Van Oudtshoorn tot die Kaap, Kokanje tot Oppiwater


Ons maak wye draaie in April. Ons kuier by die KKNK op Oudtshoorn, by die Kokanje aftree-oord in Modimolle, by die Oppiwater-kunstefees op die waters by Mosambiek en die Portugese eilande en by die Suidoosterfees in die Kaap.

KKNK op Oudtshoorn: 29 Maart tot 4 April

Wanneer laas was jy by die KKNK in Oudtshoorn? RSG is al die afgelope 24 jaar elke jaar daar voor die CP Nelmuseum. Met ‘n musiekverhoog propvol kunstenaars, die Beiteltjie se radio argiefmateriaal, en regstreekse uitsendings op verskeie dae, is die geel kol voor die CP Nelmuseum in Baron van Reede straat die plek om te wees!

Kom ontspan saam met RSG en knoop miskien ‘n gesels aan met RSG-omroepers wat daar gaan wees. Besoek RSG se aanbieding daagliks vanaf 10-uur elke oggend van Donderdag 29 Maart tot Woensdag 4 April.

Klik hier vir die verhoogprogram en Beiteltjie-program.

Kokanje aftree-oord by Modimolle: 14 April

Ons het skaars die stof van Oudtshoorn afgeskud of Derrich is op pad na Kokanje Aftreeoord in die Bosveldgebied van Modimolle (Nylstroom). Saterdag 14 April word Brekfis met Derrich regstreeks van 5:00-10:00 die oggend daarvandaan uitgesaai.

Die fokus sal op die prag- en natuurskoon van die geografiese ligging wees, interessante mense en projekte en die Vat 5-gas gaan een van die Kokanje-inwoners wees.

Nuuskierig om te sien hoe lyk dit by Kokanje? Kyk die video:

Oppiwater Kunstefees van Durban tot die Portugese eilande: 15 – April

In Durban-hawe net voor vertrek in die skemer.

Op 15 April lig RSG die anker en vaar die blou see in vir die jaarlikse Oppiwater Kunstefees saam met RSG-omroepers Johan Rademan, Sue Pyler en Ettienne Ludick na die Portugese Eilande. Saam met hulle is daar ‘n klompie akteurs, sangers en woordkunstenaars wat uiteenlopende aanbiedings vir die RSG-luisteraars op die boot gaan aanbied. Die meeste kajuite is reeds bespreek, maar daar is nog so enkeles wat beskikbaar is. So, jy kan nog saamgaan.

Gaan na oppiwater.co.za en bespreek jou kajuit en kaartjies vir die aanbiedinge. Die RSG-ateljee in Auckland Park gaan ook daagliks oorskakel na die feestelikhede op die boot.

Klik hier vir meer foto’s.

Suidoosterfees in Kaapstad: 26 April

Sodra Johan Rademan voet aan wal sit, is hy en Martelize Brink oppad na die Kunstekaap Operahuis vir ‘n regstreekse uitsending op Donderdag 26 April om 20:00 van die Suidoosterfees KLASSIQUE-konsert – Pieter en die Wolf asook Karnaval van die diere.

Vroeër dié dag, saai Praat Saam van 08:00-09:00 ‘n spesiale program uit wat aansluit by die Suidoosterfees met die tema Skitterskole uit die niet – wat is die geheim?