SA man se genadedood in Switserland


‘n Bloemfonteinse argitek en reisagent, en gereelde gas op RSG se reisprogram, het opnuut die kollig op genadedood laat val. Johann Beukes het Maandag sy eie lewe met die hulp van die omstrede Dignitas-kliniek in Switserland beëindig. Die 66-jarige Beukes, wat aan ‘n rare siektetoestand gely het, het sy besluit kort voor sy dood in ‘n klankopname verduidelik, wat deur sy familie aan Monitor beskikbaar gestel is.

Luister hier na sy laaste boodskap.

Johan Beukes voor sy dood

Johann Beukes voor sy dood

Meer inligting
Johann Beukes, ‘n bekende Bloemfonteinse argitek, sakeman en reisagent, is op Maandag 14 September 2015 in ‘n kliniek in Zürich, Switserland, oorlede. Hy was 66 jaar oud.

Johann het met die hulp van die Switserse Dignitas-organisasie sy eie lewe beëindig. Dignitas verleen onder streng voorwaardes hulp aan mense om genade-selfdood (eutanasie) toe te pas. Hierdie hulp is onderhewig aan ‘n uitvoerige keuringsproses en is gerig op persone wat aan ‘n terminale siekte of erge fisiese gebreke met gepaardgaande pyn ly.

Johann het ‘n rare en uiters pynlike siektetoestand gehad waarvan die hoofkenmerk is dat die kraakbeen tussen gewrigte teen ‘n onvoorspelbare tempo verweer. Hy het sedert sy kinderdae meer as dertig operasies ondergaan, wat verskeie ingrypende rugoperasies ingesluit het. Hy het op 31-jarige ouderdom reeds bi-laterale heupvervangings, gevolg deur skouers, enkels en handgewrig-vervangings gehad. Hy was toenemend in konstante pyn wat nie met medikasie beheer kon word nie.

Johann moes in die vroeë 1990’s sy loopbaan as argitek laat vaar vanweë sy siektetoestand. Hy het hierna die bekende Etnique Reisagentskap begin, wat later Sure Etnique Travel geword het en waarvan hy die uitvoerende hoof was. Hy het ten spyte van sy gebrek gereeld wêreldwyd gereis en het tydens sy loopbaan meer as 120 lande besoek, wat hy as eindeloos vervullend ervaar het. Hy was ook onder radioluisteraars bekend vir sy gereelde bydraes op RSG tydens Johan Rademan se weeklikse reisprogram elke Saterdagoggend.

Johann was ‘n seun van die Afrikaanse dramaturg en letterkundige, prof. Gerhard Beukes. Hy het sy B.Arch-graad sowel as sy MBA aan die Vrystaatse Universiteit behaal, waar sy pa jare tevore hoogleraar was.

Johann laat sy vrou, Monique, drie kinders, Johard, Leandi en Izanne, asook drie kleinkinders agter.

 

GESPREK MET JOHANN BEUKES OP 28 AUGUSTUS 2015

Albe Grobbelaar skryf: 

“Ek het hierdie gesprek met Johann gehad waarin hy graag vir my meer agtergrond wou gee rondom sy groot besluit. Hy het dit opgeneem op sy iPad en het hierdie opsommende, uitgetikte weergawe na die tyd vir my laat kry. Dit beantwoord waarskynlik heelwat vrae wat mense mag hê.”

AG: Die eerste vraag wat onwillekeurig by ‘n mens opkom, is WAT iemand kan dryf tot by die punt waar hy so ‘n ingrypende besluit neem.

JB: Sekerlik die grootste besluit wat die mees omvattende impak gehad het op myself, my menswees, wie ek is en al my geliefdes om my. Ek het vroeg in my lewe reeds geleer om te cope met uitdagings en pyn. Soos ‘n klippie in ‘n stil dam – stelselmatig al hoe wyer uitgekring: Groterwordende uitdagings tov pynverwerking. Altyd steeds blymoedig probeer uitkoms soek dmv nuwe mediese tegnologie. Na laaste bi-laterale handgewrigsoperasies in Duitsland tot besef gekom: In ‘n stroomversnelling beland wat maandeliks net gaan vererger tov PYN. Sedert 2013 geworstel met AL die kwelvrae en implikasies vir my gesin wat agterbly

·      My verhouding met my Hemelse Vader

·      Wat SY WOORD deur die Heilige Gees vir my gese het

·      Hoe jou geliefdes jou besluit uiteindelik hanteer en verwerk

·      Hoe hanteer jy steeds eerbaar situasies,  waar jy so ‘n GROOT geheim met jou saamdra

AG: Jou siekte, die operasies oor baie jare, die pyn.

JB: Dit word eenvoudig die sogenaamde “Beukes-sindroom” genoem: Die kraakbeen tussen al die gewrigte

(wat juis daar is om soepelheid en pynvrye beweging van ledemate en rugkolom te verseker) verweer in jou liggaam, veral vanaf puberteitsjare, teen ‘n onvoorspelbare tempo. Sedert 1961 bykans 30 impakryke operasies ondergaan:

·      Verskeie rugoperasies gedurende my studente- en opvolgende jare. Gedurende tweedejaar van argitektuurstudies, spesiale reelings agv feit dat ek 6 maande in Nasionale Hospitaal op my rug deurgebring het

·      Op 31 jarige ouderdom reeds bi-laterale heupvervangings, gevolg deur skouers, enkels en handgewrig-vervangings

·      Sommige was pionierservarings: Gedurende 2001 kom ‘n Deense Ortopeudiese chirurg na BFN om ‘n unieke bi-laterale enkelvervanging op my uit te voer; Stem in dat Mediclinic dit as ‘n opleidingsprosedure vir al sy ortopediese spesialiste bied.

In Februarie en September 2008 reis ek na BadKreuznach Duitsland vir handgewrigsvervangings aangesien niemand op daardie stadium in Suid-Afrika dit wou uitvoer nie.

Ek het vroeg in my lewe geleer hoe om pyn te kan projekteer deur “mind over matter”; Ek het nooit na operasies die morfienpompies of pynmedikasie gebruik nie want ek reageer baie sleg op die meeste pynstillende medikasie. Ek wil glo dat ek ‘n baie hoë pyntoleransie het. Gedurende opvolghandchirurgie in Duitsland in 2012, het ek tydens operasie hartstilstand gehad; Opinie van spesialiste: Liggaam se pyndrempel verby hanteringsvlakke gegaan het. Bewuswording dat pyn wat ek ervaar bokant maksimumvlakke van 10 was. dws onuitstaanbaar.

AG: ‘n Pyn wat jy so goed wegsteek dat dit vir selfs mense wat jou goed ken, eintlik onsigbaar en ondenkbaar is.

JB: Ek sou wou glo dat indien ‘n mens van kleintyd af geleer het om terugslae en pyn te kan hanteer,

(dws om ‘n fighter te wees), die genadedood nie as ‘n opsie vir jou sou bestaan het nie. Gestremdheid, hetsy tov mobiliteit, sig of gehoor, is ‘n enorme beperking vir enige mens; Tog kan ‘n sterk gees die verlies aan lewensvaardighede omskep in ‘n wins van lewenservaring. Eskalerende PYN daarteenoor vernietig lewensvreugde en lewenskwaliteite. Wanneer PYN egter nie gelokaliseerd is in ‘n bepaalde area van ‘n been, of nek of rug of arm nie, maar jou hele liggaam begin binnedring en stelselmatig jou menswees in totaliteit begin aftakel, kan selfs die sterkste wil in die wereld nie meer die pynvlakke hanteer en verwerk nie. Ons weet almal dat die dood vir elkeen van ons beskore is: Ten spyte van die feit dat sommige fiks en gesond is, sterf hulle in ‘n frats-ongeluk, ander agv kanker of tydens ‘n operasie en agv van mediese wetenskap baie van ons op natuurlike wyse agv ‘n hoë ouderdom. PYN bring ‘n mens egter vroeër by ‘n ongemaklike kruispad in jou lewe; sommige van ons leer vroeg hoe om pyn te hanteer en te verwerk. Hul pyndrempel is aansienlik hoër as ander s’n; Ek glo dat ‘n mens duidelik kan onderskei tussen bloupyn en rooipyn: Bloupyn kan ‘n mens met pynstillers en medikasie redelik beheer en verlig; Jy leer ook hoe om dit te projekteer en te hanteer. Rooipyn is wanneer jou pyndrempel verby vlakke van 10 in ALLE areas van jou liggaam voorkom.

AG:  Wat is/was vir jou die swaarste in die lang proses om hierdie keuse te maak tot waar jy nou is en waar die besluit finaal is? 

JB: Om eerstens vrede met myself te kon maak; dit kon slegs plaasvind deur die vergifnis wat ek van Jesus ontvang het na my eie worsteling met al my kwelvrae deurgewerk, het ek aan die begin van 2014 my gesin individueel van my voorneme begin inlig.

Op hierdie stadium het ek egter nog geensins met DIGNITAS kontak gemaak nie, maar wel uiteraard baie opgelees oor die openbare debat aangaande euthanasia, plaaslik en oorsee.

AG: Jy moes uiteraard baie navorsing doen hieroor, en oor dit wat by Dignitas in Zurich gedoen word.

JB: Die woord EUTHANASIA (afgelei van die Griekse eu – “good” + Thanatos – “death”) word in die Oxford en Universal Dictionary as volg beskryf: “The action of inducing the painless death of a person from motives of compassion; The painless mercy killing of a patient suffering from an incurable and painful irreversible disease.” Op die oomblik is die toepassing van GENADE-SELFDOOD (euthanasia) gewettig in Nederland, België, Luxemburg, Switserland, Meksiko, Duitsland, Japan, Estonia en vier State van die VSA (Oregon,Washington, Vermont & Montana). Slegs landsburgers van elk van die betrokke lande word vooraf gekeur en toegelaat, behalwe Switserland wat nie-Switsers in hul program aanvaar. Oregon en Switserland vereis dat, hoewel ‘n mediese praktisyn die natrium pentobarbital moet voorskryf die pasient die finale stap neem: selftoediening self en onafhanklik moet kan neem (passiewe toepassing).

Interessant is dat van almal wat die sogenaamde GROENLIG van goedkeuring by Dignitas in Switserland ontvang, slegs sowat 11% die finale stap van genade-selfdood enduit voer. Daar is tans 21 Suid-Afrikaners geregistreer as Dignitas-lede en ek is slegs die vyfde persoon. Sedert die ontstaan van Dignitas in 1998, het net oor die 2000 pasiente hul lewens reeds beindig.

AG: Ek weet jy sien jou nie self as ‘n AKTIVIS nie, maar jy het tog sterk standpunte oor die mens se REG om onder sekere omstandighede so ‘n besluit (oor die waardige beëindiging van sy eie lewe) te neem. Jou siening ook van die situasie in Suid-Afrika?

JB: Ek glo dat elkeen wat die radikale besluit geneem het deur genade-selfdood as opsie te kies, dit doen omdat hulle hul vereenselwig met die siening:
To live with dignity – its your life
To die with dignity – its your choice

Min onderwerpe is so aktueel en in gespreksdebatte verweef, soos die voor- en teenstanders van genadedood; ook juis nou hier in Suid-Afrika. Die menslike lewe is onlosmaaklik gekoppel aan die uiteindelike dood; daarom beteken dit dat die groep wat hul beywer vir die fundamentele reg van die mens om te lewe, onbewustelik ook saamstem dat elke mens die fundamentele reg het om te sterf. So ook het die mens ook die uitdruklike reg om te mag kies. Hoewel die bedoeling goed mag wees, het niemand die reg om van iemand te vereis om ‘n lewe van pyn en lyding te ly nie. Deur Suid-Afrikaners die reg van vrye keuse tov genade-selfdood te ontneem, word orgaanskenking ook plaaslik benadeel.  Ek sou graag van my organe wou skenk wat dalk iemand anders se lewe kon red of lewenskwaliteit verbeter.

Interessant dat Artsbiskop Desmond Tutu, na die tragies hantering van Madiba se laaste dae, die volgende opinie huldig: “I have been fortunate to spend my life working for dignity for the living. Now I wish to apply my mind to the issue of dignity for the dying”. In ons Grondwet word daar meer as ‘n dosyn kere na Menslike Waardigheid verwys; sekerlik impliseer dit beide in lewe en in dood.

AG: Kan jy die “keuringsprosesse” waardeur jy moes gaan by Dignitas, en hulle hantering van jou as individu, kortliks beskryf? 

JB: Ek het gedurende Augustus 2014 lid van DIGNITAS geword; Jy kwalifiseer dan eers om aansoek te doen om gekeur te word vir bystand met genadedood, die keuringsproses is professioneel en jou aansoek word deur ‘n paneel van medici, sielkundiges en regslui ge-evalueer.
Die aansoek bestaan uit:

  • Motivering waarom jy genade-selfdood oorweeg
  • ‘n Agtergrond oor jouself, jou familie, jou professie,
  • Volledige Mediese verslae oor afgelope vyfjaar asook huidige mediese toestand
  • Jou geestestoestand, huidige medikasie

Indien die paneel jou goedkeur, kwalifiseer jy voorlopig (GREEN LIGHT). Dan doen jy FORMEEL aansoek vir die voorbereiding van ‘n ondersteunde genade-selfdood. Eers hierna voltooi jy al die nodige dokumente om te voldoen aan die Switserse Regeringsvereistes:

  • Detailinligting oor jou ouers en jou gesin
  • Beêdigde verklaring deur kennis wat jou langer as tien jaar ken
  • Uitgebreide Geboortesertifikaat en Huweliksertifikaat
  • Afskrif van Paspoort
  • Panoramiese x-straal van gebit vir identifikasie-doeleindes
  • ‘n Opdrag aan Switserse Spesialis om Natrium Pentobarbital voor te berei
  •  ‘n Dokument waarin jy enige mediese inmenging verbied tydens selfdoodaksie

Jy moet ook vooraf die Switserse Spesialis in Zurich ontmoet en dan ook ‘n tweede opvolgbesoek die dag voor jou D-dag. Sedert my finale datum by die BLAUHAUS gefinaliseer is, was daar gereelde kontak met Karin, die persoon wat na my belange omsien, en behulpsaam is met elke reeling en versoek van my. Dignitas hanteer ALLE aspekte volgens jou opdrag om dit juis vir jou gesin so maklik moontlik te maak

AG: Jy is ‘n diep gelowige mens. Was dit enigsins vir jou ‘n worsteling om hierdie pad wat jy gekies het, te versoen met jou geloof en jou verhouding met God?

JB: Ek glo dit was aanvanklik juis my grootste worsteling. Geestelike journey die afgelope 20 maande met goeie vriend. Skuldgevoelens teenoor my familie; Hoe om dit te verwerk en hanteer. My Bybel, wat heel interessant deur my ouers aan my in 1983 geskenk is in ‘n krisistyd in gesin, is vol verwysings gedurende my REIS deur GELOOF: Geestelike hoogtepunte, maar ook my WOESTYN-ERVARINGE en GETSEMANE

My besoek aan Palestina gedurende 2013 was dus ook ‘n vervulling van ‘n droom (wat reeds met my ouers se besoek aan die Heilige Land sestig jaar gelede gevestig is). Afgelope 18 maande weer opnuut my Woordtye met die BRIEWE van PAULUS deurgebring. Self – Groot rustigheid in my gemoed oor besluit. Op hierdie stadium dien die volgende gedeeltes as ‘n anker vir my persoonlik en ‘n troos teenoor my dierbare gesin wat agterbly. Twee skrifgedeeltes: Fil en Rom: Vir my WAS die LEWE altyd VREDE in Christus En die STERWE ‘n PYNVRYE wins.

AG:  Twyfel jy nog soms oor jou besluit? Is jy bang vir die dood?

JB: Tog interessant dat mense so dikwels sê, na die afsterwe van ‘n bejaarde persoon na ‘n periode van laaste lyding:“Dit was ‘n goeie lewe, en die dood het uitkoms gebring”. En waarom kan daar dus in my geval nie ook gesê word: “‘n Ses en sestigjarige man, wat ‘n wonderlike lewe gehad het; sy dood het ook verlossing gebring na erge pyn/lyding”.

Ekself het geen vrees vir die dood nie – ek glo dis die voorreg vir elkeen wat GLO. Ek beskou my lewe sedert my groot rugoperasie in 1969, as my tweede kans. En is innig en opreg dankbaar as ek terugkyk oor die afgelope 45 jaar dat ek so ‘n wonderlike, geseënde en vervullende loopbaan en lewe gehad het.