Jong instrumentalis wen klassiekemusiekompetisie


Tydens ’n glansgeleentheid in Bloemfontein op Saterdagaand 1 Augustus is klarinetspeler Junnan Sun aangewys as die algehele wenner van die nasionale instrumentale klassiekemusiekkompetisie, ATKV-Muziq.

Junnan Sun (25) is tans die hoofklarinetspeler in die KwaZulu-Natal Filharmoniese Orkes.

muziq3

Die briljante Junnun Sun

Junnan het die algehele eersteprys van R50000 ontvang, sowel as die Houtblaaskategorieprys van R10000,asook het Junnan die prys vir die Beste Vertolking van ‘n Barok of Klassieke werk tydens die Finale Ronde ontvang. Laasgenoemde prys ter waarde van R7500 is aan hom toegeken vir sy vertolking van Mozart se Concerto vir Klarinet in A majeur KV622 – III Rondo.

Vanjaar is vir die eerste keer in die geskiedenis van ATKV-Muziq ’n tweede en derde plek aangewys. Pianis, Megan-Geoffrey Prins het die tweede plek verower en het R20000 ontvang. Dylan Tabisher(marimba) het R10000 ontvang as algehele derde plek in Muziq 2015.

Jong volwasse musici vanoor die hele Suider-Afrika is in Mei vanjaar genooi om tydens die eerste ronde teen mekaar mee te ding in verskeie kategorieë, naamlik orrel, klavier, strykinstrumente, blaasinstrumente (hout en koperblaas), enander instrumente.

Uit hierdie groep deelnemers is die beste een en twintig musici gekies wat aan die tweede en derde (finale) rondes in Bloemfontein die afgelope paar dae deelgeneem het. Na afloop van die tweede ronde is die top ses kandidate aangewys as finaliste. Naas Junnan Sun, Megan-Geoffrey Prins en Dylan Tabisher, was David Bester (viool), Maja van Dyk (altviool) en Amy Stessl (fluit) ook finaliste.

Daar is ook kategoriewenners aan die einde van die tweede ronde aangewys wat nie noodwendig tydens die finale ronde opgetree het nie. Hulle was:
Klavier: Megan-Geoffrey Prins
Orrel: Marnus Greyling
Strykers: David Bester (viool)
Koperblasers: Ryan Kierman (tromboon)
Houtblasers: Junnan Sun (klarinet)
Ander instrumente: Dylan Tabisher (marimba)

Elke kategoriewenner het R10000 ontvang.

’n Bonusprys van R7500 word jaarlik toegeken vir die beste vertolking van ’n Suid-Afrikaanse werk tydens die tweede ronde van hierdie kompetisie. Megan Geoffrey-Prins het vir sy vertolking van P Klatzow se Night Sky, Distant Waters vanjaar hierdie prys ontvang.

ATKV-Muziq is Suid-Afrika se grootste en mees toonaangewende klassiekemusiekkompetisies en RSG is die trotse amptelike mediavennoot.