Luister na ons nuwe Sondagoggend-koormusiekreeks


IMG_9636Jy kan nou  elke Sondagoggend 10:00 op RSG luister na Die klanke van ons kultuur, ‘n programreeks waarin koorsang as ‘n uitdrukkingstaal vir ons kultuur gevier word. Die reeks word aangebied deur René Arendse. (foto). Deur middel van koorsang geniet ons die samesyn van mense, klanke en hul stories. In die reeks word onder meer gefokus op die opvoedkundige waarde van koorsang o.a. die unieke toeganklikheid van koorsang asook die veelkleurigheid van ons Afrika tale. Ons kuier by plaaslike kore van Kaapstad tot in Soweto. Ons volkswysies en tradisionele liedjies word in verskeidenheid uitgevoer en veral koorwerke van ons eie Suid-Afrikaanse komponiste word verken.

Verskillende koortipes word uitgewys en ook hoe repertorium keuses aangepas word n.a.v. koortipes en stemomvang. Ons kuier by verskeie samestellings van mannekore o.a. ‘n seunskoor , mannekoor en ook ‘n paar sanggroepe. ‘n Spesiale episode word gewy aan sanggroepe wat sekulêre musiek as hoofgenre beoefen. Hier word ons betower deur die sjarmante sanggroep Romanz , sluit aan by die Bala Broers wat hul sangloopbaan begin het as lede van die Drakensberg Seunskoor en sluit ons kuier af by die eg-Afrika sanggroep Ladysmith Black Mambazo. Ons wy ook een episode aan skoolkore.

Met ons keuse van ligtemusiek in koorsang geniet ons ‘n paar temaliedjies van animasie flieks wat beide jong en ou harte sal steel. Ons geniet ons Afrika-tale deur die koorsang van die Mzanzi Jeugkoor en die stories wat hulle vertel sedert hul stigting in 2003. Die Tygerberg Kinderkoor neem ons terug na ou treffers soos “Jantjie” en nog meer.

Onthou dus om elke Sondagoggend 10:00 in te skakel vir ons reeks oor koormusiek Die klanke van ons kultuur.

Die reeks duur van 3 April tot 26 Junie 2016.

Luister hier na ‘n klankgreep uit die reeks.