RSG Blokraaitoernooi weer by Vrystaatfees in Bloemfontein


Goeie nuus vir blokraai-verslaafdes is dat RSG se blokraaitoernooi weer vanjaar aangebeid word by die Vrystaat Kunstefees, wat van 18 tot 22 Julie in Bloemfontein gehou word. Hierdie toernooi gee vir woord- en taalentoesiaste die kans om hulle kennis van Afrikaans en spoed teen ander mededingers te toets.

Het jy geweet dat blokkiesraaisels die gewildste spel in die wêreld is, ten spyte van die relatief kort geskiedenis van hierdie fenomeen. Die eerste blokkiesraaisel het in Engeland kop uitgesteek, in die negentiende eeu, en dit was maar baie elementêr. Die eerste gepubliseerde blokkiesraaisel, waarvan ons weet, is opgestel deur ‘n joernalis van Liverpool, Arthur Wynne. Dit het in die sondagkoerant New York World verskyn. Daarna het die gier posgevat oor die hele Europa en versprei na die hele wêreld. Meer as ‘n honderd jaar later sit blokkiesraai-entoesiastiese steeds met geboë hoofde en fronsende voorkoppe, aan’t kopkrap oor die korrekte woorde vir die blokkies.

Hoekom is blokkiesraaisels so gewild?
‘n Joernalis het hieroor geskryf “… most people love a mystery, so the solving is a lot of fun and with a crossword puzzle, when you fill in that last square, you have reached perfection. That’s a rare and very satisfying feeling.”

Nou hoe gaan die RSG Blokraaitoernooi werk?
Tydens verskeie uitdunrondtes op Vrydag 21 Julie sal deelnemers elk drie verskillende soorte blokkiesraaisels,wat deur XWord saamgestel is, moet invul. Punte word toegeken volgens ‘n formule waar korrektheid en spoed gemeet word. Die Top Tien deelnemers dring deur na die semi-finaal op Saterdag 22 Julie, waarna 3 finaliste gekies word om in die Groot Eindstryd teen mekaar te staan te kom.

‘n Mens kan wel “oefen” vir so ‘n toernooi deur vooraf so veel as moontlik blokkiesraaisels in te vul en te probeer om dit so vinnig moontlik te doen. Waar spoed deurslaggewend is, is dit belangrik vir die invuller van ‘n blokraaisel om nie by moeilike leidrade vas te haak nie, maar om eers die makliker antwoorde in te vul. Met die ingevulde blokkies wat dan mekaar kruis, is die kans groter om ook die moeiliker antwoorde te kry.

Die RSG Blokraaitoernooi word met die hulp van die Dept. Afrikaans en Nederlands, Duits en Frans aan die UV, en deur RSG op die universiteit se kampus aangebied. Die projek word ondersteun deur die Dagbreek Trust.

Meer inligting oor die 2017 RSG Blokraaitoernooi is beskikbaar by www.xword.co.za. Mense wat dit oorweeg om deel te neem, word versoek om vooraf hulle naam, selfoonnommer en e-posadres te stuur aan Albe Grobbelaar van XWord, sodat beplanning vir die aantal verwagte deelnemers gedoen kan word. Die adres is albe@bfn.co.za

Die koste om deel te neem is R100, wat op die dag van die uitdunne by die lesinglokaal, Suidblok 1, op die kampus betaalbaar is. Geen inskrywingsgeld is betaalbaar vir die finaliste wat op Saterdag, 22 Julie, aan die laaste rondes deelneem nie. Die publiek kan ook gratis kom kyk na die eindstryd.

Belangstellendes is welkom om aan meer as een van die uitdunne deel te neem, wat die kans om die halfeindstryd te haal, sal vergroot. Daar sal verskillende blokkiesraaisels by die verskillende uitdunne gebruik word.

Hier’s ‘n kort videokie van verlede jaar se toernooi