John Roos se goed begin in Julie


_MG_7433-15sJohn Roos word onder meer genoem Mnr Musiek, Mnr Internasionale Klavierkompetisie, Mnr Unisa Musiekeksamens en Mnr Musiekopvoeding. Van die eerste Sondag in Julie, gaan hy sommer net John wees….wat John se goed met luisteraars gaan deel.

John Roos kom van die klein plaasgemeenskap Marikana buite Rustenburg. Sy ma het klavier gespeel, sy pa was ‘n banjospeler in ‘n boere-orkes en hy wat John is, speel klavier.

John vertel self
“In John se goed deel ek, John Roos, graag met luisteraars musiek wat deur my skooljare, studentejare en Unisa- jare nie net groot genot verskaf het nie, maar ook tot my musikale ontwaking en ontwikkeling bygedra het. As Artistieke Direkteur van die Unisa Internasionale musiekkompetisies het ek uiteraard in aanraking gekom met legendariese figure in die klassieke musiekwêreld. Sommige van hierdie beroemdes het selfs vir my boodskappies op die omslae van hul CD’s geskryf.

“Ek speel ook enkele gunstelinge van my familiekring voor waarna ons graag op Sondae geluister het. Daar is ook opnames uit my betrokkenheid by musiekprojekte in gemeenskappe. Na ‘n loopbaan van 40 jaar as musiek- eksaminator en kompetisie- beoordelaar by Unisa, het ek ‘n magdom CD’s versamel. Dit was vir my ‘n prikkelende reis na die verlede om keuses vir die tydgleuf te maak. Wat ‘n vreugde is dit tog nie om  tans te ervaar hoeveel jong opkomende sterre oor grense heen ons toekomstige musieklewe gaan versier nie!”

Só word John se goed op RSG bekend gestel:

John se goed sal van Sondag, 3 Julie af vir 13 weke elke Sondagmiddag, net na 12:00 uitgesaai word op RSG.