Martelize kook! Jy’s genooi


Martelize Brink, omroeper by RSG, se gelukkigste plek in die lewe is nie voor die mikrofoon nie; nee, dis voor die stoof, sê sy. So, sy saai nie net uit nie, sy reis nie net die wêreld vol nie, sy roei nie net in ‘n kanoe op die oop see nie, sy ry nie net rolstoelmaraton nie, sy kook ook. En kan sy kook!

As daar nou een mens is wat ‘n gasstoof sommer maklik aan die brand en ‘n pot aan die prut kan praat,is dit Martelize. Dit moes dus een of ander tyd gebeur dat sy ‘n kookboek uitgee. En hier is dit nou: Martelize kook! Jy’s genooi. Dis ‘n pragtige boek, mooi saamgestel, uitstekende foto’s van al die kosse wat sy self gemaak het in die kosateljee van sjefs Marie-Louise Guy en Callie Maritz in Kaapstad en foto’s uit haar persoonlike album. Dis ‘n kookboek, ‘n resepteboek, ‘n foto-boek…en al is jy nie ‘n kosmaker nie, dis ook ‘n mooi koffietafelboek of ‘n boek vir die bedkassie of die kerskous. Martelize sê net soos die reuk van blomme, wat hulle as pastorie-kinders van die potjiekoskoning-pa Matie Brink en ma Cheryl by aftree-oorde afgelewer het, net so wek kos emosies en herinneringe by haar op.

So, as jy ‘n resep soek vir brood, pizza, beskuit, hap met die hand, onthaal, hoofgeregte, bykosse, koesterkosse, seekos, vuurkos, soetgebak…soek nie verder nie as Martelize Brink se eerste kookboek Martelize kook! Jy’s genooi. En as Martelize dalk eendag vir my nooi vir ete,sal ek vra vir die soutpatat, die blomkool-en haloumi-sosaties en as nagedagte die koeksuster-sosaties op die vuur. En ek hoop nie sy gee vir my ooit die beeswangpot nie, want ek sal nie ‘n gegewe bees in die bek wil kyk nie!

Magdaleen Krüger, kollega by RSG

Kyk hier na ‘n video waarin Martelize van haar kospassie vertel en die boekmaakproses.

 

Martelize kook! Jy’s genooi word uitgegee duer Human & Rousseau en is nou by boekwinkels beskikbaar of bestel aanlyn by takealot.com.