Nuus 10 Februarie 2016


Nuus 10 Februarie 2016:

Malema en die Guptas: Die leier van die EFF, Julius Malema sê sy party gaan appelleer teen gister se hofuitspraak waarin die Pretoriase Hooggeregshof ‘n interdik aan die Gupta-familie en hul sake-entiteite toegestaan het. Die Guptas het ‘n dringende aansoek gebring waarin hulle vra dat die EFF hulle weerhou van enige dreigemente teen die familie en hul werknemers. In sy uitspraak het regter Johan Louw gesê hy sal later redes verskaf. Malema sê terwyl hulle die hof se uitspraak respekteer, is hulle vasberade om die Guptas die land uit die dryf. Malema het verlede week gesê hy kan nie die veiligheid van enige joernalis wat vir ANN7 of enige ander Gupta-beheerde mediamaatskappy by EFF-geleenthede, waarborg nie.

3 Mynwerkers nog nie gevind: Die soektog na die drie mynwerkers wat steeds ondergronds vasgekeer is in Vantage Goldfields se Lily-goudmyn in Barberton in Mpumalanga, duur voort. Dit is dag ses van die reddingspoging. Kerkleiers, verteenwoordigers van die provinsiale regering en gemeenskapsleiers ondersteun die families op die toneel. Die mynwerkers word sedert Vrydag vermis toe ‘n vraghouer waarin hulle gewerk het, by ‘n mynskag afgeval het. Die houer is bedek met puin. Reddingspanne het vroeër die week geluide gehoor van waar hulle glo die vraghouer is. Die vasgekeerdes is blykbaar twee mans en ‘n vrou.

Internasionale nuus

Hilary Clinton verloor: Hillary Clinton het haar mededinger om as presidentskandidaat van die Demokratiese Party benoem te word, Bernie Sanders, gelukgewens. Dit volg nadat hy die meeste stemme ontvang het in die Amerikaanse staat New Hampshire. Donald Trump het die meeste stemme van Republikeinse kiesers ontvang. Clinton se veldtog span sê egter dit sal eers aanstaande maand duidelik word wie die voorloper is, nadat nog state gestem het. Sanders sê sy ondersteuners het ‘n duidelike boodskap aan die res van Amerika gestuur.

 

Kategorieë