60 jr gelede: Sweet-sweet kom 1e kar in Gamkaskloof aan


Die eerste motor in Gamkaskloof

Op 11 Oktober was dit presies 60 jaar gelede dat die eerste motor deur die Gamkarivier na Gamkaskloof gebring is. Gister, op 11 Oktober 2018, het John Williams, eienaar van so ‘n Morris, weer na 60 jaar weer ‘n Morris na Gamkaskloof gebring, maar dié slag oor die Otto du Plessis pad.

Hier is die storie, soos in Tjailatyd vertel:

Vroeg in die jaar 1958, het drie jong mans Gamkaskloof vir die eerste keer besoek.  Hulle was Ben van Zyl, sy tweelingbroer Dirk van Zyl en hul vriend Isak Burger.
Nadat hul die Onderpoort, vanaf Calitzdorp ingestap het, het hul die Snyman-familie ontmoet, wat teen die oewer van die Gamkarivier gewoon het.
Tydens hul besoek merk hulle dat Martiens Snyman tydens die Tweede Wêreldoorlog erkenning verwerf het vir die bestuur van vragmotors vir die Weermag. Hy het ook ‘n rang beklee as sersant in die Leër.
Hulle kry egter die idee om vir Oom Snyman ‘n ryding te bring. Geen motor van enige aard kon nog ooit tevore die vallei bereik nie.  Daar was geen pad gebou wat toeganklik was vir voertuie nie. (Otto du Plessis pad is eers op op 9 Augustus 1962 geopen.)

Die ou Morris op die Gamkaskloof pad.

Op Martiens Snyman se woord, dat hy dink dit is moontlik om ‘n motor via die bo-loop (bo-poort) van die Gamkarivier in te bring, waar die rivier die kloof invloei, het die jong manne die eerste motor na Gamkaskloof gebring.

Terug in Paarl, koop hul ‘n Morris 8 motortjie vir 15 pond (R30) by Tielman Roos. Meganies was die voertuig in ‘n baie goeie toestand, maar die bakwerk was maar bietjie broos.
Die van Zyls se familieplaas Skilpadrug was in Tulbagh.  Dáár het hulle die oortollige gewig van die motor verwyder om die Morris meer hanteerbaar te maak.
Reëlings is getref met die Nel-familie by De Krans naby Calitzdorp. Hulle het dan die boodskap kom gee aan die klowers om hulp te verleen met die inbring van die motor op 11 Oktober.  Hulle is ook gevra om ‘n paar donkies saam te bring vir ekstra trekkrag, en ook ‘n paar sterk manne.  Hulle moes mekaar aan die bopunt van die Bo-poort ontmoet.
Op 10 Oktober ry die Van Zyl-broers en hul vriende vanaf Tulbagh.  Hulle het daardie nag voor die Bo-poort uitgekamp en op ‘n vragmotor van die Klower, Hannes Mostert, behoort.  Vroeg die volgende oggend gaan hul die Morris na en ontdek dat dit engin-olie benodig.  Hulle neem toe hul spaar voertuig via Boshluyskloof na die Nefdts se winkel voor Seweweekspoort om ‘n paar blikkies olies te kry.
Oppad terug na die Morris, ontdek hulle dat die voertuig skoonveld verdwyn het.  Daar word toe spoor gesny en tot hul verbasing ontdek hulle toe dat die Gamkavallei-inwoners reeds die motor deur die rivier begin sleep het. En hier – net ná 9:30 daardie oggend – het die bo-menslike taak begin om die motor 9 myl (15 Km) ver oor deur die waaisand en oor ruwe rotse van die Bo-poort te kry.
‘n Geselskap van 10 mans het bestaan uit die broers Ben en Dirk van Zyl en hulle vriende Isak Burger en Andries van den Berg, die klowers Martiens Snyman, sy seun Martin Ssnyman, Piet Cordier, Martiens Mostert, Hans (Apols) Mostert en Isac Nefdt en die donkies Kaptein, Maklik, Dinamite en Michael. Hulle moes op tye hard sukkel deur klipskeure en rotsblokke en opdraendes van waaisand, om hul vir die eerste keer om 19:15, die einde in sig te kon sien.  Met sewe skote het hul die motor se aankoms gesaluut.
Verslaggewers van die Die Landstem en Die Burger het oor die aankoms van die eerste motor in Gamkaskloof berig.
Nadat oom Snyman die Morris ontvang het van die Van Zyl-broers, het hy gou van die geleentheid gebruik gemaak om sy familie vir ‘n toetsrit te neem. Hy het sy vrou Sannie,  hul dogter Anna en sy vrou se halfbroer Piet Cordier vir hierdie eerste rit geneem.
Met ‘n harde, uitdagende dag agter die rug, met blaas-bedekte hande en gekneusede lywe, was dit tog ‘n genotvolle dag.  Al het dit sweet-sweet gegaan, het hul hul einddoel bereik, gelukkig en tevrede!
Daar is ou fotos te sien op www.gamkaskloof.co.za.