Wanneer stories stertjies kry…Luister weer


‘n Storie kry maklik ‘n stertjie by. As daardie stertjie dan nóg ‘n stertjie bykry, en daardie een dan nóg een, kan dinge maklik handuit ruk.

Joanie Combrink

Dit is presies wat gebeur wanneer Jan Malan in Eleanor Lombard se radiodrama, Die reine waarheid, teenspoed kry.

Wanneer ‘n poskantoorwerker in ‘n klein dorpie ‘n storie oor een van die inwoners oorvertel, kry die storie stertjies by en word dit al hoe meer sensasioneel soos dit versprei. In ‘n verrassende wending sorg die slagoffer later vir komiese gevolge.

Hierdie komiese drama is  op Donderdag 21 Junie om 20:00 op RSG uitgesaai met Joanie Combrink as die regisseur.

Die storie

Daar is oorgenoeg nuusdraers om die storie oor Jan Malan oor te vertel. En die nuus versprei vinnig. Maar waar hou die feite op en waar kry die vrugbare verbeelding van die oorvertellers die oorhand? Dan is daar op die koop toe ‘n onverwagse kinkel in die kabel wat almal onverhoeds betrap.

Dit is deel van die mens se natuur om hom- of haarself soms in die teenspoed van ander te verlekker. En die geneigdheid om skinderstories aan te dra, is weer ‘n manier om ‘n band tussen mense te bewerkstellig. Tog is dit deel van die mens se oorlewingsinstink en in Die reine waarheid lei hierdie aandik van stories tot heelwat komiese momente.

Die skrywer

Die skrywer Eleanor Lombard het al op skool in drama uitgeblink en in haar matriekjaar ‘n ATKV-oorkonde as beste toneelspeelster ontvang. Na haar studies is sy in die onderwys betrokke en is ‘n lektrise in Afrikaans aan die Bellville-opleidingskollege. Sy skryf verskeie radiodramas en was ‘n finalis in die RSG en Sanlam se radiodrama-skryfkompetisie. Sy is ook die skrywer van Die son se donker kant en woon saam met haar man, Pieter, in Tergniet naby Mosselbaai.

Die akteurs

Die reine waarheid is in Kaapstad onder spelleiding van Joanie Combrink opgeneem met Lindie Stander, Johann Stassen, Esther von Waltsleben, Susanne Beyers, Johan en Lida Botha, Johann Nel en Elanza Swart in die rolle.

Van links is Esther von Waltsleben, Lindie Stander, Susanne Beyers, Johann Nel, Lida en Johan Botha en Johann Stassen. Voor sit Elanza Swart.