Wouter ontmoet Jonas Kauffmann!


Wouter de Wet, sjarmante en gewilde aanbieder van Dis Opera Sondagaande op RSG, het pas teruggekeer van Salzburg, Oostenryk waar hy die jaarlikse Osterfest (Paasfees) bygewoon het. Dis ‘n wonderlike opera- en musiekfees wat in 1967 deur die beroemde dirigent Herbert von Karajan in die lewe geroep is. Die fees sluit altyd ‘n nuwe produksie van ‘n opera in, ‘n koorkonsert, twee simfoniekonserte en verskeie konserte van kamermusiek.

Jonas Kauffmann (regs) saam met Wouter de Wet (links) voor 'n groot plakkaat om sy optredes te adverterteer.

Jonas Kauffmann (regs) saam met Wouter de Wet (links) by die Salzburg Festspielhaus voor ‘n groot plakkaat om sy optredes te adverterteer.

Vir Wouter was dit die verwesenliking van ‘n droom – om die beroende musiekfees in die skilderagtige Salzburg saam met musiekliefhebbers vanoor die ganse wêreld by te woon – en om sy gunsteling-tenoor, Jonas Kauffmann, te hoor sing. “Vir dié wat nie weet nie,” verduidelik hy, “Kauffmann is die grootste tenoor wat deesdae oral optree. Die Koning van Tenore word hy genoem. Hy vervul nou die plekkie in my hart wat Luciano Pavarotti dertig jaar gelede beklee het!”

En, vertel hy, toe hy op Goeie Vrydag by die beroemde Festspielhaus aankom om na Kauffmann en Kie in die Requiem van Verdi te luister, vra hy ‘n vriend om ‘n foto van hom te neem voor ‘n groot plakkaat met die Salzburg-kunstenaars se foto’s daarop. Uit die hoekie van sy oog sien hy iemand haastig aangestap kom…die einste Jonas Kaufmann! Op pad na die kunstenaarsingang van die operahuis.

Uitasem van opgewondenheid vra hy toe die tenoor of hy gou ‘n foto mag neem. “Ek’s eintlik ‘n bietjie haastig om te gaan regmaak vir die konsert”, was die antwoord. “Luister”, sê Wouter toe, “ek het al die pad van Johannesburg, Suid-Afrika gekom om vanaand na jou te luister. Net een foto, asseblief…”

Jonas Kauffman het toe baie vriendelik langs hom gaan staan en geposeer vir ‘n foto. En die Dis Opera-aanbieder se bekertjie het oorgeloop van vreugde!

Luister na die mooi tenoorstem van Kauffmann. Hier is ‘n snit van Das lied vom leben se Schrenk (Die lied van Schrenk se lewe) van Eduard Kunneke.