Vyf van CapeNature se lekkerste blyplekke


Maak die meeste van jou besoek aan ‘n CapeNature reservaat deur te oornag in van hulle puik akkomodasie fasiliteite.  Daar is ‘n wye verskydenheid om van te kies maar hier is vyf wat ons oog gevang het:

1. Oudebosch Eko-kothuise

Kogelberg

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Waar: Kogelberg Natuurreservaat

Kogelberg Natuurreservaat word deur baie mense beskou as die mooiste van CapeNature se bewaringsgebiede. Hier is unieke en diverse fynbos te vinde wat bydra tot die reservaat se reputasie as die hart van die Kaapse Blommestreek. Die eko-kothuise bied besoekers asemrowende uitsigte oor die reservaat, ’n Wêrelderfenis-gebied. Elk van die vyf selfsorgkothuise het ruimte vir vier mense en het twee slaapkamers, een badkamer, een en suite-badkamer, en ‘n ruim kombuis, sit- en eetkamer.

Vir meer inligting: klik hier
Tariewe: R1 700 tot R2 300 per nag per kothuis.

 

2. Algeria- en Kliphuis-kampeerterrein

Algeria Cederberg

Waar: Cederberg Wildernis-gebied

CapeNature het twee kampeerterreine in die skouspelagtige omgewing van die Cederberg. Die eerste is geleë in die ou Algeria-bosboustasie, ‘n rustige omgewing aan die Rondegatrivier tussen lieflike ou dennebome. Dit het 48 kampplekke vir tente en karavane. Algeria bied ‘n verwelkomende lafenis teen die hetige son, met glashelder poele om in af te koel tydens die Cederberg se droë, warm somers.

Die Kliphuis-kampeerterrein lê in die noorde van die Cederberg-reservaat, in die Pakhuispas. Die 14 kampplekke lê langs die Kliphuis-rivier – ‘n verfrissende swemplek in die somer.

Vir meer inligting: klik hier
Tariewe: R300 – R370 per staanplek per nag vir Algeria, en R220 tot R275 per staanplek per nag vir Kliphuis.

 

3. Nuwe Eko-kothuise op Rocherpan

Rocherpan kothuise

Waar: Rocherpan Natuurreservaat

Rocherpan is ‘n kusnatuurreservaat wat wemel van voëls en kleurvolle blomme. Die reservaat, sowat 25 km noord van Velddrif aan die Weskus, bestaan hoofsaaklik uit ‘n seisoenale vleiland wat groot getalle voëls lok. Coot, Moorhen, Egret, en Shoveler, geleë net buite die vlei, is vier nuwe dubbelslaapkamer eko-kothuise by Rocherpan en bied perfekte voëluitkykpunte.

Elke kothuis het ‘n dubbelbed, twee enkelbeddens en ‘n futon en het plek vir ‘n maksimum van vyf volwassenes of ‘n gesin van ses, as daar twee kinders onder die ouderdom van 12 in die groep is. Beddegoed en handdoeke word voorsien.

Vir meer inligting: klik hier
Tariewe: R950 tot R1 250 per nag per kothuis.

4. Buffalo Vallei

Buffalo Valley

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Waar: Goukamma Natuurreservaat

Buffalo Valley is ‘n groot bewaringsgebied wat grens aan die rustige Goukamma-rivier. Buffalo Valley het drie ten volle toegeruste selfsorg-houthuisies en het slaapplek vir tussen vier en ses mense. Daar is verskeie staproetes in die omgewing waar jy die pragtige natuurskoon, voëllewe, en fynbos kan bewonder.

Vir meer inligting: klik hier
Tariewe: R600 tot R1 550 per nag per houthuisie.

 

5. Die Walvis-roete

Whale Trail

 

 

 

 

 

 

Waar: De Hoop Natuurreservaat

Die Walvis-roete bied ‘n onvergeetlike ervaring en neem jou deur een van die mees unieke en diverse natuurreservate in die Wes-Kaap. Dit strek oor 55 km van Potberg tot Koppie Alleen, met vyf oornagplekke (stappers oornag die eerste aand by Potberg voor die roete aangedurf word). Die ongerepte natuurskoon van die roete is onoortreflik en neem besoekers deur welige fynbos en bied ook ‘n pragtige uitsig oor die kus, sowel as uitstekende uitkykplekke vir die walvis-seisoen (Junie tot November).

Vir meer inligting: klik hier
Tariewe: R1 695 tot R2 195 per persoon wat die roete aanpak. Teen R520 ekstra sal jou bagasie vervoer word.

Onthou! Van 21-27 September kan jy CapeNature-reservate gratis besoek. Klik hier vir meer inligting.