RSG Kunstefees: Sondag 15 November


Klik hier vir die volledige RSG Kunstefees program.

SONDAG 15 NOVEMBER
15:00 Rapsodie op Gershwin
16:30 Lobola vir die lewe deur André P. Brink
18:15 Maria – Moeder van God deur Adam Small  [DEBUUT]

15:00 Rapsodie op Gershwin
met Charl du Plessis, Corlea Botha, Musanete & die Boogie Woogie Big Band bestaande uit Juan “Floors” Oosthuizen (kitaar), Werner Spies (kontrabas), Hugo Radyn (tromme), Brendan Ross (alt saxofoon), Matthew Lombard (tenoor saxofoon), Donny Bruwer (trompet) en Speedy Skobak (tromboon)

Charl du Plessis en sy orkes speel immergroen musiek van sy gunstelingkomponis, George Gershwin. Summertime, Rhapsody in Blue en I Got Rhythm kry nuwe lewe in hierdie vars verwerkings deur Du Plessis en die Boogie Woogie Big Band. Corlea en Musanete vermeng jazz, pop en blues met ‘n skeutjie improvisasie wanneer hulle treffers soos I Loves You Porgy, Our Love is Here to Stay en Embraceable You afstof. Verwag ‘n musikale luistersensasie vir die hele gesin.

RSG-luisteraars sal na die gratis regstreekse konserte (Rapsodie op Gershwin en Chriskras) genooi word, wat vanuit die M1-ouditorium in Auckland Park uitgesaai sal word.

16:30 Lobola vir die lewe deur André P. Brink
Met die onlangse viering van Afrikaans se 90ste verjaardag is die uitgewer Leon Rousseau gevra om sy lys van die tien beste en invloedrykste boeke van die afgelope nege dekades saam te stel. Rousseau, een van die stigterslede van die uitgewer Human & Rousseau, het wyle ­André P. Brink se Lobola vir die lewe (1962) as die tweede beste Afrikaanse roman tot nog toe bestempel. Wyle André P. Brink sou in Mei vanjaar 80 jaar oud wees.

Lobola handel oor die belewenisse van ’n verbitterde, ontnugterde jong skrywer-joernalis wie se lewe weens tragiese gebeure dreig om in duie te stort. Hulp uit ’n onverwagse oord bring egter hoop en die geleentheid om van voor af te begin.

Met Johann Nel, Anrich Herbst, Deirdre Wolhuter, Ronel Geldenhuys, Piet Beyers, Ivan Abrahams en Pieter Cillié. Die RSG-verwerking van hierdie roman word uitgesaai met die vergunning van die André P. Brink Literêre Trust.

Regie: Eben Cruywagen

18:15 Maria – Moeder van God deur Adam Small [DEBUUT] Moontlik gemaak deur die Cordis Trust

Hierdie splinternuwe drama uit die pen van die Hertzogpryswenner is vir die Katolieke Adam Small die vervulling van ‘n hunkering sedert sy jeugjare om ‘n drama oor Maria, die moeder van Jesus, te skryf. Ook om sy Rooms-Katolieke skoling op die Kaapse Vlakte in herinnering te roep en erkentenis aan die Islamitiese invloede in sy lewe vorm te gee. ‘n Kontemporêre lydensverhaal met Maria (Leandé Valentyn) en Josef (Chris Majiedt) word in ‘n makro-drama, soos ‘n Uberammergau-spel, nuwe gestalte gegee.

“Van die eerste spreekbeurt af kan die poëtiese aanslag, woordkuns en gees van Small se vorige werke soos Kanna hy kô hystoe herken word,” sê die dramaturg Schalk Schoombie.

Die rolle word vertolk deur Deon Lotz, Leandé Valentyn (Maria), Chris Majiedt (Josef), Ivan Abrahams, Marlo Minnaar, De Klerk Oelofse, André Samuels en Hannah Borthwick, Morné Visser, André Samuels, Freda van den Heever en Roeline Daneel.

Regie: Johan Rademan.

Deon Lotz (Pontius Pilatus), Chris Majiedt (Josef), Andre Samuels (Moordenaar) en Ivan Abrahams (Moordenaar)

Deon Lotz (Pontius Pilatus), Chris Majiedt (Josef), Andre Samuels (Moordenaar) en Ivan Abrahams (Moordenaar) by Johan Rademan (links).

 

Twitter: @zarsg

#RSGfees

Besoek ook RSG se video-kanaal op YouTube