Magdaleen oor 90% plaaslike musiek: gehalte is die uitdaging


Die onlangse aankondiging deur Hlaudi Motsoeneng dat alle radiostasies nou 90% plasslike musiek moet uitsaai, het baie reaksie uitgelok.

magdaleen-kr-ger-2-largeMagdaleen Kruger, stasiebestuurder van RSG vertel meer.

”90% + 10% = 100%. Dis die 90% en die 10% wat die afgelope paar weke die media en die publiek aan die praat en skryf het.

”Daar’s blydskap, daar’s wenkbrou-lig, daar’s ontevredenheid, daar’s moedeloosheid …maak nie saak wat nie, maar almal het ‘n gevoel en mening hieroor. Sommige luisteraars is bly oor die 90% en ander besorg. Heelwat luisteraars is besorg omdat hulle nie deur die beperking van 10% op internasionale musiek afgesluit wil word van die res van die wêreld nie.

”Net die tyd sal leer of dit werk of nie.  Vir RSG is dit nie so ‘n groot uitdaging nie, want ons is in die posisie dat daar voor die 90%-vereiste reeds ‘n gemiddeld van 76% plaaslike musiek op RSG gespeel is. Dis veral die Afrikaanse musiek wat vir RSG so ‘n sterk plaaslike musiek hupstoot gee. Ons moet dus nou probeer om hierdie 76% op te stoot na 90%.

”Ons doen dit veral op 3 maniere:

  1. ons bring instrumentale musiek in,
  2. ons speel ‘n groter verskeidenheid van ‘n bepaalde sanger se liedjies en
  3. ons bring die spesialisprogramme soos Vastrap, Kapityt en Dis Gospel in die prentjie.

Die uitdaging is eerder, en was nog altyd, om genoeg gehalte plaaslike en veral Afrikaanse musiek te vind om te speel.

RSG steun graag plaaslike goed….musiek, boeke, toneel….noem maar op. Ons is trots Suid-Afrikaans en ons gaan die 90% plaaslike musiek ‘n kans gee.”

Soos altyd hoor ons altyd  graag van luisteraars oor watter musiek hulle verkies.