Nuus: Begroting 2016; Onteieningswet…


President Jacob Zuma sê alles is gereed vir die begroting wat vanmiddag deur die minister van Finansies, Pravin Gordhan in die Parlement gelewer word. Hy het met Gordhan en die adjunk-minister van finansies, Mcebisi Jonas, vergader om die finale begroting te bespreek. Die president sê dit was ‘n moeilike jaar en tydperk – wêreldwyd en plaaslik vanweë die ekonomiese insinking. Hy sê die begroting wat voorgelê sal word is goed vir die land en die ekonomie.

Luister van 14:00 na die regstreekse uitsending en bespreking van die begroting.

Die Minister van Finansies, Pravin Gordhan, sal vandag ‘n begroting lewer wat allerweë beskou word as die moeilikste sedert 1994. Gordhan is onder druk om die bykans onmoontlike te vermag, sodat die land nie tot rommelstatus afgegradeer word nie. Daar word verwag dat hy skerp inkortings aan staatsbesteding sal aankondig, en belasting sal verhoog om die betalingsbalans te verminder. President Jacob Zuma het na ‘n gesprek met Gordhan voor die begroting gesê die begroting wat aangebied gaan word, is goed vir die land en die ekonomie.

Die SAUK sê hy sal die ná-begrotingsontbyt met die Minister van Finansies, Pravin Gordhan, môre-oggend uitsaai. Dit volg na ‘n artikel in die Sunday Times waarin gesê is dat die begrotingsontbyt slegs deur ‘n privaat uitsaaier uitgesaai sal word. Die SAUK sê sy waarnemende uitvoerende hoof, Jimi Matthews en bedryfshoof, Hlaudi Motsoeneng, het samesprekings met die Kantoor van die Minister van Finansies gevoer. ‘n Woordvoerder van die SAUK sê die ontbyt sal deur Gordhan bygewoon word en van halfsewe die oggend regstreeks op SABC Twee uitgesaai word.

Onteieningswetsontwerp: Die Onteieningswetsontwerp is deur die Nasionale Vergadering deurgevoer. Die DA, VF Plus en die UDM het die wetgewing teengestaan. Die maatreël maak voorsiening vir die onteiening van eiendom om grondhervorming te bespoedig. Opposisiepartye en ekonome het reeds gewaarsku dat die wetsontwerp beleggers sal afskrik en die DA sê dit is in stryd met die Grondwet. Die adjunkminister van Openbare Werke, Jeremy Cronin, sê die wetgewing sal ‘n duidelike raamwerk verskaf vir onteiening en billike vergoeding. Dit sal nou na die Nasionale Raad vir Provinsies gestuur word vir goedkeuring.

VSA-SA in- en uitvoere: Die regering sê Suid-Afrika en Amerika het alle onopgeloste kwessies wat betref die landbou-invoere van Amerika af opgelos. Die Minister van Telekommunikasie, Siyabonga Cwele, sê dit het nou die weg gebaan vir die voortsetting van die wet op Afrika Groei en Geleenthede vir Suid-Afrikaanse landbou-uitvoere na Amerika. Hy sê Suid-Afrika werk saam met die onderskeie rolspelers om die eerste skeepsvrag Amerikaanse pluimvee-invoere te bespoedig. President Barack Obama van Amerika het verlede maand aangekondig dat Suid-Afrika se landbouvoordele ingevolge Agoa van 15 Maart af opgeskort sal word indien belangrike ooreenkomste nie gefinaliseer word nie.

Homeopatiese medisyne: Homeopatiese medisyne het géén invloed op minstens 68 kliniese gesondheidstoestande nie. Dis die bevinding van ‘n omvattende studie deur die Australiese Nasionale Gesondheid- en Mediese Navorsingsraad. Boonop waarsku Duitse wetenskaplikes nou ook teen gesondheidsdienste en siekefondse wat homeopatie steun.

Kategorieë