NUUS: Vlugtelingbeheer; Zuma-vliegtuig; IAAF…


10 November
Beheer van vlugteling-instroming na SA beplan: Die regering gaan die bekragtiging van die Verenigde Nasies se Konvensie oor vlugtelinge, asook wetgewing in die verband, hersien. Die minister in die presidensie, Jeff Radebe, het aan die parlementêre ad hoc komitee gesê die interministeriële komitee wat die oorsaak van geweld teen buitelanders ondersoek het, het bevind dat die sosio-ekonomiese impak van die immigrante die hoofoorsaak van geweld is. Radebe sê die aanvalle is as gevolg van die frustasie van plaaslike inwoners wat voortspruit uit die impak wat die buitelanders op die maatskaplike ondersteuningstelsel het. Dit sluit in mededinging vir werkgeleenthede. Die sake-praktyke van sommige buitelanders word ook bevraagteken. Die komitee het bevind dat in sommige gevalle Suid-Afrikaners uit sake-geleenthede gedruk word weens die monopolistiese gedrag van buitelanders.

Zuma se R4 miljard vliegtuig: Die hoof van die lugmag, luitenant-generaal Zimpande Msimang sê die Lugmag het die verantwoordelikheid om interkontinentale vervoer vir lede van die Suid-Afrikaanse regering te verskaf. Hy het op ‘n nuuskonferensie in Pretoria beklemtoon dat die huidige vloot nie voldoende is nie. Die nuuskonferensie volg op skerp kritiek teen die lugmag se besluit om ‘nuwe straler vir president Jacob Zuma aan te koop. Die vliegtuig kan tot vier miljard rand kos.

Nuutste oor atletiek-skandaal: Die hoof van wêreldatletiek, Sebastian Coe sê indien die Russiese atletiekfederasie, Araf, nie teen Vrydag reageer op bewerings dat die liggaam betrokke was by die verskaffing van verbodemiddels aan atlete nie, hulle aanstaande jaar uit die Olimpiese Spele geskors sal word. Die onafhanklike kommissie van die Wêreldagentskap teen Opkikkers het aanbeveel dat Rusland uit atletiek geskop word hangende ‘n ondersoek na die bewerings. Rusland se minister van sport het intussen gesê om sy land uit atletiek te skors is nie ‘n manier om korrupsie in atletiek uit te wis nie. (Lees meer hieroor onder.)

Reuse dinosaurus se fossielbeen in Karoo gevind: Navorsers by die Universiteit van die Witwatersrand maak vandag die bestaan van ‘n dinosourus se dybeen bekend wat 200 miljoen jaar oud is. Die been is dié van die sogenaamde Hoogland Reus wat tien ton geweeg het. Volgens die universiteit is dit die grootste dier wat ooit in die Karoo geleef het. Die Instituut van Evolusionêre Navorsing sal ook ander ontdekkings van vroeëre dinosourusse bekendstel.

9 November 2015

IAAF en Russiese korrupsie met opkikker-toetse: Die onafhanklike kommissie wat deur die Wêreldagentskap teen Opkikkers – Wada – aangestel is, het aanbeveel dat die Russiese Atletiekfederasie uit die sport verbied word na wydverspreide opkikkerskandale en grootskaalse geknoeiery. Die kommissie se verslag is in Geneve uitgereik waarin gesê word dat sistemiese tekortkominge die werkinge van ‘n doeltreffende program teen opkikkers, kniehalter. Indien die verbod teen Russiese atlete deur die Internasionale Vereniging van Atletiekfederasies aanvaar word sal dit beteken dat hulle nie aan byeenkomste soos die Olimpiese Spele of Europese Kampioenskappe mag deelneem nie. Russiese medaljewenners van die 2012 Olimpiese Spele in Londen, is onder die skuldiges wat nie uit atletiek geskors is nie omdat omkoopgeld betaal is. Daar word beweer dat die vorige hoof van die Internasionale Vereniging van Atletiekfederasies, Lamine Diack en die voormalige hoof wat verbode middels beveg, Gabriel Dolle omkoopgeld ontvang het.
Hier is die volledige verslag.
Lees meer oor die skandaal op BBC Sport.
Só het The Guardian berig oor die bekendmaking van die verslag vandag.
Hier is nog inlgting.

Hier is ‘n opsomming van die bevindings soos deur The Guardian geskryf:
Screen Shot 2015-11-09 at 6.06.00 PM

MTN se bedryfshoof bedank na Nigerië-debakel: Die selfoonoperateur, MTN sê die bedanking van sy bedryfshoof, Sifiso Dabengwa moet nie as ‘n skulderkenning beskou word nie. Die maatskappy is deur Nigerië met meer as 70-miljard rand beboet nadat hy nie een komma een miljoen ongeregistreerde Sim-kaarte gedeaktiveer nie. Die hoof van korporatiewe sake, Chris Maroleng sê MTN voer nog gesprekke met die Nigeriese owerhede oor die boete. Die maatskappy se nie-uitvoerende voorsitter, Phuthuma Nhleko sal in Dabengwa se pos waarneem.

Telkom en Cell C in gesprek: Suid-Afrika se grootste vastelyn-netwerkoperateur – Telkom – het vir die eerste keer bevestig dat hy samesprekings voer oor die moontlike verkryging van die selfoonoperateur, Cell C. Dit volg nadat Telkom ‘n omsigtigheidswaarskuwing aan sy aandeelhouers gerig het. Berigte doen reeds geruime tyd die ronde van ‘n moontlike ooreenkoms tussen Telkom en Cell C. Saoedi-Arabië se Oger Telecom is die grootste aandeelhouer in Cell C, met 75-persent aandeelhouding.

Kategorieë