Nuus: Zuma se Davos-herrie; Brande; Eskom…


Nuus 22 Januarie 2016

Zuma veroorsaak weer ‘n herrie – in Davos: ‘n Herrie het by die Wêreld Ekonomiese Forum losgebars ná president Jacob Zuma op die nippertjie van ‘n Afrika-debat onttrek het. Die hoof van die Wits-Universiteit se Skool vir Ekonomiese en Bestuurswetenskappe, prof. Jannie Rossouw, en ‘n politieke- en beleidspesialis by die Potchefstroomse Besigheidskool, Theo Venter, het Anita Visser en Ivor Price in die ateljee besoek.

Luister na die bespreking en kommentaar.

Brande in Wes-Kaap: Brandbestryders in die Kaapse Wynlandstreek is paraat om die verwoestende brand by Simonsberg en Elsenburg heeltemal geblus te kry. Spanne is op die toneel om enige smeuling te monitor voordat dit weer opvlam. Die brand duur al meer as drie dae en het sowat twee-duisend agt-honderd hektaar plantegroei verwoes.

Die brand by Simonsberg in die Wes-Kaap het na die Elsenburg-gebied versprei. Intussen sê die Brandbeskermings-vereniging meer as twee-duisend-hektaar veld is vernietig in die brand wat die afgelope drie dae oor Simonsberg woed. ‘n Kothuis is ook in die brand verwoes. Honderd brandbestryders, vyf helikopters en 15 brandweerwaens was daar om die brand te help blus.

Krag vir Afrika? Die Afrika Ontwikkelingsbank het ‘n multi-miljard rand inisiatief van stapel gestuur vir elektrisiteitsvoorsiening op die Afrika-vasteland. Die nuwe energie-ooreenkoms is by die Wêreld Ekonomiese Forum in Davos in Switserland bekend gemaak. Die bank sê die inisiatief het ten doel om energie te verskaf aan almal in Afrika teen 2025. Dit sal sowat 90-miljard Amerikaanse dollar per jaar kos. Finansiering sal bekom word van multi-laterale finansiële instansies en Afrika-regerings sal die tekorte aanvul.

Droogte: Vrystaatse boere sê hulle benodig sowat een miljoen ton voer om boerdery-bedrywighede voort te sit. Die Vrystaatse landbou-unie sê 66 persent van boere in die provinsie het dringend finansiële bystand nodig weens die uitwerking van die droogte.

Internetkabels stukkend: Onderbrekings in Internet-verbindings kom in Suid-Afrika voor na probleme in Egipte met die ondergrondse seekabel wat Europa met Suid-Afrika verbind. Die maatskappy, Seagram, wat die kabel bedryf, sê herstelwerk is aan die gang. Volgens die webwerf, TechCentral ondervind die Wes-Afrika kabelstelsel – wat die Kaapse Weskus met Londen verbind – ook tegniese probleme.

Renosterstropery stabiel, maar steeds hoog: Renosterstropery het vir die eerste keer in ‘n dekade begin stabiliseer. Die Minister van Omgewingsake, Edna Molewa sê duisend-175 renosters is verlede jaar gestroop wat 40 minder is as in 2014. Meer as 820 daarvan was in die Nasionale Krugerwildtuin. Molewa sê ingryping in die kwessie is besig om vrugte af te werp en die renosterbevolking, met negeduisend witrenosters in die wildtuin, is tans bestendig. Molewa het ook bekend gemaak dat 317 renosterstropers verlede jaar vasgetrek is. Dit is 258 meer as in 2014.

Eskom-tariewe verhoog: Eskom het intussen by ‘n openbare sitting van die Nasionale Energiereguleerder – Nersa – in Durban aangedui dat Suid-Afrikaners aanstaande jaar nog ‘n aansoek kan verwag vir ‘n bykomende kragtariefverhoging. Eskom se hoof finansiële beampte, Anoj Singh sê sulke aansoeke is internasionale praktyk, maar nuut vir Suid-Afrika. Hy sê daar word verwag dat maatskappye sal begin beplan vir sulke stygings. Eskom het vanjaar sowat 23-miljard rand nodig om sy boeke vir 2013/2014 te laat klop en sê dat dit hom meer gekos het vir kragopwekking in dié tydperk. Eskom-tariewe styg vanjaar reeds met agt-persent, maar Eskom doen aansoek vir nog agt-komma-ses-persent wat die uiteindelike verhoging op bykans 17-persent te staan sal bring.

Internasionale Nuus

Ysige winterstorm halt vlugte na NY: Die Suid-Afrikaanse Lugdiens het sy vlugte na Washington in Amerika gekanselleer waar ‘n ysige winterstorm sowat 76-miljoen mense gaan raak. Die SAL se vlugte na New York gaan in dié stadium steeds voort. Die storm is onderweg na die digbevolkte Ooskus waar swaar sneeu verwag word in Washington, New York, Philadelphia en Boston. Waarskuwings van hewige sneeu is uitgereik vir minstens 15 state, asook voorspellings van stormwind en oorstromings aan die kus. Die winterstorm genaamd Jonas, kan sneeu van sowat sewe-meter tot gevolg hê.

Nee vir steenkool in VSA: Sewe-en-twinting Amerikaanse state het die wind van voor gekry toe ‘n Federale Hof hulle pogings geweier het om die Obama-administrasie se strategie te keer om klimaatsverandering te takel. Die skoon-energieplan het ten doel om kweekhuisgasse van kragstasies binne 15 jaar met sowat ‘n derde te verminder. Die state het aangevoer dat die plan die steenkoolbedryf erg sal benadeel en energiekoste vir verbruikers sal opjaag.

Terreur in Somalië: Die Internasionale Sekerheidsministerie in Somalië het die dodetal in die aanvalle en twee motorbomontploffings in Mogadishu opwaarts aangepas. Die Ministerie het bevestig dat minstens 20 mense in gisteraand se aanval op die strandfront dood is. Al-Shabaab-militante het op restaurante toegeslaan en die twee ontploffings was ‘n uur uitmekaar. Volgens berigte het klante by die vensters van restaurante se boonste verdiepings uitgespring om van die aanvallers te vlug. Minstens vyf mans was by die aanvalle betrokke.

Terreur in Egipte: Minstens nege mense – onder wie ses polisiebeamptes – is dood in ‘n bomontploffing in Kaïro in Egipte. Dit het gebeur gedurende ‘n klopjag op ekstremiste se skuilplek. Meer as 13 mense is gewond, onder wie die plaaslike polisiehoof. Die voorval het gebeur toe lede van die bomeenheid op die skuilplek toegeslaan het waar bomme vervaardig word. Een van die polisiebeamptes was besig om ‘n bom onskadelik te stel toe dit ontplof het.

 

Kategorieë