Kaapse sopraan wen ATKV nasionale klassiekesangkompetisie

Kaapse sopraan wen ATKV nasionale klassiekesangkompetisie


Die jong Kaapse sopraan Palesa Malieloa (24) is op ’n glansgeleentheid by die Hugo Lambrechts Musieksentrum op Saterdagaand, 24 September aangewys as die algehele wenner van die nasionale klassiekesangkompetisie, ATKV-Muziqanto.

As algehele wenner het Palesa prysgeld ter waarde van R45 000 ontvang. Sy is tans ’n vryskutkunstenaar en neem sang by Hanna van Schalkwyk.

RSG is weer vanjaar die mediavennoot van hierdie kompetisie en is deur Wouter de Wet, aanbieder van Dis Opera, verteenwoordig. Alle foto’s is geneem deur Jean du Plessis.

Algehele wenner: Palesa Malieloa. Foto: Jean du Plessis

Algehele wenner: Palesa Malieloa. Foto: Jean du Plessis

_f7p3154Palesa en vier ander finaliste is aan die einde van die tweede ronde gekies om Saterdagaand ydens die finale ronde saam met die Kaapse Filharmoniese Orkes onder leiding van maestro Brandon Phillips op te tree.

Meer oor Palesa
Palesa kom van Kroonstad. Sy het haar BA in Musiek en sertifikaat in Musiek en die Gemeenskap in 2014 aan die Noordwes Universiteit se Musiekskool op die Potchefstroom-kampus verwerf. Sy het tydens haar studies aan die Noordwes Universiteit sangonderrig by dr. Conroy Cupido ontvang. Sy het tydens haar studies verskeie musiekbeurse en toekennings gewen.

Palesa het al aan verskeie sangkompetisies in die land deelgeneem en ook meesterklasse in Oberlin in die VSA bygewoon.

In 2015, het Palesa lid geword van die Studio by Kaapstad Opera. Sy studeer tans onder Hanna Van Schalkwyk by Hanna se private sang-ateljee in Kaapstad. Sy was onlangs deel van die operageselskap wat aan die Aix en Provence Fees in Frankryk deelgeneem het.

Sy het die volgende liedere en arias in die kompetisie gesing:

Tweede rondte: op klavier begelei deur Victor Tichart:

  • Das Rosenband, Opus 36 no.1 – R. Strauss (1864-1949)
  • Tiger! Wetze nur die Klauen from “Zaide” – W.A. Mozart (1756-1791)
  • Obéissons quand leur voix appelle from “Manon” – J. Massenet (1842-1912)
  • I am an African – P. Klatzow (1945-)

Finale rondte met die Kaapse Filharmoniese Orkes:

  • Mein Herr Marquis from “Die Fledermaus” – J. Strauss II (1825-1899)
  • Obéissons quand leur voix appelle from “Manon” – J. Massenet (1842-1912)

Die ander wenners

  • _f7p3051Tweede plek: Cecilia Rangwanasha (sopraan) het ’n algehele tweede plek ter waarde van R25 000 verower. ’n Prys van R6 000 is ook aan Cecilia toegeken vir die beste vertolking van ’n Suid-Afrikaanse werk tydens die tweede rondte van hierdie kompetisie. Sy het hierdie prys ontvang vir haar vertolking van Isithwanda Sam gekomponeer deur B.P.Tyamzashe.
  • _f7p3204Derde plek: S’Bongile Mntambo (sopraan) is as die derde plek-pryswenner aangewys en ontvang R15 000.

Só werk die kompetisie
ATKV-Muziq is die afgelope 15 jaar die ATKV se jaarlikse bydrae tot klassieke musiek in Suid-Afrika. Die ATKV het egter besluit om naas Muziq wat ’n instrumentale klassiekemusiekkompetisie is, sedert 2011 ’n splinternuwe bydrae te lewer tot die stimulering van sang in Suid-Afrika. Dit staan bekend as Muziqanto en is ’n nasionale klassiekesangkompetisie.

Die eerste ronde het gedurende Mei vanjaar plaasgevind. Deelnemers moes tussen 18 en 35 jaar oud wees. Die tweede en finale ronde van ATKV-Muziqanto het die afgelope naweek in die Kaap plaasgevind. Slegs tien kandidate word landswyd gekies om aan hierdie ronde deel te neem.

’n Totale prysgeld van R91 000 is uitgeloof.

Die beoordelaars

Die beoordelaarspaneel vir hierdie twee rondes was:

  • nie-stemmende sameroeper Lize Thomas (Coetzer) wie al baie jare groot spore op verskeie sangvlakke in SA trap;
  • die bekende bas, Rouel Beukes;
  • die hoof van Universiteit KwaZulu-Natal se Operaskool, Lionel Mkwanazi;
  • en Jaunelle Celaire, sangdosent aan die Universiteit van Alaska se Fairbanks-kampus in die VSA.