Luister Donderdagaand: aksiebelaaide ‘Rommel, rommel’


RSG se eerste radiodrama-seisoen vir 2018 – wat van April tot Junie duur – begin met die wenners van die RSG Sanlam Radiodrama-skryfkompetisie vir 2018.

Dramas wat nog op jou wag in dié Herfsseisoen:

26 April: Rommel, rommel
Op Donderdag 26 April en Donderdag 3 Mei volg die twee wendramas – Lee Doubell se Rommel, rommel en Albert Short se ‘n Voorlopige begrafnis.

Tydens ’n Justin Bieber-konsert in 2013 is ’n sokkerstadion in Johannesburg van ’n onbekende bedrag geld beroof. Maar, Rommel, rommel, Lee Doubell se wendrama in verlede jaar se RSG en Sanlam se radiodrama-skryfkompetisie handel nie oor daardie rooftog nie. Dit is eintlik ʼn heel ander storie wat toevallig ook handel oor ’n rooftog tydens ’n groot popkonsert…

Drie gesoute rowers – of is dit dalk eerder veteraan-tronkvoëls? – wat die kodename Meneer, Oom en Spiekeries gebruik, beplan hulle eerste rooftog in twee jaar na hulle laaste besoek aan die “Staatshotel”. ’n Naïewe jongman, Laaitie, “kraakvars van die plaas af,” word deur Meneer aangestel om ’n vragmotor tydens die rooftog te bestuur.

Aanvanklik word die jongman met groot agterdog deur Oom en Spiekeries bejeën, maar uiteindelik moet hulle erken dat Meneer ’n goeie belegging in die plaasjapie gemaak het. Of hulle dié keer daarin sal slaag om met die grootste buit in hulle rowersloopbane die gasvryheid van die “Staatshotel” vry te spring, sal egter net die tyd kan leer.

Lee Doubell se wendrama Rommel, rommel word op Donderdag 26 April om 21:10 op RSG uitgesaai. Dit is effe later as die weeklikse Radioteater-uitsending weens ‘n regstreekse uitsending van die Suidoosterfees.

Die beoordelaars het Rommel, rommel geloof vir sy sterk, aangrypende en boeiende intrige asook geloofwaardige karakters. Dit is ‘n wipwaentjierit-storie propvol patos en spog met ‘n verrassende einde.

Johan en Lida Botha

Leon Kruger

Die spelers is Johan Botha (Meneer), Charl van Heyningen (Oom), Leon Kruger (Laaitie), Petrus du Preez (Spiekeries), Lida Botha (Ma), Ivan Abrahams (Sersant) en Keenan Herman (Sekuriteitswag).

Notas deur die regisseur, Eben Cruywagen

“As regisseur wat die voorreg gehad het om oor drie dekades vir RSG te kon diens doen, was daar uit die aard van die saak vele hoogtepunte. Wanneer ek dus sê dat die produksie van Rommel, rommel vir my ’n persoonlik hoogtepunt is, spreek dit noodwendig van die gehalte van Lee Doubell se weninskrywing,” sê Cruywagen.

“Veral die karakter van Laaitie is aangrypend, maar die drama in sy geheel is só veelvlakkig en met soveel subteks gelaai, dat dit ’n werk is wat met elke luisterervaring nuwe insigte in die psige van die karakters en hulle omstandighede teweegbring.”

Oor die skrywer
Doubell is ’n boorling van Johannesburg wat sy brood verdien as TV-kameraman en –redigeerder. Hy het reeds drie keer vantevore vir die RSG radiodrama-skryfkompetisie ingeskryf, maar was nog nooit ’n finalis nie. Verlede jaar het hy die radiodrama-slypskool in Johannesburg bygewoon, en siedaar! Wat sy prestasie indrukwekkend maak, is dat hy Engelssprekend is. Klinkklare bewys dat “aanhouer wen”.

 

3 Mei: ‘n Voorlopige begrafnis
’n Brief van ’n afgestorwene aan familie en vriende spreek die hoop uit dat sy begrafnis stigtelik en ordelik sal verloop. Die doel van die brief is om te verduidelik waarom hy dié buitengewone wens, amper testamentêr, uitspreek. ‘n Voorlopige begrafnis is ‘n donker komedie met die sanger-akteur Robbie Wessels in die hoofrol. Christelle Webb-Joubert is die regisseur.

10 Mei: ‘n Pophuis
Ibsen se ‘n Pophuis, ‘n argiefdrama geregisseer deur Suzanne van Wijk, is ‘n herdenking van dié Noorweegse dramaturg wat vanjaar 190 jaar oud sou wees. Dit word op Donderdag 10 Mei uitgesaai.

Schalk Schoombie (skrywer van die radiodrama “Kop”)

17 Mei: Kop
Kop deur die skrywer-joernalis Schalk Schoombie is ‘n futuristiese verhaal oor die heel eerste kop-oorplanting. Die bloedstollende radiodrama handel oor ‘n wetenskaplike deurbraak wat erg skeefloop en ‘n jong man, Set Niemand, se lewe bykans heeltemal verwoes. Die regisseur is Johan Rademan en die uitsending is op Donderdag 17 Mei.

24 Mei: Hittegolf
Martyn le Roux is reeds ‘n bekroonde radiodramaturg en bekend om dramas soos Bloedlyn en Dagboek van ‘n wurm. In Hittegolf, met Anrich Herbst in die regisseurstoel, bekyk hy die uitwerking van klimaatsverandering op die mense se psige het. Die gat in die osoonlaag kan dalk veroorsaak dat kosmiese strale en ander onvoorspelbare dinge die mens kan tref en dan dit ‘n invloed op ons het.

31 Mei: Skink vir my ‘n whisky
Die radio-omroeper, akteur en stemkunstenaar Deon Johnston se Skink vir my ‘n whisky handel oor ‘n vergeelde brief wat onder ‘n sitkamermat in ‘n Johannesburgse huurhuis ontdek word tydens ‘n reeks opknappings. Die brief bevat ‘n roerende bekentenis van ‘n moord wat dertien jaar gelede gepleeg is. Eben Cruywagen is die regisseur van dié drama wat temas soos lojaliteit, vergifnis en geregtigheid aanroer.

7 Junie: Die gang
Die bekroonde radioskrywer Joe Kleinhans se Die gang handel oor ‘n nuwe intrekker, Jakob Swart, in ‘n tehuis vir bejaardes. Swart word betrap waar hy in die tehuis se kantoor deur belangrike dokumentasie krap. Matrone Malan, wat altyd dinge onder beheer het, probeer haar bes om agter die kap van die byl te kom. Bettie Kemp het dié komiese liefdesverhaal opgeneem.

14 Junie: Kolskoot Visagie
Chris Joynt is ‘n afgetrede kunsonderwyser van Oos-Londen en sy debuut-radiodrama, Kolskoot Visagie, handel oor ‘n pa-en-seun-verhouding en is ‘n hartroerende verhaal wat op die plaas Barsland afspeel. Die baasverteller oom Giel reis saam met die luisteraar deur die lief en leed van ou Kolskoot Visagie en sy seun, Willie.

21 Junie: Die reine waarheid
Die skade én konsternasie wat ‘n skinderstorie op ‘n klein dorpie kan veroorsaak sorg vir heelwat komiese kinkels in Eleanor Lombard se Die reine waarheid, wat deur die regisseur Joanie Combrink opgevoer is. Dit word op Donderdag 21 Junie uitgesaai.

28 Junie: Waar is Tomas?
Die seisoen word op Donderdag 28 Junie afgesluit met Waar is Tomas? deur die aktrise en skrywer Zoë Ras. Emma le Roux is ‘n jong versorger wat na ‘n ou wewenaar, Giel Vermaak, moet omsien, maar gou agterkom dat dit haar lewe handomkeer gaan verander. Die radiodrama is ‘n viering van en ode aan die letterkunde en woordkuns. Margot Luyt het die regie behartig.

Radioteater word van April tot Junie elke Donderdag om 20:00 op RSG (100 tot 104 FM) uitgesaai. Die radiodramas word Maandagoggend tussen 01:00 en 02:00 in Deurnag herhaal.

DATUM TITEL
SKRYWER
REGISSEUR
30 Mrt 2018 Quintin Roy en die Paashaas Helena Hugo Helena Hugo
5 April Oorlewing – C-Blok Erica Harris Renske Jacobs
12 April Springgety Sophia van Taak Ronel Geldenhuys
19 April Vlerke vir Jason Janine van der Linde Margot Luyt
26 April Rommel, rommel Lee Doubell Eben Cruywagen
3 Mei ‘n Voorlopige begrafnis Albert Short Christelle Webb-Joubert
10 Mei ‘n Pophuis Henrik Ibsen Suzanne van Wijk
17 Mei KOP Schalk Schoombie Johan Rademan
24 Mei Hittegolf Martyn le Roux Anrich Herbst
31 Mei Skink vir my ‘n whisky Deon Johnston Eben Cruywagen
7 Junie Die gang Joe Kleinhans Bettie Kemp
14 Junie Kolskoot Visagie Christopher W. Joynt Renske Jacobs
21 Junie Die reine waarheid Eleanor Lombard Joanie Combrink
28 Junie Waar is Tomas? Zoë Ras Margot Luyt