Alkohol porsies


Alkohol word in die oranje mandjie gepak – jy kan dit gebruik, maar nie in oormaat nie, en sommige mense moet selfs oorweeg om glad nie alkohol te drink nie.

Navorsers het lank mense aangeraai om nie meer as 2 sopies per dag vir mans en 1 sopie per dag vir vroue, te neem nie. Hierdie aanbeveling geld steeds. Maar vir sommige mense kan selfs 1 sopie per dag, gesondheidsgevare inhou.

Alkohol het die volgende uitwerkings:

  • Op breinselle en denke. Lees en luister hier hoe alkohol jou breinselle aantas, hoe dit aanvanklik jou opbeur en later depressief maak, en hoe vinnig die lewer alkohol kan verwerk, asook hoeveel jy kan drink om jou bloedalkoholvlakke binne wetlike perke te hou. Mense moet liefs nie agter ‘n stuurwiel inskuif as jy meer as 1 drankie per uur gedrink het nie. Beskadigde breinselle kan nie weer herstel nie.
    Het jy geweet ‘n gewoontedrinker se brein krimp, en dat die gevaar vir breinbloeding as hulle val, algaande groter word? Het jy geweet dat binge drinking ‘n spesifieke uitwerking op een van jou organe het? Waarom lyk dit of gewoontedrinkers hulle drank beter kan hanteer? Sterf iemand wat in ‘n wyntenk val, weens alkoholvergiftiging of is daar ‘n ander, interessante oorsaak van dood? Dít is enkele van die interessante aspekte wat bespreek word wanneer ons deur die oë van ‘n forensiese patoloog na wyn, bier, brandewyn en ander alkoholiese drankies kyk.

    Die eerste slukkie wyn, bier, brandewyn of enige ander alkoholiese drankie wat jy drink, het reeds ‘n uitwerking op jou brein. Dit begin met ‘n kleinerige effek in die voorste deel van jou brein. Hoe meer sopies jy drink, hoe groter en dieper spoel die brander van effek oor jou brein. Hoe werk dit? Ná hoeveel sopies gebeur wat? Is mens die volgende oggend babalaas of bloot steeds dronk? Luister na die interessante feite wat aan die lig kom wanneer ons deur die oë van ‘n forensiese patoloog na wyn, bier, brandewyn en ander alkoholiese drankies kyk.

  • Op lewerselle. Die lewer kan net ‘n beperkte hoeveelheid alkohol per uur verwerk. Gewoontedrinkers het ‘n groter risiko om lewer-sirrose en lewerversaking te ontwikkel. Mense met ‘fatty liver disease’ moet liefs glad nie alkohol gebruik nie. Beskadigde lewerselle kan nie weer herstel nie en mens kan nie sonder ‘n gesonde lewer leef nie.
  • Alkohol het ‘n groot uitwerking op die ontwikkelende ongebore baba, en kan tot ernstige breinskade en ander ontwikkelingsprobleme te lei, en selfs skade aan die organe van die baba. Swanger vroue behoort glad nie te drink nie, nie eens een drankie nie.
    Het jy geweet jy kan buiten breinskade, ook skade aan jou ongebore baba se hart, niere, ander organe en ook ledemate en gewrigte aanrig as jy tydens swangerskap alkohol inneem. Watter tyd van swangerskap is dit die gevaarlikste om te drink en wat is ‘n veilige vlak? En kan die skade omgekeer word?

  • Alkohol speel saam met rook en ander faktore ‘n rol in die styging in kanker in die keel, nek, gesig en mond.
    Kanker en ander ernstige siektes van, of beserings aan die kop en nek, is besig om toe neem. Waarom? Word dié probleme vroeg genoeg opgespoor? En hoe maak spesialiste wanneer omvattende chirurgie nodig is? Marí Hudson gesels met ‘n oor-, neus- en keelspesialis oor die behandeling van dié ernstige probleme.

  • Hoewel alkohol ‘n effek het om bloedvate te verwyd, en dus as voordelig beskou word teen ‘n hartaanval, blyk dit dat mense wat ‘n spesifieke geen dra wat hulle teen hartsiektes beskerm, juis ‘n groter risiko het om Alzheimer siekte te ontwikkel, omdat dié geen deur onder meer alkohol geaktiveer word om deur verdere geen-aanskakelings tot vroeë Alzheimersiekte kan lei. Mense met Alzheimer of demensie in hul familie, moet liefs waak teen alkoholgebruik.
  • Die effek op bloedvate, kan tot migraine ly. Migraine-lyers moet liefs rooiwyn, wyn met histamiene, sjokolade, koffie en sterk speserye vermy om die effek op die bloedvate te verhoed.
  • Wyn, sjerrie en bier en die koeldranke wat saam met brandewyn gebruik word, bevat baie kalorieë en kan bydra tot gewigstoename. Mense wat oorgewig is, moet wegbly van alkohol. Lees meer oor jou vloeistof-kalorieë: https://www.nhs.uk/Livewell/alcohol/Pages/calories-in-alcohol.aspx