Die Concerto – Sondag-musiekreeks deur Zorada Temmingh


 Die Concerto

 Sondae 10:00

 Een van die grootste vertoonvensters vir instrumentale soliste van klassieke musiek, is tot vandag toe nog die Concerto. Hier meet ‘n solis sy musikale en tegniese vernuf teenoor die orkes, soms in samewerking, soms in kompetisie. Ons loop die pad van die concerto se ontwikkeling vanaf die 17de eeu tot vandag, langs hoofpaaie van ou bekendes soos Bach, Vivaldi, Mozart, Beethoven, Grieg, Tchaikovsky, Rachmaninof en Prokoffiev, tot afdraaipaadjies van minder bekende komponiste en sypaadjies van ons eie Suid-Afrikaanse komponiste en kunstenaars.

 

Kort Biografie: Zorada Temmingh
Zorada word beskou as een van SA se voorste orrel-improvisators, veral vir haar innoverende klankbaan-improvisasies vir stomfilms (The Hunchback of Notre Dame, The Four Horsemen of the Apocalypse, en The Phantom of the Opera). Vir haar grensverskuiwende bydrae tot Klassieke musiek is sy tydens die KKNK 2006 met ‘n spesiale Kanna vereer.

Sy is sedert 1986 orrelis van die Moedergemeente Stellenbosch. Sy tree landwyd op in produksies met orrel-improvisasies rondom spesifieke temas. Sy het reeds vyf CDs met orrel-improvisasies vrygestel. Internasionale optredes sluit in konsertreise na die VSA, Switzerland, België en Namibië.

As pianis vorm sy saam met Elna van der Merwe die Blondes, ‘n klavierduo wat klassieke sowel as ligte musiek verwerk in tweeklavierkeurspele. Hulle het reeds drie CDs vrygestel. Internasionale optredes sluit in Cadogen Hall in London, Israel, en Lesotho.

Episode #1 – 1 Januarie 2017
Barok Concerto Grosso
Die concerto in sy huidige vorm, het in die Barokperiode ontstaan. Die Concerto Grosso, anders as die solo-concerto, het uit ‘n hele aantal bewegings ontstaan.
So met die Kersmusiek nog in ons ore, is dit seker heel gepas dat ons die nuwe reeks oor die concerto begin met twee Kersfees-concerti uit die 17de eeu. Die ontstaan van die concerto grosso in die Barok word ondersoek, met Bach se Brandenburg-concerti en ander concerti grossi van Corelli, Torelli, Handel, Telemann en Vivaldi.

Episode #2 – 8 Januarie 2017
Barok Solo-concerto
Vivaldi se Vier Seisoene is die musiekwerk wat al die meeste kere deur die eeue deur musici verwerk is. Dis ook een van die bekendste komposisies van alle eeue. Maar hoeveel van ons weet van die gedigte wat Vivaldi self geskryf het om daarmee saam te gaan? Ons luister ook na ander solo-concerti van die vroeë 18de eeu van onder andere Handel van Halleluja-faam, Albinoni van Adagio-faam en Telemann van Tafelmusiekfaam.

Episode #3 – 15 Januarie 2017
Vroeë Klassiek
Om van “klassieke” musiek te praat, is nie dieselfde ding as om van musiek uit die “Klassieke” periode te praat nie. Wat is die verskil? En wie het geweet dat daar ‘n ander concerto is wat baie soos Mozart se Elvira Madigan klink? Met die oorgangstydperk tussen die Barok en die Klassiek was die 18de eeu in Europa maar ‘n woelige tyd. Ons gaan luister na concerti van oorgangskomponiste soos CPE Bach en Stamitz, en die vader van die Klassiek, Joseph Haydn.

 

Epos-adres: zorada@zorada.co.za