Kerneels en Danie is ‘n formidabele musiekspan


Kerneels Breytenbach

Kerneels Breytenbach

Van Oppikoppi tot anderkant Elvis verby, Maandagaande, 21:10 tot 22:00

Kerneels Breytenbach en Danie Marais is twee rock- en popverslaafde musiekmissionarisse uit twee generasies.

Danie is al meer as ’n dekade Beeld en Die Burger se rock-skrywer, maar hy het groot geword met Kerneels se musiekresensies in Huisgenoot en die koerant. Een van die eerste plate wat hy met sy eie sakgeld in standerd 5 gekoop het, was Bruce Springsteen se Born in the USA – op aanbeveling van einste Kerneels.

Luister na die promo vir die program:

 

Dié twee se paaie het sedertdien in die boekbedryf gekruis, maar dis gewoonlik musiek waaroor hulle gesels en nou is hulle vuur en vlam om Maandagaande saam die rock- en pop-spore te sny wat loop van nou en Oppikoppi tot anderkant Elvis verby.

Danie Marais

Danie Marais

Die konsep is eenvoudig: Elke program begin met ’n snit of twee van ’n onlangse album waaroor albei opgewonde is en vandaar verken hulle die invloede en temas wat soos ’n rivierdelta na die diep blou see toe loop; daardie musikale oersop waaruit al die ou blues-legendes en folk-troebadoere te voorskyn gekom het.

Só kom jy maklik van kontemporêre ikone soos Jack White via Led Zeppelin tot by Robert Johnson en daai mitiese kruispad in ou Mississippi. Begin by ’n nuwe Bob Dylan-album en binnekort is jy Sinatra langs by Cat Power, Jim Morrison en Nina Simone verby tot in die honky tonks waar Hank Williams uitgegooi is.

Danie Marais

Danie Marais

Na watter genre, kunstenaars en eras die spore gaan lei, sal nooit aanvanklik duidelik wees nie, maar een ding kan jy seker weet: Jy gaan heelpad van die beste musiek hoor wat die meeste radiostasies nooit speel nie.