8 SAUK joernaliste (wagtend op tugverhore) vereer vir integriteit


Agt SAUK-joernaliste is met die gesogte Nat Nakasa-toekenning vir joernalistieke integriteit vereer.

Die Suid-Afrikaanse Nasionale Redakteursforum, Sanef, sê die joernaliste – waaronder RSG se uitvoerende regisseur, Foeta Krige, en redakteur, Suna Venter – verdien die hoogste lof vir hul vreeslose strewe na persvryheid. Krige en Venter deel die toekenning met Thandeka Gqubule, Busi Ntuli, Jacques Steenkamp, Krivani Pillay, Lukhanyo Calata en Vuyo Mvoko.

Die pryswenners is almal deur die SAUK voor tugverhore gedaag nadat hulle oor beweerde sensuur kapsie gemaak het.

Van links is Krivani Pillay, Busi Ntuli, Thandeka Gqubele, Suna Venter, Lukhanyo Calata en Jacques Steenkamp.

Van links is Krivani Pillay, Busi Ntuli, Thandeka Gqubele, Suna Venter, Lukhanyo Calata en Jacques Steenkamp.

Die Nat Nakasa-toekenning vir media-integriteit word beskou as Afrika se grootste joernalistieke prys. Dit is ter nagedagtenis aan die joernalis Nat Nakasa, wat in 1965 op 28 selfdood gepleeg het nadat hy weens apartheidswette na die VSA moes vlug.

Oud-regter Dikgang Moseneke het tydens die oorhandiging gesê joernaliste is nie net blote waarnemers en geskiedskrywers nie, maar ook aktiviste in eie reg.