Komiese radiodrama ‘Die gang’ wys oud is lank nie koud


Die gang is ‘n splinternuwe radiodrama-komedie uit die pen van Joe Kleinhans, wie se vervolgverhaal Afsluiting verlede jaar op RSG uitgesaai is.

Dit debuteer op Donderdag 7 Junie om 20:00 in Radioteater op RSG.

Die storie

Die dag nadat die wewenaar Jakob Swart ‘n nuwe intrekker in die Tuisbes-tehuis word, word hy in ‘n kantoor in die tehuis op heterdaad betrap. Daar staan Swart, selfoon in die hand, in ‘n kabinetlaai en krap. Dit is in dieselfde tyd wat daar ‘n reeks onthullings in die plaaslike koerante gepubliseer word oor die agteruitgang in die tehuis. En by elke berig verskyn daar stawende foto’s.

Matrone Malan kan nie anders nie as om te dink dat Tuisbes met hulp van binne gesaboteer word. Natuurlik is Jakob haar nommer-een-verdagte. En waar Matrone altyd in die gang hoor wat in die tehuis aan die gebeur is, swyg die gang skielik soos die graf…

Regisseursnota

Die regisseur van Die gang is Christelle Webb-Joubert. In die video hieronder vertel sy meer van die produksie:

Met die voorbereiding van ‘n teks maak ek my eie prentjies op van hoe die plekke en karakters lyk. DIE GANG speel af in ‘n tehuis in Pretoria, en onmiddelik het ek die tehuis waarin my oupa gewoon het ingedagte gehad. Groot was my verbasing toe ek vir Joe by ‘n funksie raakloop en hy my vertel dat die tehuis wat hy ingedagte gehad het toe hy die teks geskryf het, presies dieselfde een is waarin my oupa gewoon het.

Met die dat al die karakters ouer is, het ek die voorreg gehad om saam met van die room van die bedryf te werk. Opname was ‘n fees, want almal het presies geweet wat hulle doen.

Joe Kleinhans

Die skrywer

Joe Kleinhans is ‘n bekroonde radiodramaskywer. In 2007 wen hy die RSG/Sanlam radiodramaskryfkompetisie met ‘n Oordeelsfout.  Hy behaal die derde prys in dieselfde kompetisie in 2011 met sy drama Die Aanval. Hy het reeds meer as twintig radiovervolgverhale vir RSG geskryf waarvan die mees onlangse verhale Afsluiting, Agendas, Weerwraak, Vergelding, Tweespalt en Flessie vir Depressie was.

Die spelers

Kom wandel saam met ons deur DIE GANG van Tuisbes, en kom ontmoet sy inwoners.

Die veteraanbelaaide rolverdeling bestaan onder andere uit Louis van Niekerk as Jakob Swart en Woutrine Theron as Matrone Malan. Die ander spelers sluit in Heidi Mollentze, Marintha Labuschagne, Ria Smit en Janine Opperman.

Akteurs

Louis van Niekerk

Louis van NiekerkVan Niekerk was op RSG te hoor in Shakespeare se Koning Lear en het onlangs John Miles se roman Op ‘n dag, ‘n hond vir RSG voorgelees.

Louis het op 12-jarige ouderdom begin toneelspeel. Sy eerste rol was in Babs Laker se Ek onthou vir Mamma. Hy het as ’n vryskutakteur gewerk totdat hy in 1965 by die Transvaalse Raad vir Uitvoerende Kunste aangesluit het. Van sy bekendste rolle was Dogoman in P.G. du Plessis se Nag van Legio, Mattewis in Mikro se Mattewis en Meraai en Giel in Du Plessis se Siener in die Suburbs. In 1975 het hy die titelrol gespeel in François Swart se Afrikaanse produksie van Othello.

Omstreeks 1978 was Van Niekerk Truk se toneelhoof. In die 1980’s het hy Truk se artistieke direkteur geword.Hy was ook te sien in talle TV-rolle, onder meer in Amalia, Die Vierde Kabinet, Fees van die Ongenooides, Getroud met Rugby, Agter Elke Man en Grondbaronne. Hy het tot einde Augustus 2009 as toesighoudende vervaardiger van Egoli gewerk en is tans voorsitter van die Teaterbystandsfonds.

Wouterine Theron

Woutrine Theron
Woutrine Theron was tydens RSG Kunstefees 2016 te hoor in haar huldeblyk-produksie vir wyle Audrey Blignault, getiteld ‘n Oulap se rooi.

Woutrine sal seker die beste onthou word vir haar rol in Nommer asseblief.

In 1966 verwerf Woutrine haar Dramagraad aan die Universiteit van Stellenbosch. Sy werk vir twee jaar as aktrise by KRUIK (Kaaplandse Raad vir Uitvoerende Kunste) en doen vryskutwerk vanaf 1969. Verhoogwerk vir TRUK (Transvaalse Raad vir Uitvoerende Kunste) volg, asook radiowerk vir die SAUK en Springbokradio en televisiewerk vir die SAUK (een van Woutrine se bekendste rolle is Grieta in Nommer Asseblief).

Woutrine is vanaf 1980 verbonde aan die destydse Technikon van Pretoria (nou Tshwane Universiteit van Tegnologie) as Dramalektrise. In 1982 verwerf sy haar Meestersgraad in Drama aan die Universiteit van Pretoria. In 1984 publiseer sy die novelle Gistr’aand Gousblom by Perskor. Woutrine word in 1988 aangestel as die Hoof van die Dramadepartement van TUT tot haar aftrede in 2008.

Die DALRO Nasionale Toneelspelkompetisie vir hoërskoolleerlinge word in 1989 deur Woutrine ontwerp en sy bied dit ook aan vir die daaropvolgende10 jaar. In 1998 ontvang sy die Rektorstoekenning van TUT.

Woutrine vertolk rolle in Egoli, 7de Laan en Villa Rosa. Sy was ook betrokke by die skryf van storielyne vir Egoli. Woutrine het gedien op die beoordelingspanele van ATKV-Tienertoneel, die Hoërskool Bellville Nasionale Dramakompetisie, Smeltkroes (Aardklop), Kunstekabinet (KKNK), Kannapaneel (KKNK), Fiesta (kykNET), asook die Sanlam- en RSG-radioteatertekstekompetisie.

In 2012 publiseer sy by Lapa Uitgewers ’n spanningsroman, Dans met die rooi rok.

Heidi Mollentze

Heidi Mollentze
Heidi Mollentze, leef met passie en positiwiteit. Haar loopbaan as tweetalige aktrise en stemkunstenaar het 23 jaar gelede in Johannesburg begin. Sy was bevoorreg om op al die groot verhoë in Suid Afrika op te tree, in ‘n wye verskeidenheid van musiekblyspele, dramas, komedies en klugte.

‘n Paar van Heidi se gusteling verhoogproduksies sluit The Revlon Girl; Buddy, The Buddy Holly Story; Little Shop of Horrors; Whore; Skilpoppe en vroeër jare se jaarlikse klugte by die Staatsteater, in. Heidi geniet film- & TV-werk net so veel as verhoogoptredes. Sy het ‘n draai by SA se mees geliefde ‘soapies’ gemaak (Egoli, Isidingo, Villa Rosa, Generations, Getroud Met Rugby & Binnelanders).

Heidi is bekend vir haar veelsydigheid op die TV-skerms, in onder andere Haak & Steek; Dit Wat Stom Is en die besonder gewilde, Swartwater. Sy is ‘n gesogte stemkunstenaar vir die meeste SA TV-kanale en word gereeld op die radio gehoor in advertensies, aankondigings en radiodramas. Heidi doen professionele vertaalwerk vir tersiêre leersentra, asook privaat opleiding in kommunikasie-, aanbiedings- en openbare redevoering vaardighede aan SA bekendes en leiers in die besigheidsektor. Heidi is ook tans 1e, 2e & 3e-Jaar lektor in Stem/Spraak-opleiding en Live Performance by AFDA, Johannesburg kampus.

Ria Smit

Ria Smit
Ria slaag haar oudisie vir radiodrama in 1976, en speel in haar eerste stuk saam met Cobus Robinson. Reekse vir Springbok Radio en RSG volg o.a. Hartjie my Liefie, Mannheim Saga 1 & 2, Aan die einde van die Reënboog, Agent 008, Sending RSA.

As vrystuk akteur het Ria ook salaris verdien as Klank ingeneur by beide radio en TV. Sy het Monitor en Spitstyd as ingeneur behartig maar ook waargeneem as Assistent Regisseur. Ria was ook in verskeie hoedanighede betrokke by boekvoorlesings vir RSG, Vers en Klank, Siembamba, Wielie Walie, Tekkies, 50/50, Junior Sport en Potpourie.

Janine Opperman

Janine Opperman
Janine het haar Honneurs in Drama verwerf by die NWU in Potchefstroom en is toe vanaf 1985 vryskut aktrise op die verhoog, TV en Film. Sy het oorklanking en radiowerk veral geniet.

Sy maak ‘n draai by Egoli as dialoogafrigter (1990) en het in 2003 by M-Net begin werk. Vanaf 2006 tot 2008 was sy hoofskrywer by Villa Rosa en het toe teruggekeer na M-Net waar sy vandag die Hoof van Musiek en Vermaak vir die kykNET kanale is.

Marintha Labuschagne

Marintha Labuschagne
Marintha het haar BA (Drama) Hons en HOD aan die Universiteit van Pretoria behaal. Daarna het sy by die destydse Pretoria School for Art, Ballet, Music and Drama begin om Dramatiese Kunste as ‘n vak te implementeer.

Sy het die onderwys verlaat om by die ATKV aan te sluit waar sy vir jare kultuurprojekte georganiseer het. In 2005 het sy haar skrede na die privaatsektor gewend waar sy Kommunikasiebestuurder was by Deon Opperman se groep maatskappye. In 2007 besluit sy om vryskutwerk te begin doen en vir die volgende dekade werk sy onder andere as projekbestuurder by die National Eisteddfod Academy, gee Dramatiese Kunste vir die Gr 11’s en 12’s by Hoërskool Randburg, gee dramaklasse, beoordeel en doen wat haar hand vind om te doen. In 2017 begin sy weer voltyds skoolhou by Hoërskool Randburg waar sy tans Dramatiese Kunste vir Graad 10-12 en Afrikaans gee.

Sy het nooit opgehou om in haar vry(er) tyd haar drama-ateljee te bedryf nie. Daar kry sy haar energie vir al die ander dinge waarmee sy haar besig hou. Haar groot liefde bly steeds om self toneel te speel. Sy het al ‘n hele paar verskynings op televisie gehad, onder andere in Egoli, Getroud met rugby en Erfsondes. Sy doen baie graag stemwerk en het al in ‘n paar radiodramas vir RSG gespeel en radio-advertensies opgeneem. Haar professionele teaterervaring sluit in drie eenvrouvertonings wat tussen 2000 en 2002 by die KKNK en Aardklop Nasionale Kunstefees gespeel het. Sy is in 2018 weer by Aardklop te sien as deel van die Deurnis-projek.