Amanda en die Sloweense wals


Amanda Olivier van Musiek Sonder Grense spog nou ook met aanhangers uit Slowenië. Dit het só gebeur:

Amanda Olivier

Amanda Olivier voor haar versameling wêreldmusiek CD’s en nou gaan die Ansambel Tik-Tak van Slowenië ook ‘n staanplekke daar kry.

(Terwyl ons nou met Amanda gesels, lees die artikel oor ‘n paar dinge van Amanda wat jy nie geweet het nie.)

Luister na “Moja rodna vas” deur Ansambel Tik-taK, CD naam – LJUBEZEN JE PESEM SRCA. (Dis die wals wat Amanda in MSG op 19 Junie gespeel het).

Luister na die Ansambel Tik-Tak van Slovenie. Die liedjie wat hulle sing is “Ljubezen je pesem srca” van die CD met dieselfde naam:

Amanda Olivier se liefde vir grenslose musiek van oor die hele wêreld het al heelwat van haar luisteraars geïnspireer om te help om musiek van ander lande te ontdek.

So byvoorbeeld het sy hierdie epos onlangs ontvang:

“Hallo en goeiemôre van twee baie getroue luisteraars sedert die begin van jou program,

0ns wil jou die versekering gee dat ons dit absoluut geniet veral die musiek van die lande wat ons al besoek het.

Ek wil graag by jou hoor, ons was onlangs in Kroasië en ek het twee CD’s van hulle volksmusiek saamgebring. Indien jy graag daarna sou wou luister, laat weet dan waar ek dit kan laat aflewer (Ons is van Vereeniging en was 19 jaar in Bloemfontein woonagtig)

Groete

KOBUS F. REYNEKE SNR. EN NELIE REYNEKE”

Amanda vertel verder:

Daar word toe heen en weer ge-epos en siende dat Kobus se dogter in Johannesburg werk, het die CD’s toe by my uitgekom en die luisteraars was gek oor die fluweelstem van die Kroaat Skoro Svetjana wat in die program gehoor is, asook die ander groepe wat gesing het. En 1000 dankies vir Kobus en Nelie.

En toe begin die sage van die Sloweense wals op Musiek Sonder Grense . . .

April hou ek vakansie op Stilbaai saam met vrinne. Pas terug by die huis ontvang ek ’n epos van Marie Lotter op Jongensfontein.

“Beste Amanda

Ek epos namens n vriendin Christine Botha want sy het nie toegang tot n rekenaar nie. Sy luister elke Vrydagaand na jou program en wil graag vir jou n CD stuur van musiek van Slowenië Haar aanstaande skoondogter is van Slowenië en sy kuier gereeld daar.

 Wat is jou posadres?

 Marie Lotter”

Dis ‘n WOW-oomblik in my lewe! Het juis nie musiek van daai kontrei nie. Ek bekyk die atlas en sien Slowenië lê net bokant Kroasië en nie ver van Venisië nie. Ons epos heen en weer en uiteindelik . . op ‘n sonskyn wintersdag daag ek weer by my posbus op en dit noop my om die volgende epos te skryf::

“Hallo Marie en Christine

 So kom ek ‘n uur gelede by my posbus aan en giggel van opwinding toe ek die bruin pakkie in my posbus kry.  Weet toe onmiddellik dis die langverwagte klanke van Slowenië af. Skeur toe onmiddellik die pakkie oop en lees Christine se briefie.  Kon nie wag om in my kar te kom om die CD te luister tewyl ek ry nie!   Mens kan mos sommer op die omslag van die Cd sien dat jy lekker gaan luister na die inhoud. Ansambel Tik TaK se vrolike gesigte het my sommer dadelik uitgenooi om saam te kuier. En nou gaan julle 2 omval van verbasing . . . .  want ek het amper!  Toe ek die CD houertjie oopmaaak . . Meisies! Toe is daar geeeen CD in nie!!!  Christine – die pakkie was glad nie aangepeuter nie.  Kyk asb of jy dit in jou huis kan opspoor.  Ek sal jou vir die posgeld vergoed.  Verwag nie dat jy 2 keer moet betaal nie.  Sal soo graag musiek van Slowenië wil hê. Nou ja toe . . . laat weet wat julle kan uitrig.”

En Marie skryf ..

“Liewe Amanda

 Ek en my wederhelf lag al vir die afgelope uur! Ja nee die spook het behoorlik in die bruin koevert geklim en die cd laat verdwyn. Christine kuier op die oomblik by haar kinders op Potch en ek gaan nou vir jou my Tik-TaK Ansambel stuur. Sy gaan weer in Augustus Slowenië toe en dan kry ons weer. Ons vra groot om verskoning vir die foutjie wat ingesluip het.

Groete

Marie”

Vrydagaand 19 Junie breek aan en ek kies ‘n Sloweense wals om Musiek Sonder Grense mee af te skop – Moja Rodna uitgevoer deur ANSAMBEL Tik-TaK. Die laaste woord kom weer via die tegnologie::

“Liewe Amanda

 Ek wil graag die wonderlike terugvoer vir jou gee. Nadat jy my laat weet het, het ek die inligting deurgegee vir Christine en sy het dit weer deurgegee aan haar aanstaande skoondogter in Slowenië. Sy het weer die inligting deurgegee aan Tadej n lid van die ensamble . . . nou ja toe het die inligting versprei soos n veldbrand!! en ja soos Christine se seun sê 50% van die volk was op die internet en het gewag vir Tik-Tak ‘ ‘ ‘en wat n ongelooflike opwinding toe die program geopen was met n walsie uit Slowenië. Alhoewel hulle nie die taal kon verstaan nie was dit hulle musiek en toe jy nog ons name noem was dit baie groot opwinding want hulle ken vir Christine baie goed sy was ook op Tadej se troue in Slowenië. Tadej gaan dit ook in die plaaslike koerant sit. Dit is so wonderlik dat n volk nog so trots op hulle kultuur is en dat hulle so opgewonde is omdat hulle musiek in RSA oor nasionale radio gespeel was.

 Vriendelike Groete.

Marie & Christine”

Wat ‘n vreugde en ‘n voorreg om interaksie met ons RSG-luisteraars te hê. Almal is welkom om te skryf na my by amanda@rsg.co.za