Die storie van die ou serfyntjie


Oudmusiekman van die SAUK Tinus Esterhuizen [1966 tot 2011] versamel instrumente en vertel hierdie interessante storie oor sy jongste toevoeging: ‘n antieke harmonium.

DSCN2110Sommige mense noem dit ‘n serfyntjie. Die 153 jarige Estey orrel is ingevoer vanuit die VSA, via Engeland en daarna per skip na Suid-Afrika, via Kaapstad. Die instrument het aan die Van Tonder familie behoort, noudat die meeste ouer garde nie meer met ons is nie, het Tinus die orreltjie ge-erf. Hy las skertsend by: “Die orreltjie kom uit die dae van die Natte en die Sappe”.

Kyk en luister hoe Tinus die serfyntjie bespeel.

Tinus se suster Marie is met een van die van Tonders getroud. Soos die familie uitgesterf het, het die orreltjie geswerf van nasaat tot nasaat. Na ongeveer sestig jaar, word die orrel aan Tinus aangebied omdat dit nie inpas by die nuwe familie nie. Die enigste Van Tonder wat nog lewe is Oom Louwtjie en in sy spaartyd herstel hy konsertinas, trekklavier en traporreltjies. So-ook gebeur dit dat hy hierdie orreltjie versien en reggemaak het. Alle gate is toegemaak sodat rotte en muise nie aan die houtfluitjies kan knaag nie.

Die nuwe trotse eienaar het alreeds in ‘n televisieprogram oor Min Shaw wat vervaardig word, haar groot treffer “Jy is my liefling” daarop gespeel. Groot pret word op hierdie instrument geput en vir nuwelinge is dit ‘n heel vreemde gedoente. In Tinus se musiekkamer, spog hy met ‘n pyporrel, ‘n klavier, tromme, drie elektriese klaviere, ‘n Hammond orrel, ‘n didgereedo, sowel as ‘n geel en rooi vuvuzela!

In die toenderjare was die traporrel ‘n gewilde kerk en huisinstrument, dit word met die voete gepomp, die Voortrekkers het omtrent elkeen enetjie gehad waarop huisgodsdiens gehou is. So-ook op hierdie orreltjie. Hierop speel Tinus gewyde liedere, classics v an weleer asook boeremusiek! Hy vertel dat hy in die sewentigerjare “Ek groet vir laas my gryse berge” op Cobus Robinson se traporreltjie opgeneem het vir ‘n radiodrama nog vir ou Afrikaanse Radio, waarvan Nic Swanepoel die regisseur was. “Ek sal sorg dat hierdie unieke erfstuk en Africana nie uitsterf nie” vertel Tinus. “Ons gaan volgende jaar ‘n CD op hom opneem…. Verbeel jou as hierdie orreltjie kon praat!”