My DDN-storie: In week#15 ontmoet ek ‘n dapper seuntjie


Gesondheid op RSG se Marí Hudson deel haar ervarings van die Doen Dit Net (DDN) aksieplan.

My 15e week verloop goed. Ek kon die week tot dusver twee keer oefen, en Frederika, my gym-instrukteur, sê en word sterker. Ek voel sterker.

Só het my week#15 tot dusver verloop:

Kopplan: My kop is reg, maar ek is lus vir afwisselling. Ek gaan my fiets regkry, ‘n swembad soek.

Oefenplan:
Maandag was dit te winderig om te stap of te draf.

Dinsdag en Donderdag was my oefensessies in die gym onder die wakende oog van Frederika.

Woensdag het ek ‘n mediakonferensie in Kaapstad bygewoon. Die Stigting vir Orgaanskenkers en hartoorplantingschirurg is besorg omdat daar ‘n groot krisis is in skenkerorgane en baie mense wat op hartoorplantings was, gaan sterf voordat ‘n geskikte skenkerhart gevind word.

Ek het die oulikste negejarige seuntjie ontmoet wat dringend op ‘n hartoorplanting wag om sy lewe te red. Hy is Jude van der Westhuizen (foto regs) van Ravensmead, wat op 6 maande ‘n virussiekte opgedoen het wat sy hart beskadig het. Nou is sy hartjie aan die ingee.

Luister wat hy gesê het:

Eetplan:
Ek het die afgelope week ‘n vreeslike soettand gehad. Ai!

Ná byna 15 weke (waarvan 3 weke oefeningloos weens griep) en sowat 45 oefensessies:

is ek byna 7 kg ligter en my middellyfmate is 7 cm minder.

Skryf aan my by gesond@rsg.co.za en laat weet hoe jy vorder en wat jou laat vasdraai.