Vat 5 Volume 7 is op die rak!


Derrich is baie trots op die splinternuwe Vat Vyf-CD wat nou in die handel beskikbaar is. Hierdie is die 7de Volume van Vat Vyf wat deur David Gresham Records uitgegee word. Dit beklee tans die vyfde plek op die Suid-Afrikaanse Top 20.

Daar het onlangs ʼn sewende volume van Derrich Gardner en RSG se Vat Vyf- CD verskyn.

Derrich vertel self meer oor die CD

”Vat 5 behoort aan die RSG-luisteraars. Die liedjies is almal musiek-met-stories, soos vertel op Brêkfis met Derrich. 

Ons samestelling het nogal ‘n lang pad om te loop voor die CD op die rakke is. Liedjies word voorgestel (en net die wat wel op Vat 5 gehoor is). Gresham Records begin dan kontak maak en toestemmig vra om die liedjies op on CD te plaas. Die proses neem maande. Soms moet die oorspronklike kunstenaars opgespoor word of hulle erfgename wat die regte besit. En dan moet ‘n kraplose, beste opname van die oorspronklike liedjie by die betrokke platemaatskappy gekry word. En eers dan kan die CD lyf kry.
Vat 5 volume 7 spog met ‘n wye verskeidenheid oorspronklike treffers. Van Edith Piaf tot Gene Rockwell, Billy Joel tot Helmut Lotti. My insette help om al die skaars liedjies weer beskikbaar te stel. Ons kry ook net die regte vir die samestelling vir 3 jaar, daarna verval dit en is die kompilasie nie meer beskikbaar nie. Ons eerste Vat 5 CD’s is glad nie meer op die rak nie, so pas jou versameling op.
Ek is elke Saterdag seker die grootste aanhanger van ons luisteraars se stories rondom hulle 5 liedjies. En telkemale word ek verbaas as amper onbekende liedjies aangevra word en wanneer ek dit opsoor, sit ek oopmond en luister na die ongelooflike mooi musiek. Ons Vat 5-ers is regtig kampioene met hulle msuieksmaak. En almal dink dis net vir “oumense” en dan lag ek kliphard. BAIE jongmense luister want hulle het met Ma en Pa se liedjies grootgeword, so hulle ken dit. Verbasend is ook hoeveel seniors weet hoe om e-pos en aanlynmusiek te gebruik. En bewaar jou siel as jy ‘n verkeerde weergawe van ‘n liedjie kry. Dis waarom ek telkemale weke lank soek na die regte snit voor ek ‘n afspraak maak met my gas.
Vat 5 vul beslis ‘n leemte in die mark, maar eintlik neem dit jou ore en siel na daai “happy place” waar jy net jouself kan wees met jou onthou.
Die terugvoer oor Volume 7 is dat dit heerlik luister en enige langpad baie kort maak. En ek is dankbaar. En waardeer elke persoon se bydrae tot ons Saterdag Brêkfis. En ons pronk alreeds hoog op die treffersparade, DIE SA TOP 20. (Die week no 4 so tussen Snotkop se nuwe CD en Karen Zoid en Afrikaans is Groot … en ek sing nie ‘n noot nie!)”

Alita Steenkamp van Afrikaans.com het Derrrich gaan inloer

“Goeiemore Suid-Afrika!” Dis die warm stem van Derrich Gardner wat elke Saterdagoggend RSG-luisteraars dagsê met hierdie vriendelike groet.

Oor die jare het Brêkfis met Derrich ʼn belangrike deel van baie Suid-Afrikaners se Saterdagoggendritueel geword. Derrich het nou maar eenmaal die vermoë om jou tuis in sy geselskap te laat voel, so byna asof hy aan die oorkant van die kombuistafel sy eerste koppie koffie in jou geselskap geniet.

“Die oomblik wat ek in die ateljee instap en ek sit die mikrofoon aan en sê: “Goeiemore”, dan weet ek daar is iemand wat luister. Jy weet jy saai vir daardie een mens uit. Dit maak ons werk so ongelooflik lekker.”

Derrich vertel dat hy eintlik sy hele lewe lank ʼn omroeper wou word en dat die Randse Afrikaanse Universiteit, deesdae die Universiteit van Johannesburg, sy eerste keuse was juis omdat die universiteit ʼn kampusradio gehad het. Na afloop van sy studies het hy ʼn stemtoets by die ou Radio Hoëveld, wat mettertyd Highveld Stereo sou word, afgelê en geslaag. Hy is egter nie sommer daar en dan agter die mikrofoon ingespan nie, maar moes eers ʼn hele paar kursusse voltooi voordat hy toegelaat is as uitsaaier.

Vat Vyf x 7

ʼn Belangrike deel van die sukses van Derrich se oggendskof op Saterdagoggende, is die Vat Vyf-insetsel elke week. Dan kry luisteraars die geleentheid om hulle vyf gunstelingliedjies uit te kies. Die luisteraar gesels dan met Derrich op die lug en vertel waarom elkeen van die liedjies ʼn spesiale plek in sy of haar lewe het.

“Die rede waarom Vat Vyf so besonder gewild is, is omdat die luisteraars hulle kan vereenselwig met die stories wat vertel word en die liedjies wat gekies word. Ek is telkemale verbaas oor die keuses wat mense vir my stuur. So leer ek elke keer nog iets van musiek. Partykeer ken ek nie eers ʼn liedjie nie en dan moet ek dit gaan soek. RSG se luisteraars val in die kategorie van mense met die hoogste kwalifikasies in die land en daarom moet ek baie goed navorsing doen. Jy kan nie die RSG-luisteraars om die bos lei nie,” vertel Derrich.

“Musiek gee beslis kleur aan jou lewe en volkleur aan jou siel. Met elkeen van hierdie Vat Vyf-CD’s moes ek baie moeite doen om die meesteropnames van sekere van die liedjies in die hande te kry. Gelukkig het die Internet die wêreld vir ons klein gemaak en via Facebook of die Internet kon ek van hierdie kunstenaars of platemaatskappye opspoor om die nodige toestemming te kry. Dit is die tipe moeite wat jy móét doen, want anders het jy net ʼn gewone CD in die mark met ʼn klomp liedjies daarop. ʼn Album sonder siel,” sê Derrich.

Oor die wenresep wat hy op Saterdagoggende beet het, draai Derrich geen doekies om nie. Jy moet jou gehoor ken, en deel raak van die gehoor sodat jy kan weet wat mense wil hê, sê hy.

Op ʼn Saterdagoggend sal hy nie sommer oor politiek of sport praat nie, want daar is ander programme wat dit doen. Hy het al geleer dat mense net wil wegkom en met al die verskillende gereelde gaste op sy program wat oor tuinmaak, omgewingsake, fotografie, motorkarre en so meer gesels, raak dit altyd ʼn heerlike kuieroggend.

Derrich saam met Saarkie se meisies.

Engels/Afrikaans

Hy vertel dat hy vir baie jare in Engels uitgesaai het voordat hy die pos by RSG gekry het. Dit was aanvanklik ʼn uitdaging, want sodra hy ʼn fout begaan het, sou een of ander luisteraar hom sommer oor die vingers tik. Hy lag en sê toe hy die eerste keer die woord “gatskop” op RSG gebruik het, het dit die luisteraars effe onkant gevang. Nou het dit gelukkig al ʼn algemene woord in die Afrikaanse woordeskat geword, en het Afrikaans beslis meer loslit geword.

“Afrikaans lê my na aan die hart, want dit is my moedertaal. Ek het egter in ʼn dubbelmedium-skool skoolgegaan en is net so vaardig in Engels. Tog dink ek Afrikaans is besonders, want ʼn mens kan jou net soveel beter uitdruk in Afrikaans. Wanneer ʼn mens deesdae uitsaai, kan jy natuurlik ʼn hogere Afrikaans gebruik, maar dan gaan jy beslis ʼn deel van jou gehoor vervreem. Mense praat net nie meer so ʼn stywe Afrikaans soos vroeër nie,” sê Derrich.

Hierin vind hy sy vreugde

Fotografie is een van sy stokperdjies.

Sy huis is in Northcliff Koppies wat uitkyk op die hele Johannesburg. Hy is besonder lief vir tuinmaak en vertel dat sy tuin soos ʼn stukkie toegegroeide woud in die stad lyk. Daar is altyd wonderlike voëls wat kom inloer om iets te ete te kry, en daarom lê daar ook altyd drie kameras gereed, reg vir aksie.

Fotografie is nog een van sy stokperdjies en van sy foto’s wat hy van die Johannesburgse stadskim geneem het, is waarlik asemrowend.

Waarin lê die vreugde van uitsaai vir Derrich, wonder ʼn mens. “In daardie eerste koppie koffie vroeg in die oggend,” spot hy, maar voeg vinnig by dat dit sommer ʼn grap is. “Die oomblik wat ek in die ateljee instap en ek sit die mikrofoon aan en sê: “Goeiemore”, dan weet ek daar is iemand wat luister. Iemand wat spesiaal is. Jy weet jy saai vir daardie een mens uit en hy is jou beste vriend. Dit maak ons werk so ongelooflik lekker.”

Alita Steenkamp