Oom Hannes Coetzee: Met lepel en snaar – ‘n dokumentêr


image-4Oom Hannes Coetzee het die verbeelding van menige Suid-Afrikaner  aangegryp met sy unieke optel-en-knyp kitaarspeelstyl. Hy het in Amerika selfs tipe van “meestersklasse’ aangebied by ‘n glykitaar samekoms. Die unieke lepel-en-snaar metode is ongekend in die wêreld. Wat min mense egter weet is dat hy ongeletterd is en nie kan lees of skryf nie.

Hy en sy vrou Sheila het 4 kinders aan die dood afgestaan, waarvan 3 vermoor is.

Sy susters en broer was baie jaloers op hom en hy is as die witbroodjie bestempel en deur hulle afgeknou.

Klink amper soos Bybelse tye, maar dit is ook uit hul geloof dat die paartjie in moeilike tye bymekaar kon bly – deur dik en dun.

Die lewensverhaal van oom Hannes Coetzee  word deernisvol saamgevat in ‘n dokumentere program op RSG o.l.v Johan Rademan wat hom tussen Herbertsdale en Stilbaai opgespoor het. Hy ontbloot sy lewensreis, op ‘n geleende kitaar, deur woord en musiek. Eensame lang ure as veeoppasser het hom gedryf om sy eie kitaartjie te bou en lepeltjie saam te neem veld toe. Sy broer Frans, wat intussen oorlede is, het hom oor sy voorbarigheid om te durf waag om sy eie speelstyl as jong kind te ontwikkel amper aangerand en sy ma moes tot sy redding kom.

image-3Die harde ongenaakbare omstandighede van veewagter na aalwyntapper in die Bitou het gelei tot die blootstelling en ontdekking van David Kramer se Karoo Kitaar Blues projek wat die vergete musikante van Suid-Afrika gaan opdiep en op die verhoog geplaas het. Die projek was ook die impetus vir Oom Hannes se besoek aan die VSA.

Momentele verering van mense vir wie die ‘dice’ verkeerd geval het. Die musiek tussen hulle het opgedroog. Ou vriende en hul musiek is dood en op 72-jarige ouderdom is Hannes Coetzee die laaste van ‘n geslag wat nooit ten volle erkenning gekry het vir die unieke aandeel wat hul tot die Suid-Afrikaanse musiek genre kon toevoeg nie.

Hannes Coetzee:Lepel en Snaar is ‘n  laaste poging van RSG om iets te verewig uit ‘n geslag plaaswerkers wat ontneem is van skoling en blootstelling omdat die swerwers bestaan so uitdagend was. Troostelose en droefgeestige werelde word dikwels opgehef deur kuns en musiek en dit was wat Hannes Coetzee gered het van totale vergeteldheid.

Oom Hannes Coetzee:Lepel en snaar sal jou hartsnare roer, Donderdagaand, 8 September om 20h00 op RSG.

Kyk na die kort video waar oom Hannes op sy kitaar speel met lepel en al.