My DDN-storie: Week#8 verloop punt in die wind


Gesondheid op RSG se Marí Hudson deel haar ervarings van die Doen Dit Net (DDN) aksieplan.

My agste week het klopdisselboom verloop en ek voel nogals effe punt in die wind, soos ‘n vlakvarkie met die stert-aerial in die lug!

Saterdag het die honde my omtrent gesleep asof hulle sleehonde is, en dit omdat hulle so opgewonde was oor hulle stappie. Woensdag se stappie het my sommer nuwe moed gegee – ek kon die helfte van die 3 km draf!

Frederika het Dinsdag en Vrydag my behoorlik laat sweet, maar sy laat my dit nooit oordoen nie.

Só het my week#8 tot dusver verloop:
Kopplan:
Dié vlakvarkie se stertjie is nou ‘n aerial en  dié lugdraadjie staan penorent.

Oefenplan:
Saterdag en Woensdag:
Ek stap eers 2 km, en Woensdag kon ek altesame 1,5 km van die 3 km draf, deur 200 m te draf, 200 m te stap en dié siklus te herhaal.
Sondag en Maandag: Die luggie is te koel en ek laat die honde maar die hardloopwerk doen. As die lug so koud is, trek ek my bandana of slopie oor my neus en mond om eers die lug voor my mond te verwarm voordat ek dit inasem; só verhoed ek dat ek asma kry terwyl die lug buite koud is. Ek lyk wel soos ‘n bankrower, maar ek bly gesond! (Foto regs).
Donderdag: Dié oggend is ek al vroeg in die ateljee in Seepunt. Ek en Martelize bied Praat Saam aan oor die stand van dokters in Suid-Afrika. Later die oggend gesels ek met haar oor hoe sy oefen. Kyk gerus na die video hoe sy vertel hoe sy met rekbende oefen.
Dinsdag en Vrydag: Frederika druk my om harder te oefen as verlede week, maar nie té hard dat ek uit die gym moet kruip nie.

Ek wil môre aan my eerste Parkrun deelneem en wel in die Paarl se Arboretum.

Eetplan:
Ek eet elke dag vrugte, drink soggens ‘n smoothie van joghurt, vrugte en kunsmatige versoeter, sukkel steeds om elke dag groen groente te eet maar probeer, probeer om twee tot drie keer per week vis te eet, en ook hoender, en ek eet minder brood, maar wel krakerige Provita as ek lus is vir iets soos brood.  Dit raak nou makliker om interessante slaaie te maak of in ‘n restaurant te bestel. Ek het Donderdag ‘n heerlike hoender, avo, eier en blaarslaaie Keiserslaai in die Waterfront geniet saam met dr. Susan Vosloo. Sy het weggeglip nadat sy die vorige week ‘n baie ingewikkelde operasie op ‘n pasgebore baba gedoen het en sy in ‘n stadium gedink het die kleine mensie gaan dit nie maak nie so siek was hy. Maar dis as meer as ‘n week later, en die babatjie veg voort.

Ná byna 8 weke (waarvan 2 weke oefeningloos weens griep) en 28 oefensessies:

  • is my kop beslis in ‘n beter ruimte,
  • is dit vir my makliker om gesonder te eet,
  • raak die oefening tog makliker
  • ek gaan beslis voort.

Ek is 5 kg ligter en my middellyfmate is 5 cm minder.

Skryf aan my by gesond@rsg.co.za en laat weet hoe jy vorder en wat jou laat vasdraai.