Omroepers van toeka tot nou


Afrikaanse radio is 80 jaar op lug!

Ons saai vandeesmaand verskeie programme weer uit, wat ons in ons klankargief opgediep het. Die potgooie is beskikbaar by: http://rsg.co.za/potgooi-soek.asp?ProgramID=383

Kyk onder vir nog foto’s van enkele van die omroepers wie se stemme die afgelope 80 jaar op lug gehoor is.

Jan Cronjé en Esmé Euvrard, aanbieders van SÓ MAAK MENS, wat op Maandae, Woensdae en Vrydae tydens VROUERUBRIEK op RADIO SUID-AFRIKA uitgesaai is.

Die wêreld lyk en klink in 2017 beduidend anders as in 1937, toe Afrikaanse radio onstaan het. Tóé was kommunikasiemedia beperk. Die koms van radio in Afrikaans het luisteraars se interaksie met die wêreld verander. Nou is die keuse van media wat inlig, vermaak, kwaad maak, bly maak en bemagtig  sonder grense.

Maar radio…dié staan nog sterk te midde van alle veranderinge, veral Afrikaanse radio met seker dié lojaalste luisteraars. Jy hoef egter nie meer soos in die jare her voor die transistor te sit nie, jy kan rondbeweeg, letterlik die wêreld vol en RSG luister in jou radio, op jou selfoon, op die rekenaar, op apps, op die TV, potgooi en stroming. Jy kan ook RSG twiet, op facebook en instagram sit of aflaai en bêre vir wanneer jy tyd het om behoorlik te luister na van jou gunsteling inhoud.

Maar terug na die nimlike transistor en 1937 waar Afrikaanse radio begin het. Verskeie klein en private uitsaaiers het reeds vanaf Julie 1924 in Kaapstad, Durban en Johannesburg in Engels en Afrikaans uitgesaai. Dié klein stasies het egter geldelik noustrop getrek en in 1927 het ene I.W. Schlesinger almal in die African Broadcasting Company saamgesnoer. Hy was Afrikaans besonder goedgesind en Afrikaanse programme is toe reeds saans uitgesaai. Groot name in die Afrikaanse leefwêreld, onder wie ME Rothman, Anna Neethling-Pohl en WA de Klerk het toenemend oor die radio opgetree en Afrikaanse skrywers soos CM van den Heever, Eitemal en Boerneef het spesiaal vir dié medium begin skryf.

Op 1 Augustus 1936 het die SAUK, wat die African Broadcasting Services oorgeneem het, begin uitsaai met ‘n diens in Engels. Net meer as ‘n jaar later, op 27 Oktober 1937 is die Afrikaanse Diens van die SAUK bekendgestel. In dié tyd het die oorlogswolke in Europa begin saampak en Suid-Afrika het nie onaangeraak gebly deur die politieke woelinge nie. Die SAUK was gedurende die oorlog, van 1939 tot 1945, uiters versigtig oor wat uitgesaai is en versoekprogramme is ondermeer gestaak omdat die gevaar bestaan het dat gekodeerde boodskappe aan die vyand kon deurglip! Die SAUK was egter ook ‘n baanbreker tydens die oorlog, aangesien hy een van die eerste radiodienste was wat met ‘n mobiele eenheid nuus van die oorlogsfront uitgesaai het.

Nét ná die oorlog, op 24 Oktober 1945, het die Afrikaanse Diens met ‘n versoekprogram “U eie keuse” begin, wat vandag nog uitgesaai word en die oudste program op Suid-Afrikaanse radio is. Op 1 Januarie 1986 word die Afrikaanse en Engelse dienste vervang met twee nuwe dienste Radio Suid-Afrika en Radio South Africa. In dié tyd word die eerste advertensies ook tot talle luisteraars se ontsteltenis, op Afrikaanse radio uitgesaai. Vandag lewer advertensies op RSG ‘n beduidende bydrae tot die SAUK se koffers.

Die laaste deel van die 20ste eeu word gekenmerk deur verstommende ontwikkelings op die gebied van die tegnologie en in 1992 verander die stasie se naam na Afrikaans Stereo om die veranderde uitsaaiwyse te weerspieël. Die trefreël “radiosondergrense” kry nou ook vastrapplek en op 27 September om middernag, word dié trefreël die stasie se nuwe naam, kortweg RSG, ná ‘n herstrukturering van die SAUK se radiodienste.

Die tegnologie het vir Afrikaanse radio, RSG, verdere grensloosheid gebring. Luisteraars kan enige plek in die wêreld wees en luister…selfs op see, soos baie van ons luisteraars gereeld vanaf groot vragskepe en klein vissersbote uit op die see af laat weet.

Afrikaanse radio bied steeds vir skrywers en musici ‘n uitstalvenster vir hulle talent en hulle werk en bevorder so steeds die groeiende ontwikkeling van Afrikaanse kuns, wetenskap en kultuur. Lank, lank gelede het iemand gesê radio is die teater van die verbeelding. RSG verseker ‘n ervaring in 3D, in Afrikaans en sonder grense!

Jan Cronjé en Esmé Euvrard, aanbieders van SÓ MAAK MENS, wat op Maandae, Woensdae en Vrydae tydens VROUERUBRIEK op RADIO SUID-AFRIKA uitgesaai is.

Esmé Euvrard

Agter: Anna-Marié Muller en Margareth Webb
Voor: Monica Breed

Paul Eilers (regisseur), Siegfried Mynhardt (Vader) en Cobus Rousseau (Seun) in KLEINTEATER: DIE OOREENKOMS wat op Donderdag 22 Februarie 1990 op RADIO SUID-AFRIKA uitgesaai is.

Johan Rademan en die wenners van ‘n Marieneplakaatkompetisie tydens ‘n regstreekse uitsending van Robbeneiland af op die middagjeugprogram TEMPO.

Susan Kok en aanbieder Mari Visser in die JONGSPANATELJEE van RADIO SUID-AFRIKA met die inskrywings wat ontvang is vir die program se kompetisie.

Maretha Loubser , aanbieder van JONGSPANATELJEE, wat elke weeksdag om 15:00 op RADIO SUID-AFRIKA gehoor is.

– Rina Hugo in die kollig tydens ‘n gesprek met VROUERUBRIEK-aanbieder Anna-Marié Muller op 27 Februarie 1989.

Roelf Jacobs met Otterjasie, wat op SIEMBAMBA gehoor is.

Susan van Heerden

Wilna Mathee was jare lank een van die redakteurs by die aktualiteitsprogramme MONITOR en SPEKTRUM.

Johann Rossouw (filosoof) en Johann Botha, aanbieder van die filosofieprogram SPOOKSTASIE op Radio Sonder Grense

Henk Bierman

Johannes van der Walt, aanbieder van UIT VERGANGE SE DAE

Retief Uys

Mornay Pretorius

Kobus Rudolph, gereelde aanbieder van ATELJEE ‘86

Jurg Myburgh

Paul Eilers

Max du Preez, aanbieder van KLIP IN DIE BOS op AFRIKAANS STEREO

Frikkie Wallis (regisseur), Max du Preez (aanbieder) en Marius Oosthuizen (klankingenieur) van die gespreksprogram KLIP IN DIE BOS op AFRIKAANS STEREO

Niekie van den Berg van SÊ WIE?-faam by ‘n buite-uitsending

Evert Snyman en Dina Smit

Fonnie du Plooy in sy kantoor in Port Elizabeth

Die legendariese Nic Swanepoel

Die destydse Monitor en Spektrum-span: Agter – Norma Odendaal (aanbieder), Johan Kriek (uitvoerende regisseur), een van die gaste op die program en Ester Swart (Afrikaans Stereo RSG Bemarking) Voor – Magdaleen Krüger (redakteur)

Terrance April (programbestuurder) in die RSG-karavaan saam met musikant Mynie Grové

Marius Oosthuizen (klankingenieur), Tharien Oosthuizen (musiekopsteller) en Daniel Hugo (omroeper) by Sterre 2000 in 1997

Sarel Myburgh, voormalige stasiebestuurder van RSG

Dr. Anton Prinsloo, taalghoeroe en omroeper

Norma Odendaal, Sarel Myburgh en Mari Cronjé

Fonnie du Plooy by ‘n buite-uitsending

Johann Botha, aanbieder van Temp0, Dis Opera, Botha Blues en Spookstasie

Martin Jansen, Frans van Rensburg, Norma Odendaal, Anton Smit, Dina Smith, André Coetzee, Johann Russouw, Evert Snyman en Thinus de Villiers