Nuus: Droogte; Beurtkrag; ‘Fracking’; EU…


11 November 2015

Droogte-situasie: Die departement van Water en Sanitasie sal vandag die Portefeuljekomitee oor Water en Sanitasie oor die droogte in die land inlig. Die departement gaan na verwagting strategieë en beplande ingrypings bekend maak. Die land – en die landboubedryf in die besonder – staar ‘n toenemende waterkrisis in die gesig, met die krane wat in talle munisipaliteite leeg is. Die Minister van Water en Sanitasie, Nomvula Mokonyane het vroeër vandeesmaand gesê ‘n geraamde 6-duisend-500 landelike gemeenskappe – meestal in KwaZulu-Natal, Mpumalanga, Limpopo en Noordwes – ondervind waterskaarste. Sy sê dit kan tot elfduisend styg. Die minister waarsku dat die watervoorraad in verskeie probleemgebiede kritieke vlakke kan bereik. Die Johannesburgse Metro het Maandag fase-twee waterbeperkings begin instel.
Intussen het die portefeuljekomitee oor landbou en landelike ontwikkeling in KwaZulu-Natal het onderneem om boere finansieel by te staan wat deur die droogte geraak word. Die voorsitter van die komitee, Themba Mthembu sê die besluit is geneem tydens ‘n vergadering in Pietermaritzburg. Hy sê die presiese bedrag wat beskikbaar gestel gaan word en hoeveel individuele boere gaan ontvang, sal afhang van die skade wat hulle gely het. Mthembu sê boere kan hul plaaslike kantoor van landbou en landelike ontwikkeling vir meer inligting kontak.

Beurtkrag dalk vanaand: Eskom sê dit gaan goed met die geskeduleerde instandhoudingswerk aan Eenheid-2 van die Koeberg-kragstasie naby Kaapstad. Dié eenheid is op 31 Augustus afgeskakel vir roetine-aanvulling. Die kragvoorsiener sê die onderbreking is geskeduleer om teen die einde van Desember afgehandel te wees, maar dat spanne hard werk om vroeër klaar te kry. Dit duur omtrent ‘n week om ‘n kragstasie aan die gang te kry en weer aan die netwerk te koppel. Eskom sê ten spyte van die uiters warm omstandighede in talle dele van die land, kon hulle aan die aanvraag voldoen. Geen beurtkrag word vandag verwag nie, maar die kanse is groter vanaand.

Stap nader aan ‘fracking’ in Karoo: Die departement van omgewingsake en die Wetenskaplike en Nywerheidsnavorsingsraad het inwoners van Victoria-Wes in die Noord-Kaap ingelig oor die voorgestelde ontginning van skaliegas deur hidrobreking, ook bekend as fracking. Dit is deel van die openbare deelname-proses met gemeenskappe regdeur die Karoo wat deur die moontlike gasontginning geraak kan word. ‘n Woordvoerder van die departement, Albi Modise sê enige gasontginning moet nie die SKA-radioteleskoopprojek naby Carnavon in die omgewing beïnvloed nie. Hy sê biodiversiteit en waterbestuurplanne sal ook in ag geneem word. Modise beklemtoon dat die regering nie uiteindelik ‘n situasie soortgelyk aan die suurmynwater-krisis aan die Rand wil hê nie.

EU moet vernuwe: Europese leiers het begin reageer op eise deur die Britse eerste minister, David Cameron dat die Europese Unie vernuwing moet ondergaan. Hy het sy doelwitte uiteengesit voor ‘n referendum oor Brittanje se toekomstige lidmaatskap van die EU. ‘n Woordvoerder van die Europese Kommissie, Margaristis Schinas het sommige van die eise as hoogs problematies beskryf. Die Duitse kanselier, Angela Merkel sê egter sy sal alles in haar vermoë doen om Cameron te help om die hervormings deur te voer sodat Brittanje deel van die EU kan bly.

Mianmar-verkiesing: Die Mianmese verkiesingskommissie het aangekondig dat die aktiviste-opposisieleier, Aung San Suu Kyi ‘n parlementsetel in die land se historiese verkiesing gewen het. ‘n Wegholoorwinning word vir haar Nasionale Liga vir Demokrasie voorspel, wat die land sy beste kans nóg gee om die demokrasie te vergroot en die weermag se greep te verslap. Die verkiesinguitslae word binne ‘n paar dae verwag. Die weermag het die land vir ‘n halwe eeu tot 2011 regeer, toe dit hervormings begin aanvaar het. Suu Kyi het intussen samesprekings met die hoof van die weermag versoek.

Ander Nuus: IAAF; Zuma-straler en meer.

Kategorieë