Kommentaar op die Begrotingsrede


Die Begrotingsrede is Woensdag deur Minister van Finansies, Pravin Gordhan gelewer.

Wat het Gordhan gesê?

Minister Gordhan is staande toegejuig nadat hy sy begrotingsrede vir 2017 gelewer het.
Hy het in sy begroting van R1,56 duisend-miljard onder meer

  • Hoër belasting vir die rykstes aangekondig. Individue wat meer as een komma vyf miljoen rand per jaar verdien, sal volgens ‘n nuwe belastingkoers meer as 45 persent inkomstebelasting betaal. Die belasting op die rykstes sal heelwat bydra tot die bykomende R28-miljard wat benodig word.
  • ‘n Verhoging in maatskaplike toelaes en
  • Verligting vir inwoners wat die eerste keer huis koop. Laer- en middelinkomstegroepe kry effense verligting met hereregte wanneer hulle nuwe huise koop. Gordhan het aangekondig dat die belastingvrye deel van 750-duisend rand na 900 duisend rand opgeskuif word. Die nuwe belastingdrempel word aan die begin van aanstaande maand van krag.
  • Die Departement van Onderwys het weer die grootste deel van die begroting vir 2017/18 ontvang. Drie-honderd-en-twintig-miljard rand is aan die departement toegeken vir Basiese Onderwys, die Nasionale Studente Finansiële Hulpskema en die Tegniese en Beroepsgerigte Onderwys en Opleidingskolleges. Gordhan sê die regering erken die behoeftes van universiteits- en TBOO-kolleges. Hy sê alle arm studente wat aansoek gedoen het en kwalifiseer vir die hulpskema sal ondersteun word.
  • Rokers en drinkers gaan tussen ses en tien persent meer betaal vir hul gewoontes. Rokers gaan minstens `n rand duurder vir `n pakkie sigarette van 20 betaal, terwyl belasting op wyn en sterker drank met tussen 30 sent en meer as 13 rand per liter verhoog word. Bierdrinkers sal elf sent meer vir 340 mililiter betaal, maar tradisionele bier se belastingskoers bly onveranderd.
  • Suid-Afrikaners sal van die begin van April 39 sent per liter meer vir brandstof betaal. Dit is te wyte aan ‘n 30 sent verhoging in die brandstofheffing en nege sent verhoging in die Padongelukkefonds. Die Minister het gesê hy wil nouer saamwerk met die Minister van Vervoer oor die Padongelukkefonds sodat dié Fonds meer doeltreffend bestuur kan word.
  • die geldelike posisie van sommige staatsbeheerde instellings bly ‘n bron van aansienlike risiko oor die mediumtermyn. Staatsondernemings soos die Suid-Afrikaanse Lugdiens sal nougeset gemonitor moet word. Die regering sal ook wyses ondersoek om privaatsektordeelname uit te brei.

Die minister van Finansies, Pravin Gordhan het ook gesê

  • Daar is ‘n kollektiewe verantwoordelikheid om te voldoen aan die verwagtinge van leiers soos Oliver Tambo, Beyers Naude, Nelson Mandela en vele ander. Hy sê op dié wyse sal die regering voldoen aan die vertroue van Suid-Afrikaners en sal transformasiepogings tot diens van alle Suid-Afrikaners wees. Hy sê iemand moet dien, sodat ander kan leef. Gordhan het onder luide applous gesê ‘n beter Suid-Afrika moet gebou word vir komende geslagte.
  • Gordhan het vroeër gesê die regering sal vanjaar `n veelvuldige ooreenkoms onderteken om internasionale belastingsooreenkomste op te dateer om belastingontduiking te voorkom. Gordhan sê internasionale maatskappye gebruik teenstrydighede in internasionale belastingsreëls om nie belasting te betaal nie. `n Outomatiese ooreenkoms teen belastingsontduiking tussen internasionale owerhede sal in September in werking tree. Dit beteken dat lande verplig word om inligting oor belastingsbetalers in hul lande te verskaf. In die verlede was hulle nie verplig om die inligting te voorsien nie.
  • Die getal werkers in die staatsdiens het op bykans 1,3 miljoen gestabiliseer, hoewel hul vergoeding 35% van die begroting behels. Die direkteur-generaal van die Nasionale Tesourie, Lungisa Fuzile, sê die regering kyk na verskillende maniere om die vergoedingspaket vir staatsamptenare te verklein
  • Hy sê daar is sekere instellings in die land waaraan daar nie gepeuter moet word nie, soos die Tesourie. Gordhan hou vol dat die Tesourie die kern van die ekonomie vorm.
  • Hy sê hy het geen inligting dat hy as Minister van Finansies afgedank gaan word nie. Gordhan het gisteraand die media in die Parlement toegespreek.

Wat is die kommentaar?

  • Die meerderheid ekonome het Gordhan se begroting verwelkom. Raymond Parsons van die Universiteit van Noordwes sê die begroting is realisties en gebalanseerd. Hy dink egter die ekonomie moet teen `n koers groei waar die belastingbetalers nie te veel gestraf word nie.
  • Belastingkenners het Gordhan se voorstelle vir verhoogde belasting vir van die rykste belastingbetalers verwelkom. Hulle verwelkom ook die hoër belasting op dividendbetalings.
  • `n Belastingsadsviseur by Deloitte, Alex Gwala sê die begroting het nie veel verrassings opgelewer nie en Gordhan het gehou by wat hy in die medium termynbegroting aangedui het.
  • Die begroting het uiteelopende reaksie van opposisieparty ontlok, maar die Minister van Finansies Pravin Gordhan is geloof vir sy poging om `n gebalanseerde begroting onder moeilike ekonomiese omstandighede saam te stel.
  • Die DA se skaduminister van finansies, David Maynier sê hulle is teleurgesteld dat die minister belasting verhoog het pleks daarvan dat uitgawes besnoei is.
  • Die EFF het `n beroep op die Tesourie gedoen om `n beleid te skep om belastingontduiking deur groot maatskappye te voorkom. Gordhan het in sy begroting gesê daar is `n toename van belastingontduiking deur internasionale maatskappye. Die leier van die EFF, Julius Malema sê daar is te veel ontduiking deur die korporatiewe sektor en daar moet staatsbeheerde maatskappye geskep word wat meer tot belasting sal bydrae.
  • Pieter Groenewald van die Vryheidsfront Plus sê hulle is teleurgesteld dat persoonlike belasting verhoog is en daar nie `n verhoging in BTW is nie. Hy sê die party glo BTW verhoog moes geword het, al was dit net met ‘n halwe persentasiepunt. Groenewald sê basiese voedselprodukte word uitgesluit van BTW en arm mense sou nie deur ‘n verhoging geraak gewees het nie.
  • Die ACDP het die verhoogde belasting vir rykes veroordeel en sê besteding deur die regering moet eerder beperk word. Die UDM sê Gordhan het min beweegruimte gehad.
  • Ekonome het die Minister van Finansies, Pravin Gordhan, geloof vir sy pogings om die getal staatsamptenare te beperk.

Opposisie partye praat vanoggend op Monitor oor hul verwagtinge van Minister Pravin Gordhan se begrotingsrede. Vlnr. Dr Pieter Groenewald (VF+), Steve Swart (ACDP), David Ross (DA) en Anita Visser. Skakel 07:10 in.

Prof Piet Naude (USB) en Prof Fanie Cloete by die Monitor ateljee by die Parlement. Anita Visser vra uit oor politieke aspekte en druk van Minister Pravin Gordhan se begrotingsrede. Dié begrotingsrede word Woensdagmiddag gelewer.