CD-bekendstelling op RSG: Steffi le Roux is nuwe stem in Afrikaanse musiek


5vKOWh8g

Steffie le Roux is van ‘n nuwe geslag sangeres-liedjieskrywers wat uit die staanspoor met ‘n tydloosheid imponeer. RSG het haar debuut CD Vertel My einde Mei regstreeks in Tjailatyd op RSG bekendgestel.

Hierdie bekendstelling is deel van RSG se strategie om nuwe, gehalte Afrikaanse musiek te bevorder. En het hierdie nuweling en haar musiek nie reaksie uitgelok nie!! Nou wonder van julle seker maar waar kom RSG aan Steffie, ons ken haar dan nie?

Wel, RSG-luisteraars kon haar die eerste keer hoor tydens die RSG Kunstefees 2015. Met haar sang en unieke komposisies wat sy saam met die akteur en voorleser Paul Eilers deel van Chriskras – ‘n woordkunsprogram saamgestel uit die rubrieke van wyle Chris Barnard, afgewissel met oorspronklike musieke en sang. Dié produksie was deel van die KKNK 2015, waar Kobus Burger, RSG se uitvoerende regisseur: drama, dit gesien en na die RSG Kunstefees genooi het.

Só het sy op Oudtshoorn geklink:

Kobus onthou hoe ‘n luisteraar na die regstreekse Chriskras-konsert in die M1-ouditorium tydens die RSG Kunstefees hom aan die arm gegryp het en opgewonde wou weet: hoekom weet ons nie van Steffie le Roux nie?

Sy antwoord was dat dit juis die doel van die RSG Kunstefees is om nuwe kunstenaars aan die luisteraars bekend te stel.

RSG is oorval met sms’s, e-posse en versoeke om meer van Steffie en haar musiek te hoor. En natuurlik wou almal haar CD koop.

Luisteraars het na die uitsending van Chriskras al gesê Steffie en haar stem herinner hulle aan Laurika Rauch en Amanda Strydom.

Ander sê nou hulle hoor ook spore van Anna Davel en Lize Beekman…

Steffie by Amore Bekker toe haar CD op Tjailatyd bekend gestel is.

Steffie by Amore Bekker toe haar CD op Tjailatyd bekend gestel is.