Agter die skerms met Musiekbonbons


Musiekbonbons is ‘n baie gepaste en beskrywende naam vir RSG se weeklikse program waar Terrance April vir jou ‘n keur van kort klassieke werke voorspeel….maar, sê Terrance, hy maak seker dat dit musiek is wat maklik op die oor val. Dit is nie sommer net vir ‘n CD naderhark, kyk watter snitte is kort en dit dan die een na die ander speel nie.

Nee, hy delf graag diep in die SAUK se diskoteek op soek na uitsonderlike opnames. Soms kan hy tot 5 CDs beluister en niks kry wat geskik is vir die program nie; ander kere is dit moeilik om net enkeles te kies van ‘n hele klomp snitte wat mooi en gepas is.  

Musiekbonbons is ook die program waar Terrance ons bekendstel aan werke van minder bekende en selfs onbekende komponiste wat tog ook baie mooi komposisies nagelaat het. Dan speel hy ook dikwels interessante opnames soos die Klavierkonsert van Shostakovitch wat deur ‘n orkes uitgevoer word en waar sy seun die dirigent is en sy kleinseun die solis!

Martin Headger van RSG het vir Terrance gevolg en afgeneem om vir jou so ‘n stukkie te wys van wat agter die skerms aangaan wanneer hy Musiekbonbons saamstel.

Musiekbonbons word Donderdagaande 21:10 uitgesaai.