RSG Skatkis vol woordwalse tot Vrydagaand


RSG Skatkis is ‘n splinternuwe konsep waarmee RSG sy luisteraars vir vier dae lank met drama, woordkuns, ‘n dokumentêr en boonop ‘n eksklusiewe dubbeldoor-bekendstelling gaan bederf. Dit word moontlik gemaak deur ‘n borgskap van die Dagbreek Trust.

Die reeks aanbiedinge is gepas in die jaar waarin 80 Jaar van Afrikaanse Radio gevier word. Die gevierde en bekroonde kortverhaalskrywer Abraham H. de Vries is ook vanjaar 80 jaar oud en RSG het vier van sy kortverhale as opdrag-radiodramas laat verwerk. Dit vorm deel van RSG Skatkis en word oor verskeie aande uitgesaai.

André Kotzé het die vier verhale vir die radio verwerk. Die verhale is Jy moet jou by kry, Die rooi vaas, Dit was ‘n voorgevoel asook ‘n Poeliesman weet nooit.

Braam is een van die Sestigers en is onlangs met die NP van Wyk Louw-toekenning bekroon.

80 oftewel 80 jaar is ‘n deurlopende tema in hierdie radio-skatkis.

Die Tsjeggies-gebore Britse dramaturg sir Tom Stoppard, wat ook 80 is, se If You’re Glad, I’ll be Frank is destyds in Afrikaans vertaal en deur Margot Luyt opgevoer. Luisteraars sal dus sy klassieke Frank & Gladys ook kan hoor ter herdenking van Luyt wat vanjaar haar 70ste verjaardag gevier het. Die spelers sluit in Louw Verwey en Kitty Albertyn.

Marlene van Niekerk stel haar twee nuwe digbundels eksklusief in ‘n gesprek met die aktrise Susanne Beyers bekend. Van Niekerk se bundels, Gesant van die mispels asook In die stille agterkamer verskyn gesamentlik later vanjaar. Van Niekerk sal ook vir RSG Skatkis van haar nuwe verse voorlees.

Die akteur Johny Klein gaan van die bobaas-storieverteller Ferdinand Deist se tydlose Sandveld-stories voorlees. Luisteraars gaan hoor van Hermaans Askies se opperasie, Die suster m’t die snor, asook die Dood vannie founmannetjie – heerlike buiklag-vermaak.

Die voordragkunstenaar en akteur Chris van Niekerk lewer ‘n kragtoer in Luigi Pirandello se Die man met die blom in sy mond. Pirandello sou vanjaar 150 jaar oud wees en hierdie kort drama gaan oud en jonk diep roer. Die Italiaanse dramaturg Luigi Pirandello wat Die man met die blom in sy mond geskryf het, het in 1934 die Nobelprys vir letterkunde ontvang vir sy “byna magiese kragte om sielkundige analise in goeie teater te omskep”. Van Niekerk speel teenoor Anrich Herbst en glo my, elke luisteraar sal ‘n handvol snesies byderhand moet hê.

Die skrywer-digter Kirby van der Merwe het spesiaal ‘n vernuwende versprogram vir RSG Skatkis saamgestel en gaan verras met die verse wat hy uit die literêre skatkis gelig het. Die gedigte en digters tree met mekaar in gesprek rondom die tema van ‘n “vertoonkas”.

Die aktrise June van Merch en sangeres-musikant Hilandi du Toit reis vreesloos deur ‘n vers- en klanklandskap in ‘n produksie getiteld Ry-ry rymlangs wat hulle vir RSG saamgestel het. Van Merch gaan van haar eie verse voorlees, maar meesters soos ID du Plessis, AG Visser, Ingrid Jonker, Adam Small en Antjie Krog kan ook gehoor word.

In Die Woordemaker, ‘n dokumentêr deur Ina Strydom ter huldiging van W.A. de Klerk wat vanjaar ‘n eeu oud is, kry die skryfkuns van dié groot Afrikaanse literêre figuur nuwe lewe, terwyl RSG se uitvoerende regisseur: drama Kobus Burger uittreksels van wyle Ryk Hattingh se bekroonde roman, Huilboek, in ‘n aangrypende program saamgestel het.

Veteraan-akteurs soos wyle Limpie Basson kan gehoor word in Thornton Wilder se Ons dorp, wat destyds deur Suzanne van Wijk opgevoer is. Ons dorp is in 1937 geskryf en dus ook 80 jaar oud. Dit het in 1938 die Pulitzer-prys vir Drama ontvang is steeds gewild in Suid-Afrika en word nog gereeld (gewoonlik in Engels) opgevoer.

En dan is Krisjan Fourie, Nic de Jager en Paul Riekert reg om laataand die spoke op te jaag in Die onsigbares. Die “spook” van die gifmoordenaar Daisy de Melker gaan in hierdie reeks haar verskyning maak.

Die aanbiedinge begin saans om 19:00. Die eerste aand van RSG Skatkis sal egter tussen 20:00 en 21:00 gehou word. Van Woensdag tot Vrydag is dit van 19:00 tot 22:00. RSG Skatkis sal deur Christelle Webb-Joubert en Renske Jacobs aangebied word.

Luister hier na die bekendstelling van Skatkis.

Die program

Van Dinsdag 28 November tot Vrydag 1 Desember 2017

Dinsdag 28 November

Johny Klein

20:00 Die oorbesige prekkereer deur Ferdinand Deist PROSA Debuut

Voorgelees deur Johny Klein

“Vir al wat ek weet, is daar darem ‘n paar prekkeers innie hemel ook.” Die klein donkerkop Viljee’tjie was ‘n “oorlams mannetjie” en die dorp se prokureur, maar in die hierdie verhaal vang Slim toe heel onverhoeds sy baas!

Ferdinand Deist was ‘n bobaas-storieverteller. Hy “spot fyn en spaar niks of niemand nie” (Insig). Luister hoe verhale uit Die pomporrel-konsert en ander Sandveldstories “soos ‘n bontspul vygies uitbars”.

Regie: Kobus Burger

Hier is ‘n klankgreep:

 

20:15 Die bont by raak weg deur Baron von Münchhausen (vertaal deur Pieter W. Grobbelaar) PROSA Debuut

Voorgelees deur Johann Botha

Luister na ‘n uittreksel:

 

Johan en Lida Botha

20:30 Braam Vier: Jy moet jou by kry deur Abraham H. de Vries (vir die radio verwerk deur André Kotzé) RADIODRAMA Debuut

Met Johan en Lida Botha, Royston Stoffels, Pieter Cillié, Jarrid Geduld, Keenan Herman en André Samuels

Geïnspireer deur die Baron von Münchhausen-sprokie, Die bont by raak weg (Uit: Die mooiste Afrikaanse sprokies, vertaal deur Pieter W. Grobbelaar) handel dié verhaal oor ’n boer wat na ’n verlore by gaan soek. Die gegewe is op die eerste vlak ietwat absurd en klugtig, want hoe sal ’n mens in die eerste plek besef dat één by uit ’n hele korf nie meer op jou plaas is nie?

Gou raak dit egter duidelik dat die bruin by ’n metafoor is vir iets veel meer as net ’n verlore insek: Dit is ’n soektog na die syferplekke van Afrikaans in die woorde van professor Tony Links. Die boer kom uiteindelik tot die besef dat die by en die rykdom van sy heuning uit die staanspoor nooit verlore wás nie.

Regie: Eben Cruywagen

‘n Kort klankgreep:

 

Nic de Jager

20:50 Die onsigbares: Wolkbreuk – deur Krisjan Fourie. Stem: Nic de Jager. Musiek: Paul Riekert VERNUWING Debuut

‘n Anderse staar in die vreemde. Hierdie verhale is nie eintlik spookstories nie, maar het ‘n geskiedkundige grondslag. Dit verken Suid-Afrikaanse gebeure en mense in ‘n vermenging van woorde, stem en klank. Gebeure soos die Laingsburg-vloed, die eerste hartoorplanting, die gifmoordenares Daisy de Melker asook die vrou wie se lyk regoor Johannesburg in stukke gevind is, word vertel. Die onsigbares is geskryf deur Krisjan Fourie en word meesterlik voorgelees deur Nic de Jager met die sinistere sout-en-peper-klanklandskap van Paul Riekert (van Battery 9-faam).

Klankgreep:

 

21:00 Nuus en weer

21:10 Boekvoorlesing

21:20 RSG Kuns

Woensdag 29 November

Ferdinand Deist

19:00 Die dood vannie founmannetjie deur Ferdinand Deist PROSA Debuut

Voorgelees deur Johny Klein

Ou Lettie Ingelbrê kon nou vir jou geskinner ‘t! Dis nou één swak wat die ou siel gehad ‘t wat sy net nie ontslae van kan geraak ‘t nie. Totdat die gemeenskap ‘n plan beraam om haar in die bek te ruk…

Ferdinand Deist was ‘n bobaas-storieverteller. Hy “spot fyn en spaar niks of niemand nie” (Insig). Luister hoe verhale uit Die pomporrel-konsert en ander Sandveldstories “soos ‘n bontspul vygies uitbars”.

Regie: Kobus Burger

Klankgreep:

 

Kirby van der Merwe

19:15 Vertoonkas: Versprogram, saamgestel deur Kirby van der Merwe POëSIE Debuut

Met die stemkunstenaars Johann Nel, Joanie Combrink, Chris Majiedt, Anthony “Speedo” Wilson, Pieter van Zyl en Randy Januarie

’n Vitrine is ’n glaskas, vertoonkas, vertoonvenster van ’n winkel, ’n diorama . . .   selfs die ou museumkiste wat by skole die rondte gedoen het waarin artikels, aandenkings, snuisterye, memento mori en trivia uitgestal word.

Kyk saam met Kirby van der Merwe en digters soos Martjie Bosman, Sipho Sepamla, C. Louis Leipoldt, Andries Bezuidenhout, Motshile Nthodi, Jolyn Phillips, Dan Roodt, D.J. Opperman, Johan Myburg en N.P. Van Wyk Louw deur die glaspanele, deur die ruite na binne en vanuit die verseëlde vertoonkas na buite deur die spieël in ’n raaisel.

Klankgreep:

 

Elsa Joubert

19:45 Spertyd deur Elsa Joubert (Deel 1) PROSA Debuut

Voorleser: Juanita Swanepoel

Selde is daar al so eerlik, met ‘n totale afwesigheid van sentimentaliteit, geskryf oor die oudwordproses. Alles geteken in ryke detail en met die kenmerkende woordvaardigheid van een van Afrikaans se mees gevierde skrywers. Spertyd, voltooi in Elsa Joubert se 95ste lewensjaar, is ‘n merkwaardige werk wat geen luisteraar onaangeraak sal laat nie. Luister na uittreksels uit hierdie splinternuwe werk.

Regie: Ronel Geldenhuys

 

20:00 Inleidende gesprek met Abraham H. de Vries (80) Debuut

Braam de Vries

20:10 Braam Vier: Die rooi vaas deur Abraham H. de Vries (vir die radio verwerk deur André Kotzé) RADIODRAMA Debuut

Met Roeline Daneel, Trude Gunther, Wessel Pretorius en Lida Botha

’n Jong meisie se tante lê op sterwe. Tydens een van haar talle besoeke aan die sterwende vrou, word sy gevra om ’n rooi vaas uit ’n kas te haal. Dit is die mooiste vaas wat sy nog in haar lewe gesien het en sy ontwikkel ’n obsessie om die vaas ná haar tante se afsterwe te besit. Maar hoe moet sy te werk gaan om haar tante te oorreed om die vaas aan haar te bemaak, sonder om blatant daarom te vra? Nadat sy egter die verhaal oor die oorsprong van die vaas gehoor het, verkeer sy in ’n ernstige gewentenswroeging. Enersyds is die vaas ál waaraan sy kan dink en kan sy letterlik nie wág vir haar tante se afsterwe nie, maar terselfdertyd voel sy diep skuldig oor haar obsessiewe gedrag. Uiteindelik het die noodlot bepaal wat met die vaas gebeur. Of was dit dalk nie…?

Regie: Eben Cruywagen

Klankgreep:

 

Wessel Pretorius

20:30 Braam Vier: ‘n Poliesman weet nooit deur Abraham H. de Vries (vir die radio verwerk deur André Kotzé) RADIODRAMA Debuut

Met Pieter Cillié, Wessel Pretorius, Johan Botha en Eben Cruywagen

’n Boer ontbied die polisie een Saterdagaand na sy plaas om van sy plaaswerkers te kom arresteer. Naas ’n klag van rusverstoring, lê hy ook klagte van brandstigting en moord. Die jong ondersoekbeampte wat aangewys word om na bewyse in die voormalige bywonershuisie te gaan soek, spandeer ’n hele nag daar en ondersoek die inhoud van die huis nie minder nie as drie keer. Sonder om enige bewyse van moord of brandstigting te vind. Hy moet sy bevinding aan die staatsaanklaer verduidelik, en maak ’n verrassende onthulling.

Regie: Eben Cruywagen

Klankgreep:

 

Elsa Joubert

20:45 Spertyd deur Elsa Joubert (Deel 2) PROSA Debuut

Voorleser: Juanita Swanepoel

Selde is daar al so eerlik, met ‘n totale afwesigheid van sentimentaliteit, geskryf oor die oudwordproses. Alles geteken in ryke detail en met die kenmerkende woordvaardigheid van een van Afrikaans se mees gevierde skrywers. Spertyd, voltooi in Elsa Joubert se 95ste lewensjaar, is ‘n merkwaardige werk wat geen luisteraar onaangeraak sal laat nie. Luister na uittreksels uit hierdie splinternuwe werk.

Regie: Ronel Geldenhuys

21:00 Nuus en weer

21:10 Boekvoorlesing

21:20 Tweeluik: Marlene van Niekerk-bekendstelling POëSIE Debuut

Die internasionaal bekroonde digter en romansier Marlene van Niekerk in gesprek met die aktrise Susanne Beyers oor haar dubbeldoor-digbundels wat deur Human & Rousseau gepubliseer word en vroeg in 2018 beskikbaar sal wees.

Van Niekerk lees vir die eerste keer en eksklusief uit haar bundels In die stille agterkamer: Gedigte by die skilderye van Jan Mankes 1889-1920 asook Gesant van die mispels: Gedigte by die skilderye van Adriaen Coorte ca. 1659-1707 voor.

Volgens wyle Henning Snyman is die bundels ‘n “poëtiese én grammatikale kragtoer”, en ‘n “ryke aanwins tot die Afrikaanse digkuns en kunsbeskouing”.

 

Klankgreep:

 

21:50 Die onsigbares: Gordyn – deur Krisjan Fourie. Stem: Nic de Jager. Musiek: Paul Riekert VERNUWING Debuut

‘n Anderse staar in die vreemde. Hierdie verhale is nie eintlik spookstories nie, maar het ‘n geskiedkundige grondslag. Dit verken Suid-Afrikaanse gebeure en mense in ‘n vermenging van woorde, stem en klank. Gebeure soos die Laingsburg-vloed, die eerste hartoorplanting, die gifmoordenares Daisy de Melker asook die vrou wie se lyk regoor Johannesburg in stukke gevind is, word vertel. Die onsigbares is geskryf deur Krisjan Fourie en word meesterlik voorgelees deur Nic de Jager met die sinistere sout-en-peper-klanklandskap van Paul Riekert (van Battery 9-faam).

Klankgreep:

22:00 Tjil

 

Donderdag 30 November

19:00 Die suster m’t die snor deur Ferdinand Deist PROSA Debuut

Voorgelees deur Johny Klein

Ou suster Anna was ‘n onkantige ent mens gewees en dan’t sy pebliek ‘n snôr onner haar neus gehad – ‘n pikswarte. Die ou Skot Mister Miknemara is bedlêend en sorg eendag dat ou suster Anna sowaar ‘n glimlag onner daai snôr kry.

Ferdinand Deist was ‘n bobaas-storieverteller. Hy “spot fyn en spaar niks of niemand nie” (Insig). Luister hoe verhale uit Die pomporrel-konsert en ander Sandveldstories “soos ‘n bontspul vygies uitbars”.

Regie: Kobus Burger

Klankgreep:

 

Kitty Alberrtyn

19:15 Frank & Gladys deur Tom Stoppard (vertaal deur Roy Niemann) ARGIEF RADIODRAMA

Met Lourens Cillié, Leona Rich, Dawie Ackerman, Trudie du Plessis, Louw Verwey, Kitty Albertyn, Amanda Muller, Paul Malherbe, Limpie Basson, Christine Liebenberg, Johan Rademan en Roy Niemann

Margot Luyt

Frank skakel die telefoondiens wat die korrekte tyd aandui, maar herken dadelik die vrouestem aan die ander kant van die lyn. Dis sy oorlede vrou, Gladys! Hy besluit om die gebou wat hierdie diens lewer, binne te vaar en te eis dat die Owerhede sy vrou vrylaat. Die op-die-oor-af lighartige storie is eintlik satiriese kommentaar op die mens se gebondenheid aan tyd (én die horlosie). If You’re Glad I’ll Be Frank is vir die eerste keer in 1966 op die BBC-radiodiens uitgesaai.

Regie: Margot Luyt

Klankgreep:

 

Chris van Niekerk, Christelle Webb-Joubert en Anrich Herbst

19:50 Die man met die blom in sy mond deur Luigi Pirandello (vertaal deur F.P. van der Merwe) RADIODRAMA Debuut

Met Chris van Niekerk & Anrich Herbst

Die Italiaanse dramaturg Luigi Pirandello wat Die man met die blom in sy mond geskryf het, het in 1934 die Nobelprys vir letterkunde ontvang vir sy “byna magiese kragte om sielkundige analise in goeie teater te omskep”.

Chris van Niekerk het met die teks kennis gemaak as student en hy lewer ‘n kragtoer in die stuk. Pirandello sou vanjaar 150 jaar oud wees en hierdie kort drama gaan oud en jonk diep roer.

Die regisseur, Christelle Webb-Joubert laat weet die grootste uitdaging is om die lang stukke dialoog lewendig te hou en die luisteraar se aandag te behou. Pirandello se woordryke teks en Van Niekerk se sielvolle vertolking het egter haar werk baie maklik gemaak.

Regie: Christelle Webb-Joubert

 

Kyk na die kort video:

Klankgreep:

 

June van Merch is nie net ‘n uitstekendevertolker nie, maar in Ry-ry rymlangs op RSG hoor ons o.a. van haar eie gedigte, soos Hotnotsgot en Bewissie.

20:20 Ry-ry rymlangs met June van Merch & Hilandi du Toit POëSIE & MUSIEK Debuut

Ry-ry rymlangs is ‘n program met werk van gevestigde en bekende digters tot meer gewaagde en eiesoortige werk van Hilandi du Toit en June van Merch.

Hilandi du Toit gebruik 4 verskillende kitare in Ry-ry rymlangs wanneer sy van haar eie liedtekste voordra in SKATKIS voorhou.

Suid-Afrikaans geïnspireerde temas, soos die liefde in alle vorme, neem gestalte aan met vier verskillende kitare wat bespeel word deur Du Toit waarin haar eie lyflike liedtekste na vore kom.

Van Merch dra verskeie gedigte voor en waag ook haar eie hand aan die digkuns saam met die regisseur Johan Rademan wat saam met Hilandi en June die program saamgestel het.

Ras, geslag en ander kwessies word aangeroer in werke soos Hotnotsgot, Bruinman en Spesiale Algemene Sinode sitting van die NG Kerk 2016 oor gay-liefde en dan word die onbevange oomblikke gedeel met Ingrid Jonker se Begin Somer wat oorloop in Die somer het ‘n geelrok aan  (Du Toit) en Bewissie (Van Merch), waarin sy haar liefde vir haar bromponie besing.

Regie: Johan Rademan

Johan Rademan(RSG-regisseur) en Hilandi du Toit (kitaar en stem) in die RSG-SKATKIS ateljee in Kaapstad aan die repiteer.

Die Ry-ry rymlangs span: Kilian Abrahams (produksie-assistant), Riccardo McCarthy (produksie-regisseur), June van Merch (digter,voordraer en sanger), Johan Rademan (RSG-regisseur), Hilandi du Toit (kitare en stemwerk).

Klankgreep:

 

21:20 Nuus en weer

21:30 Boekvoorlesing

Roeline Daneel

21:40 Braam Vier: Die voorgevoel deur Abraham H. de Vries (vir die radio verwerk deur André Kotzé) RADIODRAMA Debuut

Met Johan en Lida Botha, Pieter Cillié, Roeline Daneel en Wessel Pretorius

Twee broers het weens ’n familietwis vir drie en twintig jaar lank nie kontak met mekaar gehad nie. Die oudste broer het ernstig siek geword en op sy sterfbed vra die gesinsdokter hom of hy die jonger broer moet ontbied om te kom afskeid neem, maar die koerante het ’n berig geplaas waarin gemeld is dat die jonger broer ’n belangrike prys in Swede sou ontvang. Gevolglik wou die ouer broer nie inbreuk maak op sy kleinboet se prestasie nie.

Die jonger broer daag egter skielik op omdat hy skynbaar iewers van sy ouboet se siekte gehoor het. Of het hy dalk op ’n gans ánder voorgevoel gereageer?

Regie: Eben Cruywagen

Klankgreep:

 

Krisjan Foruie

21:55 Die onsigbares: Moeder – deur Krisjan Fourie. Stem: Nic de Jager. Musiek: Paul Riekert VERNUWING Debuut

‘n Anderse staar in die vreemde. Hierdie verhale is nie eintlik spookstories nie, maar het ‘n geskiedkundige grondslag. Dit verken Suid-Afrikaanse gebeure en mense in ‘n vermenging van woorde, stem en klank. Gebeure soos die Laingsburg-vloed, die eerste hartoorplanting, die gifmoordenares Daisy de Melker asook die vrou wie se lyk regoor Johannesburg in stukke gevind is, word vertel. Die onsigbares is geskryf deur Krisjan Fourie en word meesterlik voorgelees deur Nic de Jager met die sinistere sout-en-peper-klanklandskap van Paul Riekert (van Battery 9-faam).

Klankgreep:

 

22:05 Tjil

Vrydag 1 Desember

19:00 Hermaans Askies se opperasie deur Ferdinand Deist PROSA Debuut

Voorgelees deur Johny Klein

Hermaans Askies word deur die blondekop vrouedoktertjie versoek om hom tot op sy “menslikheid” uit te trek. En toe word hy skielik gevra om die laken te laat sak… Wat nou?

Ferdinand Deist was ‘n bobaas-storieverteller. Hy “spot fyn en spaar niks of niemand nie” (Insig). Luister hoe verhale uit Die pomporrel-konsert en ander Sandveldstories “soos ‘n bontspul vygies uitbars”.

Regie: Kobus Burger

Klankgreep:

 

WA de Klerk

19:15 Die Woordemaker – W.A. de Klerk 100, ‘n dokumentêr deur Ina Strydom DOKKIE Debuut

‘n Skatkis bied die geleentheid tot ontdekking en herontdekking – en dikwels lewer dit besondere vondste op, soos die werk van W.A. de Klerk wat vanjaar 100 jaar oud sou wees. Dis ‘n herontdekking van die werk van ‘n meestervakman; ‘n woordsmid by uitstek. De Klerk was radioman, advokaat en skrywer. Toe die skryfgogga hom beetpak , het hy besef advokaatwees en skrywerskap is wedersyds uitsluitend en hy het hom op sy plaas Saffier naby die Paarl gaan vestig waar hy ‘n vrugtekweker was. De Klerk was ‘n veelsydige skrywer en het jeugverhale, reisverhale, essays, romans en dramas geskryf.

Sy nalatenskap sluit in die romans Die Uur van Verlange, en Die Wolkemaker; jeugverhale soos Willemien se Ligte Dae; en dramas soos Die Jaar van die Vuuros waarvoor hy ook met die Hertzogprys bekroon is. De Klerk het ‘n hartgrondige belangstelling in en liefde vir die natuur en die mens  gehad.  Hy het geglo dat ‘n mens met “skroei-eerlikheid” na die wêreld om jou moet kyk sodat jy die patrone kan herontdek. Dié hoorbeeld is ‘n viering van dié veelkantige vakman se werk.

 

Richard van der Westhuizen

19:40 Huilboek deur Ryk Hattingh PROSA Debuut

Voorgelees deur Richard van der Westhuizen & Denver Vraagom

“Die wenboek van vanjaar se kykNET-Rapportprys vir fiksie is ’n verhaal wat oor baie dinge gaan. Een daarvan is taal en verlange, hoe die taal Afrikaans self  ’n uitdrukking word van ’n verlange wat in sy wese onvervulbaar is, en die boek ’n liefdesbrief van ver af, sonder adres.

Denver Vraagom

Die onheelbare pyn van ’n vader wat nie van sy seun gehou het nie is miskien die gravitasiekolk, die black hole in die boek waarheen alles neig, maar van waar geen lig kan kom nie.”

Ryk Hattingh

 

‘n Nuwe werk deur wyle Ryk Hattingh; sy eerste in negentien jaar. Helder en poëties en tegelyk liries en wys, en meedoënloos eerlik.

Regie: Kobus Burger

 

Thornton Wilder

20:15 Ons dorp deur Thornton Wilder ARGIEF RADIODRAMA

Met Johan van Jaarsveld (as die toneelmeester), Limpie Basson, Isabella Bosman, Dawie Maritz, Christine Liebenberg, Stanley Nel, Pieter Cillié, Johan Botha, Marko van der Colff, Jurie Hanekom, Albert Maritz, Phillip du Plessis en Dorothea van Schalkwyk

Die Amerikaanse dramaturg Thornton Wilder se Our Town is vanjaar 80 jaar oud en is in 1938 met die Pulitzer-prys vir Drama bekroon. Die immergroen verhaal handel oor die mense van Grover’s Corners in New Hampshire. Die luisteraars volg die Gibbs- en Webb-gesinne oor ‘n tydperk van twaalf jaar; deur hul

Limpie Basson

alledaagse lewe, liefde en trou tot en met die dood en ewigheid. Deur die geliefdes Emily en George, hul sterk en liefdevolle ouers asook die vele ander plaaslike mense lewer Wilder universele waarhede oor wat dit is om mens te wees. Propvol humor en spitsvondigheid is Ons dorp steeds een van die mees opgevoerde, tydlose en klassieke verhoogdramas.

Regie: Suzanne van Wijk

21:45 Nuus en weer

21:55 Boekvoorlesing

 

Krisjan Foruie

22:05 Die onsigbares: Hartstog – deur Krisjan Fourie. Stem: Nic de Jager. Musiek: Paul Riekert VERNUWING Debuut

‘n Anderse staar in die vreemde. Hierdie verhale is nie eintlik spookstories nie, maar het ‘n geskiedkundige grondslag. Dit verken Suid-Afrikaanse gebeure en mense in ‘n vermenging van woorde, stem en klank. Gebeure soos die Laingsburg-vloed, die eerste hartoorplanting, die gifmoordenares Daisy de Melker asook die vrou wie se lyk regoor Johannesburg in stukke gevind is, word vertel. Die onsigbares is geskryf deur Krisjan Fourie en word meesterlik voorgelees deur Nic de Jager met die sinistere sout-en-peper-klanklandskap van Paul Riekert (van Battery 9-faam).

22:15 Tjil