RSG Kunstefees potgooie


RSG Kunstefees 2015 is agter die rug. Te oordeel aan luisteraarsreaksie, was dit die gewildste van die drie oplug-kunstefeeste tot dusver. Luisteraars se versoeke stroom in vir die beskikbaarstelling van vanjaar se RSG Kunstefeesprogramme op potgooi. Wel, ons het geluister en alles, behalwe die musiekprogramme, is nou beskikbaar.

Gaan na rsg.co.za, klik op potgooi en klik dan op R…vir RSG Kunstefees.

Elkeen het sy gunstelinge gehad, nie noodwendig die bestes nie, maar programme of produksies wat ‘n aar raakgeboor het.

Só skryf Magdaleen Kruger oor haar 5 raakboorders

Maandag 12 Julie 2010 het ek,  soos die voorafgaande weke,  weer  voor die TV gaan sit.  En toe voel ek verlore en verlang, want die Wêreldbeker Sokker-eindstryd was die vorige dag, Sondag 11 Julie.  Ek het dieselfde gevoel van verlies en verlange ervaar toe RSG Kunstefees  2015 verby is.

Baie mense het gevra wat was jou gunstelinge, wat was vir jou die beste, wat het vir jou uitgestaan.  Maar ek kan nie antwoord nie.  Dis moelik om ‘n keuse te maak.  Ek gaan wel sê wat my getref het…….

  • Oom Goltros vertel, oor die eenvoud en trefkrag van outydse storievertel
  • Metamorfose, oor die verbeelding en prentjies wat musiek in jou kop kan wakker maak
  • Korreltjie Kantel, nuwe toonsettings en uitvoerings van  Ingrid Jonker-gedigte deur, vir my altans, onbekende sangers en musici.  Hierdie een het getref oor dit wys dat daar baie talent en musici in ons land is wat nie die nodig blootstelling en erkenning kry vir hul uitstekende talent en werk nie.
  • ‘n Verslag aan ‘n Akademie met Marius Weyers…..die voorreg om weer herinner te kon word aan wêreldklas toneelspeel en die krag van radio.
  • En dan die profielonderhoud met die wêreldberoemde balletdanser Johaar Mosaval.   Ek was kwaad oor ons nooit van hom, sy prestasies op wêreldverhoë en sy vakmanskap geweet het nie.

 

Luister ook hier na ‘n kort klanksamestelling van die kunstefeesprogramme.

 

Só het luisteraars gereageer

“Bravo aan die RSG-voorvatters (blykbaar voordansers ook) vir dié bederfweek waarin die kunste gevier is in deurgaans lekkerkry Afrikaans,” skryf Isabel Smit na die derde RSG Kunstefees.

“Daar is gekrabbel, getango en getwiet vir ‘n vale. Dankie vir al die talentvolle akteurs en kunstenaars wat ons in produksies en onderhoude kon “ontmoet” en as ‘t ware “sien” optree.

“Dis onmoontlik om my top10-ervarings te lys. Daar was immers te veel heerlikhede.”

Hierdie is net sommige van die derduisende sms’e, e-posse, oproepe en twiets wat RSG van sover as Marokko, Dar es Salaam, Jeddah (in Saoedi-Arabi), Helsinki en uit lande soos Duitsland en Namibië ontvang het. In Suid-Afrika het mense in hul kombuise, by die werk, op die stoep of sommer onder die wasgoeddraad, terwyl hulle wasgoed ophang, ingeskakel en saam fees gevier.

Lofuitinge soos “wêreldklas” was aan die orde van die dag. En ‘n luisteraar het die fees nou herdoop na die “oppibed-kunstefees”, na aanleiding van die jaarlikse RSG Oppiwater-kunstefees.

Talle Engelse luisteraars het ook laat weet dat hulle die feesaanbod besonder geniet het.

“The Kunstefees was excellent, the standard absolutely superb,” het Delene Schoeman laat weet. “I “attended” the entire week, putting my life on hold…The hard work, high standard, variety, dedication and magnificent selection had me in an ecstatic state of bliss the entire week.  My only loss was that I dozed off during Marius Weyers’ performance of Kafka’s, ‘n Verslag aan ‘n Akademie.”

Een van die mees roerende sms’e was dié van Maranata: “My man het kanker, maar hy het hierdie week opgehelder. Baie dankie.”

Ten slotte, skryf ‘n anonieme luisteraar: “Ek was nou vir ‘n tyd baie depressief… Hierdie kunstefees is besig om my HEELTEMAL te genees. Dis amper die einde van dag en en ek loop al op die wolke.”