Ons het gees


Dinsdag 17 Nov om 19:10

Ons het gees deur Anton Treurnich DEBUUT
‘n Trein vol hoërskoolleerders is op pad na die jaarlikse interskole. Dit is ‘n nag vol tradisie, poetse, passie, liefde, hartseer en gevaar. ‘n Reis wat hulle almal sal verander en niemand sal vergeet nie…

Altesame elf jong akteurs, waarvan die meeste tans nog in die skoolbanke, debuteer in ‘n opdrag-jeugdrama uit die pen van die gewilde radioskrywer, Anton Treurnich. Al 11 jong akteurs tree vir die eerste keer in ‘n radiodrama op.

Met Patricia Baadjies, Luka Geldenhuys, Du Toit Albertze, Dealan Fredericks, Carla Smith, Jeani Heyns, Lise-Mari van Wyk (lees storie onder), Liam Walsh, Luke White, Margo Kotzé en Nienke Geldenhuys.
Regie: Eben Cruywagen

Dié video is tydens die opnames geneem:

Jong visueel gestremde aktrise se ‘stil, innerlike krag’ beïndruk

lise-marie van wyk2 copy

“Ek maak nie dikwels voorspellings nie, maar nou maak ek wel een: Lise-Mari van Wyk sal nog as een van die grootste onder die grotes gereken word.”

Só sê die regisseur Eben Cruywagen oor Van Wyk, ‘n visueel gestremde aktrise en ‘n graad 9-leerling van die Pionierskool vir Siggestremdes in Worcester, wat tydens die RSG Kunstefees in die jeugdrama Ons het gees haar radiodrama-debuut maak.

Ons het gees debuteer op Dinsdag 17 November om 19:10 tydens die RSG Kunstefees.

Van Wyk (15) het vanjaar aan die Nasionale Toneelspelkompetisie vir hoërskoolleerlinge in Kaapstad deelgeneem. Dit is hier waar Kobus Burger, RSG se uitvoerende regisseur: drama, haar verhoogtalent opgemerk het en haar na die radiodrama-ateljee genooi het vir ‘n oudisie. “Ek was uit die staanspoor beïndruk met haar natuurlikheid en fyn aanvoeling vir radiospel.”

Cruywagen deel Burger se siening. “Haar werksetiek is prysenswaardig. Sy is gefokus, toegewyd en verstommend professioneel. Trouens, ek sal haar met volle vertroue in enige produksie gebruik waar sy met die grootste onder die grotes in die Kaapse radiospelerskring moet kombineer. As Lise-Mari vier hande gehad het, het sy hierdie geleentheid met al vier aangegryp.”

Burger het gereël dat die teks van Ons het gees, ‘n opdragwerk deur Anton Treurnich, vir Van Wyk in braille gedruk word. En Cruywagen sê dat die ander jong spelers soms met hul papier gesukkel het, maar dat hy nie een keer vir Van Wyk hoef te onderbreek het omdat sy hoorbaar geblaai het nie.

Take a bow, Lise-Mari. Jy het jou stempel afgedruk. As regisseur respekteer ek jou dissipline en jou professionaliteit. As mens bewonder ek jou waagmoed, jou durf en jou stil, innerlike krag.”

Van Wyk sê sy het verskriklik baie geleer tydens die opname. “Die lekkerste was vir my om in ‘n ateljee te wees en toneel te speel, en dan ook om te weet dat dit wat nou opgeneem word, regtig uitgesaai gaan word.

“Vandat ek klein was, het ek en my suster, Karin, saam na die kinderstories op radio geluister. En soos ek ouer geword het, het ek meer en meer radio geluister, veral die Radioteaters en middagvervolgverhale.

“Radio is vir my soos TV. As ek iets op die radio hoor, dan verbeel ek my hoe dit dalk lyk, en so kan ek myself lekker inleef in ‘n storie.

“My groot droom is om eendag ‘n beroemde radio- en verhoogaktrise en ook ‘n konsertpianis te wees.”

Ons het gees word op Dinsdag 17 November om 19:10 as deel van die RSG Kunstefees 2015 uitgesaai. Van Wyk kan saam met tien ander jong akteurs gehoor word. Die akteurs het almal aan die Nasionale Toneelspelkompetisie vir hoërskoolleerders deelgeneem en is toe deur RSG gekies om ‘n rol in ‘n radiodrama te vertolk. Hullr is Patricia Baadjies, Luka Geldenhuys, Du Toit Albertze, Dealan Fredericks, Carla Smith, Jeani Heyns, Liam Walsh, Luke White, Margo Kotzé en Nienke Geldenhuys.