Maputo: kleurvolle hoofstad van ons buurland


Reis Sonder Grense: Saterdag 19 Augustus 2017

Mosambiek en sy inwoners het deur diep waters gegaan wat sy geskiedenis betref. Eers was daar die koloniale era, gevolg deur ‘n vryheidsoorlog en toe ‘n burgeroorlog. Vandag kyk die terug op sy geskiedenis wat dien as inspirasie om te ontwikkel, en hulle in staat stel om hulle erfenis en kultuur te vier. Die hoofstad, Maputo, wat maklik van Suid-Afrika af bereik kan word, spog met argitektoniese skatte, kleurryke materiale, eksotiese kos en gemoedelike mense, wat ‘n besoek aan die land, en veral die hoofstad, die moeite werd maak. Terrance April was onlangs daar.

Mosambiek is vandag n land met n vining ontwikkelende ekonomie en n bevolking wat gretig is om die toekomsgeleenthede aan te gryp. Maar dit het n duistere verlede van vergrype. Hierdie gebou was die hoofkwartier van die geheimde diens waar tydens die koloniale era n skrikbewind gevoer is.

Mosambiek, aan die noordoostelike grens van Suid-Afrika, het n kuslyn wat omtrent twee keer so lank is as die van ons eie. In die meeste gevalle begroet spierwit strande jou.


Maputo is n kleurvolle stad met baie te sien. Jy verkies dalk om die stad te voet te verken, maar so n “trein” in die hoofstraat is n ervaring wat jy gerus moet probeer.

Die Nasionale Museum is vroeg in die vorige eeu opgerig en bevat belangrike artifakte wat die lewe van gister en vandag in Mosambiek uitbeeld.

Na n lang staptog in die hoofstad van Mosambiek, Maputo, skuil n besoeker graag in een van die talryke skaduplekke van die stad om al die indrukke en beelde in te adem.

Goncalo Mabunda is een van Mosambiek se voorste kunstenaars. Hy gebruik ou gebruikte wapentuig en omskep dit in kunswerke, soos die BOSS’S CHAIR.

Goncalo Mabunda, n moderne beeldende kunstenaar van Mosambiek, gaan vernuftig te werk met metale en omskep dit in ongewone werke, soos die geval is met die ou landmyn wat ook baie strategies in die gallery op die grond geplaas word.

Die catalana is n tradisionele veeldoelige kledingstuk wat vroue as kopdoek, romp of selfs serp gebruik.

Oral in die hoofstad van Mosambiek, Maputo is daar tekens dat die argitektuur kuns baie hoog aangeslaan word. Talle geboue getuig van verskillende boustyle en spog ook met verbeeldingryke muurskilderwerk.

Die Suid-Afrikaner, Ruth First was n vryheidsaktivis wat na Maputo uitgewyk het, maar op die kampus van die Universiteit van Eduardo Mondlane met n briefbom gedood is. Sy was werksaam by die Department van Afrika Studies aan die universiteit.

By die Universiteit van Eduardo Mondlane in Maputo is n kunsgallery waar werke van een van Mosambiek se grootste skilders en beeldhouers, Malangatana Ngwenya ten toon gestel word.

Daar is baie voorbeelde waar Suid-Afrika en Mosambiek noue bande het. Dit strek ook baie jare terug. Die Voortrekkerleier, Louis Trichardt het destyds noordooswaart getrek en ongelukkig in Maputo gesterf. Daar is n klein pleintjie om die leier en sy groep te gedenk.

Sedert die dae van Lorenzo Marques (ou naam van Maputo) was die deel van die Suidelike Afrika kus bekend vir sy seekos. Dit is steeds die mekka van skulpvis, met die grootte en pryse wat jou oopmond laat!

Een van die lekkertes van Maputo is die vismarkte. Daar kan besoekers vars seekos gaan uitsoek en met so n menigte om van te kies, vlieg die tyd baie vining verby.

Kyk ook na ons ander artikel oor Maputo.