Ons kondig aan: RSG Kunstefees 2015


Klik hier vir die volledige RSG Kunstefees program.

Nuwe drama uit pen van Adam Small op RSG Kunstefees

RSG se bekroonde op die lug kunstefees begin vanjaar met ‘n Gershwin-konsert en die debuut van die Hertzogpryswenner Adam Small se splinternuwe drama, Maria, Moeder van God.

RSG Kunstefees begin op Sondag 15 November om 15:00 en word op Vrydag 20 November om 22:00 afgesluit. Die fees word op 100 tot 104 fm gehou of op DStv-kanaal 913. Al die feesaanbiedinge is gratis. Die fees kan ook aanlyn beleef word op rsg.co.za.

Christelle Webb-Joubert en Johan van Lill sal elke dag die oggend-kunstefees (van 09:00 tot 12:00) aanbied en Renske Jacobs die aandprogramme (van 19:00 tot 22:00).

Die volledige daaglikse feesprogram sal teen Vrydag 30 Oktober beskikbaar wees.

Hier is enkele hoogtepunte wat op jou wag:

Musiek: Gershwin-konsert op 15 November
Die fees skop op Sondag 15 November af met Charl du Plessis, Corlea Botha, Musanete en die Boogie Woogie Big Band wat in Rapsodie op Gershwin immergroen-treffers soos Summertime, Rhapsody in Blue, I Got Rhythm en I Loves You Porgy gaan afstof.

RSG-luisteraars sal na die gratis regstreekse konserte (Rapsodie op Gershwin en Chriskras) genooi word, wat vanuit die M1-ouditorium in Auckland Park uitgesaai sal word.

maria moeder van godDrama: Adam Small se Maria, Moeder van God
Maria, Moeder van God
, moontlik gemaak deur die Cordis Trust, is ‘n kontemporêre lydensverhaal wat vir Small die vervulling is van ‘n hunkering sedert sy jeugjare om ‘n drama oor Maria, die moeder van Jesus, te skryf. Die rolle word vertolk deur onder andere Deon Lotz, Leandé Valentyn (Maria), Chris Majiedt (Josef), Ivan Abrahams, Marlo Minnaar, De Klerk Oelofse, André Samuels en Hannah Borthwick. Die verwerker en regisseur is Johan Rademan.

Deon Lotz (Pontius Pilatus), Chris Majiedt (Josef), Andre Samuels (Moordenaar) en Ivan Abrahams (Moordenaar)

Deon Lotz (Pontius Pilatus), Chris Majiedt (Josef), Andre Samuels (Moordenaar) en Ivan Abrahams (Moordenaar) by Johan Rademan (links).

nataniel2Fees-afsluiting: Banket met Nataniël
Banket met Nataniël (foto links) is ‘n unieke feesmaal waarin Nataniël van sy beste stories met resepte, onthaalwenke, etiket, kosgeskiedenis en ongewone musiek gaan vermeng. Luister, raak lus, lag en leer met Nataniël. ‘n Onvergeetlike kuier en fees-afsluiting wat niemand durf misloop nie en verlede jaar se Nataniël vertel… gaan oortref.

Drama: Koos Prinsloo se Die Jonkmanskas
In ‘n besonder ambisieuse projek het RSG die omstrede kortverhaalskrywer Koos Prinsloo se Die Jonkmanskas as ‘n radiodrama verwerk. André Kotzé was die verwerker van hierdie uitsonderlike verhaal van konflik – tussen geslagte, gender, etniese groepe en veral die stryd binne een mens. Die skrywer Riana Scheepers se reaksie was “verwondering”. “Wat julle regkry, is om ‘n baie moeilike verhaal toeganklik te maak vir ‘n nuwe geslag luisteraars en lesers,” het dié Prinsloo-kenner die drama beskryf.

Wessel Pretorius vertolk die hoofrol en ander spelers sluit in Martelize Kolver, Leon Kruger, Esther von Waltsleben, Geon Nel, Piet Beyers en Roeline Daneel. Die regisseur is Joanie Combrink.

poen en toekie 1Kinderprogram: Poen en Toekie is terug
Die uiters gewilde radio-karakters Poen en Toekie het spesiaal die planeet Wopper verlaat om vir hul aardse maatjies, Bennie en Sarie, te kom kuier en ook aan die skool se kunstefees deel te neem. Poen en Toekie kom kunstefees toe is ‘n opdragwerk en sal van Maandag 16 tot Vrydag 20 November om 19:00 die fees-aand open.

Musiek: Ingrid Jonker se liefdesverse
In Korreltjie kantel herbesoek Luna Paige, Nick Turner, Medicine Boy, Hatchetman en Ottoman Slap van wyle Ingrid Jonker se liefdesverse in ‘n opdrag-musiekprogram. Dit is vanjaar ‘n halfeeu sedert Jonker se dood. Hoor hoe onder meer “Offerande”, “Fragment”, “O, die Halfmaan” en “Gistraand” deur opwindende en onverwagse musiekgroepe in musiek getooi word in opdrag van RSG Kunstefees.

Drama: Hennie Aucamp se Wolf-wolf hoe laat is dit?
Hennie Aucamp se Wolf-wolf hoe laat is dit? is deur die bekroonde radiodrama-regisseur Margot Luyt vir die radio verwerk. ‘n Groep van Suid-Afrika se teater-veterane is vir hierdie roerende opvoering oor die mens se stryd teen tyd bygeengebring. Die rolverdeling is Louis van Niekerk, Wilna Snyman, Lida Botha, Trix Pienaar, Kitty Albertyn, June Seymour, Neels Coetzee, Marga van Rooy, Juanita Swanepoel en Deidre Wolhuter.

Kitty Albertyn sal onthou word vir haar rol as Hybie in die radioverhaal Die Du Plooys van Soetmelksvlei en is op 92 jaar die oudste deelnemer aan RSG Kunstefees 2015.

Luyt het die geskiedkundige opname van Wolf-wolf hoe laat is dit? as “Die dag van die legendes” beskryf.

Die opname van die legendes: Van links na regs is: June Seymour, Marga van Rooy, Lida Botha, Wilna Snyman, Neels Coetzee, Juanita Swanepoel & Deidre Wolhuter

Die opname van die legendes: Agter van links na regs is: June Seymour, Marga van Rooy, Lida Botha, Louis van Niekerk, Wilna Snyman, Neels Coetzee, Juanita Swanepoel & Deidre Wolhuter. In die middel is Margot Luyt en Kitty Albertyn. Voor is Nic de Jager.

Marius2Drama: Marius Weyers in ‘n Verslag aan ‘n akademie
Marius Weyers (foto links in dié rol in Amerika) het vroeër vanjaar sy 70ste verjaardag gevier. Hy is nou vir die eerste keer op radio en in Afrikaans te hoor in Franz Kafka se ‘n Verslag aan ‘n akademie. Die oorspronklike verhaal is deur Arnold Blumer en Evette Weyers vertaal en deur Eben Cruywagen vir die radio verwerk. Marlo Minnaar en Petrus du Preez vertolk die ander rolle.

Verslag handel oor ‘n sjimpansee wat aan die Goudkus gevang en per skip na Hamburg geneem word. Nadat hy ‘n bottel brandewyn weggeslaan het, besef hy hy kan praat. Hy reis deur Europa en tree later voor groot gehore op. Totdat hy aan ‘n akademie verslag doen oor hoe hy sy dierlike aard oorwin het.

Weyers was in 1986 laas in Los Angeles in die Engelse solostuk te sien.

VERSLAG AKADEMIE: Marius Weyers, Evette Weyers (vertaler), Marlo Minnaar (akteur) Petrus du Preez (Akteur).

VERSLAG AKADEMIE: Marius Weyers, Evette Weyers (vertaler), Marlo Minnaar (akteur) Petrus du Preez (Akteur).

Musiek: Orrel en klavier konsert
Ockie Vermeulen (orrel) en Wessel van Wyk (klavier) speel unieke verwerkings van bekende werke deur onder andere Bach, Beethoven, Mozart en Karl Jenkins in 35 Pedale. Die pyporrel het homself al deur die eeue bewys as een van die veelsydigste klawerbordinstrumente, terwyl die klavier waarskynlik die gewildste instrument onder liefhebbers van die klassieke musiek is. Op versoek van RSG Kunstefees kan luisteraars hierdie spesiale byeenkoms van instrumente beleef.

Musiek: Benjamin Willem se Metamorfose klank-eksperiment
Benjamin Willem het al musiek vir meer as 18 rolprente en sowat 40 internasionale dokumentêre vir onder andere National Geographic en Discovery gekomponeer. Hy is ook al met ‘n silwer medalje tydens die New York Best of the World Film & Television Festival bekroon. In opdrag van RSG het hy saam met Basiami Segola ‘n aantal klanklandskappe geskep rondom die tema “evolusie”. Metamorfose is ‘n woordlose reis en klank-eksperiment wat tydens die RSG Kunstefees sal debuteer.

Les Javan

Musiek: ‘n Wydsbeen konsert
Vier van Suid-Afrika se voorste en mees uiteenlopende liedjieskrywers en musikante betree dieselfde verhoog in Wydsbeen, ‘n nuwe projek deur Les Javan (foto links). Javan, Riku Lätti, Churchill Naudé en Rian Malan vermeng plattelandse én stedelike stories in ritmes in ‘n kleurryke konsert wat spesiaal vir RSG Kunstefees geskep is.

Christ01Drama: Christo Davids se Tussen die bokse
Die akteur Christo Davids (foto links) se opdrag-radiodrama, Tussen die bokse, gaan luisteraars meer as net ‘n traan laat wegpink. ‘n Egpaar is besig om na jare hul huis op te pak. Tussen die foto’s en herinneringe deur ontdek hulle iets wat albei se lewens verpletter. Die spelers is Fatima Abdool, Duncan Johnson, Donovan Pietersen en Martin Jansen met Helena Hugo as die regisseur.

Jeugdrama: Ons vang gees
Altesame elf jong akteurs, waarvan die meeste tans nog op die skoolbanke, debuteer in ‘n opdrag-jeugdrama uit die pen van die gewilde radio-skrywer, Anton Treurnich.

‘n Trein vol hoërskoolleerders is op pad na die jaarlikse interskole. Dit is ‘n nag vol tradisie, poetse, passie, liefde, hartseer en gevaar. Ons vang gees is ‘n reis wat almal sal verander en niemand sal vergeet nie. Met Patricia Baadjies, Luka Geldenhuys, Du Toit Albertze, Dealan Fredericks, Carla Smith, Jeani Heyns, Lise-Marie van Wyk, Liam Walsh, Luke White, Margo Kotzé en Nienke Geldenhuys.

Storievertelling: Elias P. Nel in Oom Goltros vertel…
Elias P. Nel gaan weeksoggende sy buiging maak in die storievertel-vertoning Oom Goltros vertel… met musiek deur Joey Erasmus. Oom Goltros van Verneukpan gaan met sy “kwinksinnigheid” en enigmatiese verbeeldingsvlugte die luisteraars laat lag én kopkrap.

Stilteprojek
En die eksperimentele Stilte-projek waar kunstenaars genooi word om vyf minute se stilte met hul mees kreatiewe uiting te vul, is terug.

Sprokie: Philip de Vos se verse in moderne sprokie
Philip de Vos is alombekend vir sy lustige limerieke en prettige verse. In Boetie dit is tyd vir bid as ‘n seekoeikoei op jou skoot kom sit, word De Vos se verse in die vorm van ‘n moderne sprokie vervleg. Kostelike vermaak vir die hele gesin, saamgestel deur die regisseur Juanita Swanepoel met Wessel Pretorius en Cintaine Schutte.

Wessel Pretorius & Cintaine Schutte

Wessel Pretorius & Cintaine Schutte

Rubriek met musiek: Chriskras in woord en klank
Die voordragkunstenaar Paul Eilers het Chris Barnard se gewilde rubriek, Chriskras, afgestof. In die produksie Chriskras laat die sangeres Steffie le Roux en haar orkes Barnard se woorde musikaal sprankel. ‘n Viering van die lewe, wat regstreeks uitgesaai sal word.

Gedigte en musiek: Uys Krige, Lorca, Elma Potgieter en Schalk Jacobsz
Elma Potgieter en Schalk Jacobsz het die brug wat Uys Krige tussen Afrikaans en die werk van die Spaanse digter Federico Garcia Lorca gebou het, nagespeur. In Reis sonder einde word klaagliedere met die flamenco-ritmes van die kitaarmeesters Paco de Lucía en Ricardo Modrego se album Dos Guitarras Flamencas vermeng.

Schalk Jacobs & Elma Potgieter

Schalk Jacobs & Elma Potgieter

Gedigte: Hendrik J. Botha se Atropos
Hendrik J. Botha, ‘n narkotiseur en digter van Pretoria, is deur Henning Snyman as ‘n “ware vonds vir die Afrikaanse digkuns” beskryf. In Atropos, ook die titel van sy debuut-digbundel, kan verse oor jeugjare, sterflikheid en verlies gehoor word. Botha se digkuns word eksklusief tydens RSG Kunstefees bekendgestel.

Poësie: Ilse Salzwedel met Die woordketting
kuier weer met ‘n groep digters en die voorleser Elize Cawood rondom klassieke Afrikaanse gedigte, wat op heel komiese wyse nuwe lewe gegee word. Poësie was lanklaas soveel pret en Die woordketting sal – soos sy voorganger – luisteraars laat smeek vir meer.

Feeskunstenaar
Daar is ook vanjaar ‘n feeskunstenaar vir die visuele kunste, Diane Victor, en selfs ‘n geleentheid vir luisteraars om verskillende dansstyle te ervaar. Luisteraars sal ook aangemoedig word om self die verfkwas of potlood op te neem en ‘n landskap te skep.

Drama: André P. Brink se Lobola vir die lewe
En André P. Brink se Lobola vir die lewe – al beskryf as een van die tien invloedrykste boeke in Afrikaans – sal as radiodrama gehoor word.

Borgskappe: Cordis Trust en Dagbreek Trust
Naas die Cordis Trust het die Dagbreek Trust verskeie van vanjaar se feesproduksies geborg.

Toekennings
Die eerste radio-kunstefees is reeds met die Fleur du Cap-teaterprys vir vernuwing bekroon, asook onlangs met Business Arts South Africa se prys vir vernuwing.

 rsg.co.za

 Twitter: @zarsg

#RSGfees

 Besoek ook RSG se video-kanaal op YouTube