ‘n waagmoedige rooftog tydens ‘n groot popkonsert beplan met die toevoeging van ‘n naïewe, onskuldige jong man wat oor ‘n swaarvoertuiglisensie beskik. Sal hulle poging ooit slaag?

Die beoordelaars sê: Hier is duidelik ‘n vakman. Elke woord open dadelik ‘n blik op die hede, verlede én toekoms. Die drama het ‘n uitstekende spanningslyn met uiters goeie navorsing en beplanning van die teks. Die byklanke sal goed bydra tot die atmosfeer. Waarlik ‘n radiomatige teks, besonder oorspronklik en die storie klop met ‘n warm hart.

Lee Doubell is ‘n filmredigeerder en kameraman van Johannesburg en het al aan verskeie dokumentêre programme vir film en televisie gewerk. Hy het een van die wendramas in SAfm se radiodrama-skryfkompetisie geskryf en sy verhoogstuk Killing Jonathan is in Kaapstad deur Philip Rademeyer opgevoer.

2de Plek (wenner ontvang R25 000)

Vlerke vir Jason deur Janine van der Linde

Vlerke vir Jason handel oor ‘n gelukkige, jong paartjie van die Kaapse vlakte wie se lewe aan flarde geruk word weens bendegeweld.

Die beoordelaars sê: Hierdie is ‘n aktuele drama oor die gevare van bendegeweld op die Kaapse Vlakte. Die invloed van posttraumatiese stres in die hoofkarakter word goed uitgebeeld. ‘n Snaarstywe spanningslyn met pragtige Afrikaanse dialoog.

Janine van der Linde is van Stellenbosch en sê sy sit al van kleintyd af vasgenael teen die radio om “stories” te luister. Sy is oorspronklik van Kimberley in die Noord-Kaap en het ook in verlede jaar se kompetisie uitgeblink met Die kind.

3de Plek (wenner ontvang R15 000)

Kommapunt deur Sophia van Taak

In Kommapunt deur Van Taak ontdek ‘n teneergedrukte kopieskrywer dat die wêreld vol gebroke mense soos sy is. Net wanneer sy die sonkant van die lewe omarm en haar digbundel bekend stel, beleef sy egter die grootste toets vir haar nuwe lewensuitkyk.

Die beoordelaars sê: ‘n Boeiende verhaal oor depressielyers en die mense rondom hulle. Die situasie word effektief onthul en die drama bevat roerende gedigte. Dit is ‘n uitdagende teks wat op ‘n sekere vlak die tragiese lewe van die digteres Ingrid Jonker eggo.

Sophia van Taak van Kaapstad het al by verskeie publikasies gewerk, maar is die afgelope vyf of wat jaar ‘n joernalis by die reistydskrif Weg. Sy het ook die RSG Sanlam radiodrama-slypskool bygewoon.

Jong Skrywer (jonger as 30 jaar, wenner ontvang R15 000)

Oorlewing – C Blok deur Erica Harris

Harris, ‘n vorige Jong Skrywer-wenner met Die eksentriekes, vertel in Oorlewing – C Blok die verhaal van ‘n hawelose vrou wat oor veel meer beskik as net haar negosieware. Haar ryke lewenservaring het ‘n blywende en ingrypende invloed op veral twee jongmense wie se lewens skynbaar nie volgens plan verloop nie.

Die beoordelaars sê: Hierdie radiodrama roer ‘n mens op ‘n vreemde manier en is een van die tekste wat ‘n mens bybly.

Erica Harris is ‘n BA kommunikasiestudent en voltooi tans haar honneursgraad in die joernalistiek.