Nuus: Gupta-inmening; Soedanese president; AGOA op dreef…


Nuus 15 Maart 2016

Nog Gupta-inmenging met Minister-aanstelling? Die voormalige voorsitter van die parlementêre portefeuljekomitee op openbare werke, Vytjie Mentor, het op FB beken dat die Guptas aan haar die amp as minister van openbare werke aangebied het.

ANC en Gupta-inmenging: Die ANC gaan na verwagting die naweek tydens sy nasionale uitvoerende komitee-vergadering die beweerde inmenging deur die Gupta-familie in kabinetsaanstellings bespreek. Dit volg ná bewerings dat die minister van Sport, Fikile Mbalula vóór sy aanstelling, deur die Gupta-familie ingelig is dat hy as minister aangestel gaan word. Die ANC het vroeër berigte ontken dat die adjunk-minister van Finansies, Mcebisi Jonas ook die pos as minister van Finansies aangebied is tydens ‘n vergadering met die Gupta-familie. Dit was twee weke voordat Nhlanhla Nene afgedank is. Die ANC-woordvoerder, Zizi Kodwa het bewerings ontken dat die Guptas die regerende party oorgeneem het. Kodwa sê die saak sal bespreek word sodat dié aantygings teen die party nie verder gevoer word nie.

Regering kry weer pak oor hulp aan Soedanese president: Die regering oorweeg die moontlikheid om die Hooggeregshof se beslissing oor die Soedanese president, Omar al-Basjir na die Konstitusionele hof te neem. Dit volg nadat die Appèlhof vanoggend beslis het dat die hooggeregshof korrek was deur sy uitspraak dat al Basjir in hegtenis geneem moes word toe hy die Afrika Unie beraad in Junie verlede jaar in Sandton bygewoon het. Die Appèlhof het beslis dat die regering onwettig opgetree het deur al-Basjir toe te laat om die land te verlaat. Dit is strydig met die Rome-Statuut waarvan Suid-Afrika ‘n ondertekenaar is. Die Departement van Justisie sê die regring sal die uitspraak bestudeer en dan bepaal of daar ‘n grondwetlike kwessie is wat na die Konstitusionele hof geneem moet word.

UK sal personeel moet aflê om geld te spaar: Die Universiteit van Kaapstad sê personeel sal moontlik in die volgende twee jaar afgelê moet word om geld te bespaar. Die vise-kanselier, Max Price sê in sy nuusbrief dit sal gedoen moet word vanweë toenemende probleme rakende die befondsing van hoër onderwys landwyd. Hy sê die universiteit sal ‘n minimum van R120 miljoen uit ‘n begroting van R2,6 miljard rand teen 2018 moet bespaar om ‘n ernstige begrotingstekort te vermy. Price sê ‘n reeks vergaderings met dekane van fakulteite en vakbonde is aan die gang om te verseker dat die proses deursigtig en regverdig is.

Motsoaledi kap Mbeki vigssienings: Die minister van Gesondheid, Aaron Motsoaledi sê MIV/VIGS het nie die erkenning gekry wat dit verdien het tydens oud-president Thabo Mbeki se ampstermyn nie. Hy het gereageer op Mbeki se briewe wat in die jongste tyd gepubliseer word. Motsoaledi sê daar het so ‘n stigma aan MIV-VIGS gekleef tydens Mbeki se bewind dat selfs dokters dit nie op doodsertifikate aangedui het nie. Hy sê dit het daartoe gelei dat dit as die negende grootste oorsaak van sterftes deur Statistieke SA aangedui is, terwyl dit die grootste oorsaak was.

Optog teen verkragting: Die Social Justice koalisie gaan vandag voort met ‘n optog in Khayelitsha op die Kaapse Vlakte waartydens hulle druk sal toepas vir meer polisiepatrollies in die gebied. Dit volg na die inhegtenisneming van twee verdagtes in verband met die moord op die 19-jarige Sinoxolo Mafevuka. Hulle verskyn vandag in die plaaslike landdroshof op aanklagte van verkragting en moord. Die koalisie sê hulle eis dat geregtigheid geskied vir Sinoxolo en ander slagoffers van geslagsgeweld. Die gemeenskap is ontsteld omdat die ondersoek na die moord eers begin het nadat die adjunkminister van polisie, Maggie Sotyu die gebied besoek het.

Internasionale nuus

SA/VSA AGOA ooreenkoms gaan voort: Die Amerikaanse president Barack Obama het amptelik Suid-Afrika se moontlike skorsing van die land se voordele onder die Amerikaans-Afrika vryehandelooreekoms teruggetrek. Obama sou vandag Suid-Afrika se handelsvoordele onder die AGOA ooreenkoms op uitvoere opgeskort het. Dit is beskou as strafmaatreël vir die beperking wat Suid-Afrika op die invoer van Amerikaanse bees- en varkvleis asook pluimvee geplaas het. Die Withuis sê in ‘n verklaring hy verwelkom die stappe wat die Suid-Afrikaanse regering die afgelope weke gedoen het om die Suid-Afrikaanse mark weer toeganklik vir Amerika te maak.

Groot hondetruie in Indië: Meer as 5 000 mense het in Indië opgedaag vir twee honde se troue. Die troue was ingevolge die Hindoe-tradisie en gaste kon volgens Asian News International weglê aan tradisionele Indiese kos. Die bruidegom het in ‘n kar oortrek met blomme opgedaag, en die bruid se mense-ma het tydens die troue trane gestort.

Bom in Berlyn: Die Berlynse polisie is op die toneel van ‘n motorbomontploffing in die stad. Volgens onbevestigde berigte is een persoon in die ontploffing dood. Lees meer.

Russe onttrek uit Sirië: Russiese staatsmedia het beeldmateriaal uitgesaai van dié land se vegvliegtuie wat lugmagbasisse in Sirië verlaat. Die Russiese departement van verdediging het vroeër gesê elke groep vliegtuie wat Sirië verlaat sal begelei word deur ‘n Tupolef-passasiersvliegtuig of ‘n Ilioesjin vragvliegtuig wat tegniese personeel en vrag sal vervoer. Die Russiese president Wladimir Poetin het gister in ‘n verrassende stap aangekondig dat die land sy militêre magte aan Sirië onttrek. Intussen duur vredesamesprekings vir ‘n tweede dag voort in pogings om die konflik in Sirië te beëindig.

Kategorieë