Dis my 9e week en sake loop beter


Gesondheid op RSG se Marí Hudson deel haar ervarings van die Doen Dit Net (DDN) aksieplan.

My negende week is driekwart en ek hou by!

Saterdag het ek my eerste Parkrun gestap en wel tussen die wingerde van Rickety Bridge wynplaas by Franschhoek.

Frederika laat my al strawwer oefen, maar as ek moeg is, steek ek maar effe vas tot ek my asem terug het.

Só het my week#9 tot dusver verloop:
Kopplan:
Saam met julle kyk ek na my doelwitte.
Dis die einde van September – en my suster, Tilde Prinsloo, in Bloemfontein verjaar vandag – en ek het my doelwitte gestel vir einde Oktober en einde November:
Teen einde Oktober wil ek nóg 3 kg ligter wees, en 1,25 km (10 minute se draf) verder kan draf. Ek kan tans 2 km draf – ná my griep-onderbreking, het ek beslis fiksheid ingeboeten wil ek dus graag 3.25 km kan draf.
Teen die einde van November wil ek nóg 3 kg ligter weeg en 1,25 km verder kan draf en dus in staat wees om 4,5 km te draf.

Oefenplan:
Saterdag:
Ek stap my eerste Parkrun, en wel op die Rickety Bridge wynplaan (foto regs) by Franschhoek. Sommige drag, sommige stap (met of sonder honde of kinders in stootwaentjies) en die roete is deur die wingerde. Nie veel op en af nie, net lekker. Ek stap toe saam met Jeanette Mostert van Morreesburg, wat sê sy is amper 80 jaar oud, maar bslis nie so lyk nie. Ek moes omtrent uithaal om by te hou by dié aktiewe ouma. Sy stap elke dag, vertel sy. Sy is skraal en hups. Dis haar sewende Parkrun. Ons stap 50 minute aan die 5 km, maar Jeanette se beste tyd is ‘n vinnige 42 minute.
Sondag en Maandag: Rus
Woensdag: ek draf 2 lm van die 3 km en is baie in my skik met myself. Elkeen van my drie honde kry ‘n beurt.
Donderdag: dol werkdag, waarin ek onder meer met oogarts dr. Ettienne van Aswegen gesels oor gloukoom.
Dinsdag en Vrydag: Frederika druk my om harder te oefen as verlede week, maar nie té hard dat ek uit die gym moet kruip nie.
Vrydagoggend oefen ek van 7 vm tot 8 vm en verbaas myself dat ek so vroeg kan opstaan vir oefening. Daarna gaan neem ek ‘n onderhoud op met dr. Jantjie Taljaard oor hondsdolheid, longonsteking en oor voëlgriep.

Eetplan:
Ek eet elke dag vrugte, drink soggens ‘n smoothie van joghurt, vrugte en kunsmatige versoeter, sukkel steeds om elke dag groen groente te eet maar probeer, probeer om twee tot drie keer per week vis te eet, en ook hoender, en ek eet minder brood, maar wel krakerige Provita as ek lus is vir iets soos brood. Dit raak nou makliker om interessante slaaie te maak of in ‘n restaurant te bestel.

Ná byna 9 weke (waarvan 2 weke oefeningloos weens griep) en 32 oefensessies:

  • is my kop beslis in ‘n beter ruimte,
  • is dit vir my makliker om gesonder te eet,
  • raak die oefening tog makliker
  • ek gaan beslis voort.

Ek is 5,5 kg ligter en my middellyfmate is 5 cm minder. My vet-klere sit beslis losser en ek pas weer in klere in wat styf gesit het.

Skryf aan my by gesond@rsg.co.za en laat weet hoe jy vorder en wat jou laat vasdraai.