Jong sopraan van Khayelitsha wen sangkompetisie


Noluvuyiso Mpofu (24) is onlangs aangewys as die algehele wenner van die nasionale klassiekesangkompetisie, ATKV-Muziqanto.

muziqanto

Noluvuyiso Mpofu

As algehele wenner het Noluvuyiso prysgeld ter waarde van R40 000 ontvang.

Luister hier hoe sy È Strano! – Ah, fors’ è lui – Follie! Sempre libera uit La Traviata van Verdi gesing het.

Sy is tans ‘n student student aan die College of Music van die Universiteit Kaapstad en neem sang by die internasionaal bekende Patrick Tikolo, sowel as Kamal Kahn.

Noluvuyiso Mpofu met haar trofee.

Noluvuyiso Mpofu met haar trofee.

Goitsemang Lehobye (sopraan) het ’n algehele tweede plek ter waarde van R20 000 verower. Mandla Mndebele (bariton) is as die derde plek-pryswenner aangewys en ontvang R12 000. ’n Prys van R5 000 is ook aan Noluvuyiso toegeken vir die beste vertolking van ’n Suid-Afrikaanse werk tydens die tweede ronde van hierdie kompetisie. Sy het hierdie prys ontvang vir haar vertolking van Ngenani gekomponeer deur S.B.P. Mnomiya.

RSG is elke jaar die media-vennoot van hierdie kompetisie, want die ontwikkeling van ons klassiekesangtalent lê vir ons baie na aan die hart.

Meer oor Noluvuyiso Mpofu
Noluvuyiso Mpofu (24) is in Port Elizabeth in die Oos-Kaap gebore. Sy het in opera begin belangstel toe sy nog op hoërskool was. Sy sing sedert 2009 in die koor van die Universiteit van Kaapstad se Operaskool se produksies.

Haar deursettingsvermoë en toewyding het haar in later jare verskeie hoofrolle besorg. Sy het onder andere die volgende sangrolle vertolk: Despina in Mozart se Cosí fan tutte, Rosina in Rossini se Il barbiere di Siviglia, Madame Cortese in Rossini se Il Viaggio a Reims, Lady with a Hand Mirror in Dominick Argento se Postcard from Morocco en Violetta in Verdi se La traviata.

In Opera Kaleidoscope sing sy Leila in ʼn uittreksel van Bizet se Pêrelvissers en in die Viva Verdi Galakonsert sing sy uittreksels uit I Lombardi as Giselda en uit Falstaff as Nannetta. Haar oratorio-optredes as solis sluit Beethoven se Simfonie no. 9 met die UK se Simfonieorkes in 2012 in, sowel as Haydn se Nelson-mis en Medelssohn se Lofgesang in 2013. In die laaste twee is sy deur die Kaapse Filharmoniese Orkes begelei.

Sy het in 2014 saam met die bekende operaster, Bryn Terfel, ʼn duet uit Donizetti se L’elisir d’amore saam met die Kaapse Filharmoniese Orkes gesing. Sy neem deel aan sangkompetisies landswyd en het onlangs ook aan twee internasionale sangkompetisies deelgeneem, naamlik die Belvedere Sangkompetisie waar sy deurgedring het tot die derde rondte in Amsterdam en Plácido Domingo se Operalia in Londen waar sy ʼn derde plek verower het.

Noluvuyiso doen tans die tweede jaar van haar Nagraadse Diploma in Opera by die Suid-Afrikaanse Kollege vir Musiek aan die Universiteit van Kaapstad.  Sy studeer onder mnr. Patrick Tikolo en prof. Kamal Khan. Sy is vanjaar toegelaat tot die Kaapstadse Opera Voice of the Nation Studio, ʼn intensiewe opleidingsprogram wat ontwerp is om die kunsvolle ontwikkeling van sangers te ondersteun.

In September 2015 is Noluvuyiso as die algehele wenner van die ATKV-Muziqanto klassiekesangkompetisie aangewys.