Raad vir DDN Struikelblokke


Op grond van die inligting van ons luisteraars en deelnemers aan die Doen Dit Net aksieplan ingevul het, kon ons heelwat Suksesse identifiseer, maar ook die Struikelblokke. Kom ons kyk of ons die struikelblokke uit die weg kan ruim.

Struikelblok: Te min slaap
As jy minder as 8 ure van goeie slaap per nag kry, moet jy kyk of jy vroeër kan gaan slaap.
Sowat een-derde van die deelnemers het ingevul dat hulle tussen 4 en 6 ure per nag slaap. Dit is te min vir die brein- en liggaamselle om te herstel.
Hier is inligting oor slaap en ‘n beter slaaproetine.

Struikelblok: Ek voel flou op vasdae en sukkel om vas en oefening te kombineer.
Sowat een uit 10 voel flou op vasdae. As jy een van dié mense is, moenie op vasdae oefening doen nie.
Om die waarheid te sê, ons beveel aan dat jy oorskakel na die Eetplan sonder vasdae, dus die Skud-dit-af Eetplan opsie 1, want dit is net nie die moeite werd om pap te voel nie en dit is ook nie doel van die eetplan om jou pap en energieloos te laat voel nie.

Struikelblok: Ek sukkel om gesonder te eet omdat ek vir my huismense moet kosmaak.
Probeer die volgende:

  • Maak vir jou huismense ook meer groen groentes – dis gesond vir almal (sien Mandjie-eetplan)
  • Volg eerder die Mandjie-eetplan; dis makliker en jy kan steeds saam met jou huismense eet. Probeer dan om die beginsels van die mandjie-plan (bv 2 -3 keer per week vis, 2 – 3 per week hoender, meer vars vrugte, minder soetgoed) ook vir jou huismense te gee. Dis gesond vir almal.
  • Skep vir jouself kleiner porsies volgens die porsielyste wat gepubliseer is.
  • Beperk jou porsies koolhidrate/stysels tot 4 per dag (sien Mandjie-eetplan)
  • Moenie ‘n tweede bord kos eet nie
  • Beperk enige nageregte tot een per week (sien Mandjie-eetplan)
  • As jy lus is vir iets soets, sny ‘n vrug (appel, koejawel, peer, piesang ens) in klein skyfies en eet dit asof dit tjokolade is.

Struikelblok: Ek sukkel om aan die oefen te kom
Sowat een-derde van die deelnemers sukkel om aan die oefen te kom, meestal omdat hulle nie tyd kan vind nie, of hulle soek motivering.
As jy gaan wag vir motivering of om ‘reg’ te voel of ‘gereed’ te voel om te begin oefen, gaan jy waarskynlik nooit aan die oefen kom nie. Jou brein is nie vanself so gerat dat jy vanself gaan begin lus voel vir oefen nie.
Jy moet net begin oefen. Hou op om te wag om ‘gereed’ te voel, of gemotiveerd, en begin net, al is jy nie lus nie. Doen dit net, kom net aan die gang, want as jy aan die gang is, sal daar chemiese stowwe in jou brein aangeskakel word wat dit makliker maak om te oefen. Dit gebeur ná so 3 tot 4 weke, maar jy moet self net begin. Hou op om te wag op motivering, en doen dit net.

As jy nie tyd kan vind in jou besige skedule nie, moet jy bestek opneem omdat jou oefening-afspraak dié afspraak met jouself is. As jy nie tyd máák vir die afspraak met jouself nie, ag jy jouself en jou gesondheid nie belangrik genoeg nie, en dít is moontlik ‘n simptoom daty jy jou eie behoeftes te gering skat, en jouself nie as belangrik in jou eie lewe nie. Blok tyd in jou dagboek uit om te oefen as tyd vir jouself, deel ander mee dat dit jou oefeningstyd is, dat dit on-onderhandelbaar is, vind iemand om saam met jou oefening te doen sodat jy ‘n verantwoordelikheid teenoor jou en jou oefenmaat het om jou oefen-afspraak na te kom, en hou daarby. Doen dit net. Moenie daaroor redekawel of tob nie, doen dit net. As jy in die oggend kan opstaan en aantrek en werk toe gaan sonder om elke keer daaroor te tob, waarom nie bloot 4 keer per week stap-oefening doen sonder om daaroor te tob nie?

Struikelblok: Ek sukkel om naweke gesond te eet
Onthou, met die Mandjieplan kan jy een dag per week ‘n ‘treat’ uit jou rooi mandjie eet.
Beskou dus die eet van ‘n ‘treat’ as deel van jou plan. Moet dit egter nie oordoen nie, en as jy dit wel oordoen het, vergewe jouself en eet die volgende dag so gesond moontlik.
Probeer om jou porsies so klein as moontlik te hou, pleks van om te veel of te groot porsies te eet. As jy dan meer soorte kos eet, maak seker dat jy kleiner porsies eet sodat die totale volume wat jy eet steeds nie oormatig is nie.

Struikelblok: Ek is altyd honger en wonder of die oefening my honger maak
Is jy die heeltyd honger of die heeltyd lus vir iets?
Mens moet nogal baie oefen (7 dae per week, meer as uur baie intense oefening per sessie), voordat oefening jou honger sal maak.
Indien jy wel hard geoefen het, is dit aan te beveel om ‘n glas melk met ‘n proteien-happie soos ‘n tuna-slaai en -broodjie so 20 minute ná oefening te eet. ‘n Glas melk plus ‘n proteien is van die beste ‘regrukkers’ ná oefening.
Indien jy nie noodwendig honger is nie, maar wel die hele tyd aan kos dink en die heeltyd iets soek om te eet, sny of skil ‘n vrug soos ‘n piesang en eet dit, of eet ‘n handpalm vol neute, ‘n skyf avo op ‘n provita of sny growwe brood.
Maar as dit nie werklik honger is nie, maar net lus, vergeet van die lus, vind iets interessant om te doen, en konsentreer op iets anders as jou lus vir iets om te eet.

Struikelblok: Ek is hardlywig
Een van die beste oplossings vir hardlywigheid is om meer veselryke kosse te eet. Vrugte, en veral sitrusvrugte, bevat baie ruvesel. So-ook vrugte wat jy skil en al kan eet soos appels, pere, perskes, vye, turskvye ens. Vars groen groentes is ook veselryk – dink aan boontjies, aspersies, artitjokke. Dan ook koolgroentes, en rooi en pers groente soos tamaties, eiervrug. Eet ook – as jy stysel eet, liefs growwe en saadryke brood.
As jy steeds hardlywig is, is dit die beste om jou apteker se raad te vra, en as dit steeds nie help nie, moet jy liefs jou dokter konsulteer.

Struikelblok: Ek volg die mandjie-eetplan. Moet ek een van die ander planne volg?
Die mandjie-eetplan gee jou week-vir-week bykomende riglyne wat jou lei tot gesonde eetgewoontes.  Dis nie so voorskriftelik as die Skud-dit-af maaltydplanne nie, maar vir die persoon wat meer vryheid wil hê in sy/haar keuses. Dis maklik en eenvoudig en jy hoef nie aparte kos vir jouself te maak nie. Inteendeel, die beginsels geld vir jou hele gesin. Die porsielyste help dat elkeen volgens sy grootte eet.
Dus: as jy eenvoudige eet-riglyne verkies, wat week-vir-week bygevoeg word en maklik is om te volg en te onthou, is die Mandjie-plan vir jou. Sommige mense is groter-prentjie mens is, en jy eerder jou eie ding wil doen binne ‘n raamwerk, sal jy die Mandjie-plan verkies. Die Mandjieplan is makliker volhoubaar vir die res van jou lewe.
As jy baie spesifieke en uitgewerkte maaltydplanne wil volg, en ‘n detail-mens is, is die Skud-dit-af maaltydplanne vir jou.

Struikelblok: Ek het rugprobleme en sukkel om oefening te doen.
Luister Donderdagoggend na Oggend op RSG, wanneer ek met Martelize gesels en sy vertel hoe sy oefen al is sy in ‘n rolstoel.