Die kwik styg: nuwe program oor klimaatsverandering


DIE KWIK STYG is RSG se nuwe radioreeks oor klimaatsverandering.

Die uitwerking van klimaatsverandering word oral gevoel, met verreikende gevolge. RSG begin eersdaags met ‘n nuwe reeks, Die Kwik Styg, waarin dié kwessie indringend bespreek sal word. Dié reeks is ‘n inisiatief van die Wes-Kaapse Departement van Landbou, wat dit ook vervaardig.

Kenners verwag dat minder water Suid-Afrika se voorland is wat voedselsekuriteit in gedrang sal bring. Aanbieder Lizma van Zyl gaan in die reeks met mense van regoor die spektrum gesels en kennerswenke inwin oor toepaslike maatreëls om Suid-Afrika meer veerkragtig te maak.

Droogtes en hittegolwe, swaarder reënval, meer kragtige storms, veranderende ekostelsels en nuwe en meer peste en siektes is maar net van die gevolge van aardverwarming. Meer as 70 persent van ons land word reeds as “dor” geklassifiseer en die landbousektor, wat die lewensaar van voedselproduksie is, gaan hard getref word. Stedelike gebiede gaan dit egter nie vryspring nie en die reuse variasie in klimaat sal streek-spesifieke beplanning en voorsorgmaatreëls benodig.

Een van die gaste op Die Kwik Styg, prof. Guy Midgley, hoof van die navorsingsgroep vir globale veranderingsbiologie in die US se departement Plant- en Dierkunde, sê klimaatsverandering se negatiewe impak kom nou wydverspreid voor en neem vinniger toe as wat verwag is. “Dit is belangrik dat ons beslissend en vining sal optree om kweekhuisgasvrystellings wêreldwyd te veminder.”

Die prentjie lyk donker, maar daar is altyd die spreekwoordelike lig aan die einde van die tonnel. Voorsorg, beplanning, integrasie en die vermoë om aan te pas sal, soos daar in Die Kwik Styg uitgelig sal word, ‘n beduidende bydrae lewer om te verseker dat Suid-Afrikaners hulle lewenskwaliteit behou.

Die reeks sal ook groot klem plaas op die verantwoordelikheid van elke landsburger. Soos Van Zyl in haar weeklikse groet opmerk: “Die aarde is kosbaar; kom ons bewaar dit.”

Die Kwik Styg is ‘n weeklikse program op RSG wat Vrydag 6 April afskop. Skakel gerus om 12h45 in.

DIE KWIK STYG EPISODE 1: WAT IS KLIMAATSVERANDERING?

In Episode 1 gesels ons oor wat “klimaatsverandering” nou eintlik is. Klimatoloog Dr. Peter Johnston verduidelik in die bekendstellingsprogram hoekom dit so noodsaaklik is dat daar regoor die wêreld saamgespan word om kweekhuisgasse – die vernaamste oorsaak van die aarde se veranderende klimaat – te verminder.

Dr Peter Johnston

 Kenners verwag dat die aarde teen die jaar 2100 tot vier grade warmer gaan wees. Dis die gevolg van klimaatsverandering wat in Episode 1 bespreek word.

Klimatoloog en navorser Dr. Peter Johnston verduidelik in die program wat se verwoestende uitwerking kweekhuisgasse in die atmosfeer het en wat die gevolge in die kort-, medium- en langtermyn gaan wees. Hy is nie optimisties dat kweekhuisgasse beduidend verlaag sal word nie en sê selfs al slaag ons daarin om dit wel te doen, die aarde se temperatuur nog vir sowat 50 jaar gaan styg voordat dit sal begin daal. Hy beklemtoon die noodsaaklikheid van internasionale samewerking om oplossing te vind.

Gewone Suid-Afrikaners laat hoor ook van hulle in die episode. Is hulle definisies van klimaatsverandering in die kol?

Skakel Vrydag 6 April kwart voor een die middag in om dié en baie ander antwoorde oor klimaatsverandering te kry.