Korreltjie Kantel, die CD nou op rak


Korreltjie Kantel, die CD, is ‘n uitvloeisel van die RSG Op die Lug Kunstefees 2015, waar die produksie onder leiding van Johan Rademan, groot luisteraarsreaksie uitgelok het.

Hoe is die projek aangepak, hoekom Ingrid Jonker, hoekom daardie spesifieke kunstenaars, het ons Luna Paige  (foto links) gevra. Sy skryf self:

“Dit was lekker om te werk met musikante wat Ingrid se gedigte vir ‘n eerste keer ontdek het. Twee van die kunstenaars is Engels, maar danksy hul familiegeskiedenis goed tweetalig. Hulle het wel nie Ingrid se werk goed geken nie. Die nuwe ontdekking – in samehang met elkeen van hulle se unieke musikale agtergrond en -klank – het gelei tot ‘n verfrissende aanslag en interpretasie van Ingrid Jonker se werk.

Ek het elke kunstenaar gevra om haar gedigte te lees, om Vlam in die Sneeu te lees en om werklik indiepte in (wat bekend is van) haar psige en verhaal in te klim. Elkeen van ons het huistoe gegaan en op ‘n manier onsself binne in dit alles gaan soek en musiek tot haar werk gesit. In sommige gevalle het ons ons eie lirieke geïnkorporeer – ‘n tipe intertekstuele aanslag / droom van hoe ons graag sou wou hê dinge moes wees of nie moes wees nie.

Nick, Luna en Jaimie

Juwele van jou oë is my vertelling van die ooreenkomste tussen Ingrid en André se verhouding en die boek, “Die Ambassadeur” wat Brink geskryf het (en waarby Ingrid as onoffisiële medewerker betrokke was). Nick se liedjie “Kanniedood” is in reaksie op die hoofstuk oor Ingrid Jonker in Brink se biografie, Vurk in die Pad.

Jamie het haar gedig “Fragment” sy eie gemaak en sy eie idees en lirieke daarby geinkorporeer.

Brink se vrou, Karina Brink, het my baie gehelp en verwys na Brink se gedigte wat gepubliseer was in die tye wat hy en Ingrid in ‘n verhouding was. Sy het die impak van hul verhouding op sy menswees en literere werk met my bespreek en ek is innig dankbaar vir die tyd en passie vir haar man en sy verlede – wat sy met my gedeel het. Sy is ook – ‘n spesiale vrou.

Ek, Nick en Jamie het baie organies gewerk met die materiaal en ons wou graag die dualiteit van haar geaardheid en die liefdesverhouding uitbeeld in die CD. Hulle was ernstig, intens, speels, komies, kinderlik en ook uiters filosofies in hul liefde…en beslis hul tyd vooruit. Ons het probeer om al hierdie fasette in die musiek uit te beeld en vas te vang. Ek glo ons het daarin geslaag.

Jurgen von Wechmar van Sunset Studios (by wie ons die CD opgeneem het), het ook wonderlike musikale idees bygedra en ons is hom baie dank verskuldig.

Hoekom Ingrid? Omdat sy tydloos is. Omdat sy oor en oor ontdek kan word en omdat mense, keer op keer kan identifiseer met haar, haar storie, haar ritme, haar vreugde en haar lyding.

 

 

 

.